Ds Andrè van den Berg
“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” - Efes.6:4
In Efes.6 aanvaar Paulus dat daar kinders in die gemeente is. Kinders is ʼn gawe van God: “Kyk, seuns is ʼn erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ʼn beloning. Soos pyle in die hand van ʼn held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! (Ps.127:3,5).
Daarom begin Paulus hoofstuk ses met: “Kinders, julle moet julle ouers gehoorsaam wees, in die Here...” (6:1) Die woorde in die Here sê dat kinders van vroegs as moet weet dat dit goed is om in God se weë te wandel. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps.119:9).
Die doel van opvoeding is om eerbare, Godvresende kinders te kweek. Sulke kinders is juwele in sy koninkryk en ʼn sieraad vir elke gemeenskap.
En dis net moontlik indien ouers opreg met God is. Hierin speel vaders ʼn onvervangbare leiersrol. As die vadersfiguur verkeerd is, leer kinders baie moeilik God dien.Daarom begin die teksvers met die woord en. Paulus koppel vers 1 en 4 aan mekaar omdat die een nie los van die ander staan nie; goeie kinders het godvresende vaders en goeie vaders godvresende kinders. En dit wat van vaders gesê word, is net so waar vir moeders.
Die woord vertoorn staan in die Grieks in die teenwoordige imperatief geskryf en dui op ʼn verkeerde handeling wat oor en oor herhaal word. Niks berokken kinders groter skade as onverskillige ouer-opvoedings nie. As die vader nie priester in sy huis is nie, keer so ʼn huisgesin om. Net so min as wat ʼn mens heel eiers in ʼn omgekeerde nes kry, vind jy heel kinders in ʼn omgekeerde huis! En ʼn verkeerd opgevoede kind is ʼn verlore kind.
ʼn Mens dink hier aan Eli se twee seuns wat in die Bybel deugniete genoem word omdat Eli hulle nie getug het toe hulle oortree het nie. Ouers wat bang is om hul voet neer te sit, het gewoonlik kinders wat op hul tone trap. Ouers het soms brille nodig om te sien wat reg onder hul neuse aangaan
Paulus gee goeie raad: “.... maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” Die woord voed staan in Grieks in die positiewe imperatief en dui op gereelde voeding soos maaltye wat gereeld genuttig moet word. Tug en vermaning moet net soos maaltye nie agterwee gelaat word nie. Dit sal kinders wat eerbied vir hul ouers het, nooit opstandig maak nie.
Die doel van opvoeding is kennis; nie van feite nie, maar van lewenswaardes In hierdie opsig kan kinderopvoeding met ʼn aflosresies vergelyk word waar atlete aan dieselfde wedren deelneem en op sekere afstande die stokkie vir mekaar aangee. As die laaste persoon oor die wenstreep hardloop, wen die hele span; nie net die betrokke atleet nie. Hierdie stokkie verwissel ʼn paar keer van hande, maar aan die einde van die wedloop wen die hele span. Dis ook van kinderopvoeding waar. Ouers begin die wedloop en gee die stokkie wat hulle van hul ouers gekry het weer aan hulle kinders. Hierdie kinders doen later weer dieselfde met hulle kinders en so gaan dit aan.
In die OT lees ons van vaders wat hul seuns geseën. Daar is destyds baie klem op die seën van die eersgeborene gelê want so is familiewaardes, as die gees van ʼn familie, na die volgende geslagte oorgedra. Daarom was vaders die middelpunt waaromheen alles in ʼn gesin gedraai het.
Vandag raak vaders al hoe meer afwesig en neem moeders maar noodgedwonge die rol van vaders oor om gesinswaardes te behou. Vaders gee nie meer die stokkie aan nie. Gevolglik trek nie net verhoudings skeef nie, maar kring dit ook na alle ander lewensinstansies uit – skool, kerk en gemeenskap.
Wat dra ons aan ons kinders oor? Hoe lyk ons aangee-stokkie? Gen.25 vertel van Jakob wat lensiesop gekook en Esau wat sy eersgeboortereg daarvoor verkoop het. “Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene” (:34). Esau het nie verstaan dat hy ʼn eerbare stokkie moes aangee nie en ʼn duur prys vir sy onverskilligheid betaal! Eers nadat Isak vir Jakob in die plek van Esau geseën het, het Esau besef hoe belangrik hierdie stokkie werd was! Daarom pleit hy by sy pa: “ .... Het u vir my geen seën oorgehou nie?” (:36).
Watter seën dra ons aan ons kinders oor? Hoe lyk die stokkie wat ons aan hulle gaan oorgee? Die Bybel sê: Seën jou kinders. Hoe doen ʼn mens dit? Deur in ʼn gesonde verhouding met hulle te staan, sodat as hulle eendag daardie stokkie wat jy aangee, sal wil vat!
Ouers se eerste verantwoordelikheid is nie om kinders gelukkig te maak nie, maar om vir hulle ʼn goeie waardestelsel te leer. Kinders wil jou graag laat verstaan dat hulle groot is en die stokkie kan hanteer. En dan laat val hulle dit. Hou maar aan te gee; daar kom ʼn dag dat hulle dit nie sal laat val nie.
Leer jou seun van kleins af om waarlik man en jou dogter om waarlik vrou te wees. Daar is niks so lelik soos ʼn vrou wat ʼn man probeer wees of ʼn man wat ʼn vrou probeer wees nie. God het niemand so geskape nie.
Kinders is nie vir altyd in ons huis nie, maar tydelik aan ons geleen sodat ons as ouers vir hulle ʼn gesonde waardestelsel vir die lewe kan leer. Daarom hang die voorspoed van ʼn gemeenskap ten nouste van die gehalte van kinderopvoeding af. Ouers se lewens is die handboek waaruit kinders moet leer hoe om te leef. Kinders kyk na ons. Jy kan ʼn kind net op die regte pad lei as jy self daarop stap. As hulle nie in ons teleurgesteld is nie, sal ons nie eendag in hulle teleurgesteld wees nie.
Ons as ouers is soos ʼn Moses van ouds. Moses het nooit die beloofde land ingegaan nie; net sy kinders. Ouers berei hul kinders vir ʼn lewe voor wat hulle self nie gaan sien nie. Kinders is die lewende boodskappe wat ons die toekoms instuur vir ʼn tyd wat ons self nie gaan beleef nie. Daarom moet ons kinders betyds losmaak anders gaan hulle vir te lank van ons afhanklik wees en sal ons verplig wees om vir twee geslagte verantwoordelikheid te neem.
God help ouers om ʼn skoon stokkie aan te gee. ʼn Skoon bron het altyd skoon stroompies. Modderige bronne daarenteen vertroebel alle stroompies. As jy rook, gaan jou kinders waarskynlik ook rook. As jy jou aan drank vergryp, gaan hulle dit waarskynlik ook doen. As ouers gedurig baklei, gaan kinders dit ook eendag doen. Dis moeilik vir kinders goeie gewoontes aan te leer as hulle niks daarvan tuis sien nie. Lelike dinge wat in ouerhuise gebeur, word nie maklik daarbuite reggestel nie.
As jy egter ʼn Godvresende lewe lei, sal jou kinders soortgelyke lewens lei. ʼn Mens is soos ʼn aap – hy leer deur sy ouers dop te hou. Goeie sowel as slegte lewenswaardes word van die een geslag na die ander oorgedra. Ja, kinders wat verkeerd loop, word nie so gebore nie maar so grootgemaak!
Leer kinders dat menswees ook sy kwota emosies, spanning en teleurstellings het. Niemand is volmaak nie. Leer hulle van kleins af om hul harte aan Jesus te gee. ʼn Kind sal God baie makliker as sy hemelse Vader aanvaar indien hy iets van Hom in hul eie vader raaksien. Goeie ouers is padwysers na die hemel. En so van die hemel gepraat – ons kan niks op aarde saam met ons hemel-toe vat, behalwe ons kinders nie!
ʼn Mens hoor soms mense sê: “Ek wil alles wat my as kind ontbreek het, vir my kinders probeer gee”. Dit klink miskien goed. Maar pasop dat jy so besig raak om vir kinders stoflike dinge te gee wat jy as kind nie gehad het nie, dat jy vergeet om hulle die geestelike dinge wat jy wel gehad het te gee. Opvoeding het min waarde indien ouers nie tot kinders se harte deurdring nie
Dra groot sorg vir jou kinders. Ons skuld ons kinders baie meer as wat ons hulle ooit kan bied. Die wedloop van die lewe is vir ʼn godvresende gesin ʼn taai wedloop. As jy derhalwe God vrees en ʼn eerbare stokkie aangee, sal jou nageslag in goeie hande wees – God se hande!
Amen!