JY'T NET EEN LEWE...

...LEEF DIT REG!

Ds Andrè van den Berg

“ ʼn Psalm van Dawid.  HERE, wie mag vertoef in u tent?  Wie mag woon op u heilige berg?  Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen...” - Ps.15:1,2                                   

Om jou goed van ʼn taak te kwyt, moet jy reg te werk gaan.   Elke taak het ʼn opdrag en ʼn resultaat.  Hoe goed die opdrag uitgevoer word, bepaal dan ook die eindresultaat.   Niemand kry geseënde resultate van verkeerde optredes nie.

Dis ook in geestelike sin waar.  Die Bybel roep sondaars op om die regte dinge te doen omdat daar vir elke mens ʼn dag van rekenskap kom: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).

Ons het net een lewe om in reg te leef.  Daar is nie ʼn tweede kans indien ons sou verbrou nie.   Ons kan baie ander foute in die lewe herstel, maar nie die lewe self nie.   Daarvoor kry ons net een kans.  As dit verby is, is dit verby!

Een van ons gevierde digters het gesê: “Met die water wat verby is, sal jou meul  nooit weer maal nie en uit die assies van jou vuurherd sal jy geen gloed meer haal nie”. Ons is uurglas mense.  Nie een van ons weet hoeveel sandkorrels daar in ons glas oor is nie.  Ons reis almal na ʼn eindbestemming sonder om te weet wanneer ons daar gaan aankom!

In Ps.15 ontmoet ons ook reisigers.  Hulle is pelgrims wat van heinde en verre na Jerusalem gereis het om daar te aanbid.   Pelgrims was ʼn bekende gesig in hierdie indrukwekkende ou stad.  Baie van hulle het selfs so ver as uit Afrika gekom.   Dink aan Simon van Serene wat tydens die Paasfees in Jerusalem was en Jesus se kruis gedra het.  Dink ook aan die duisende mense (14 verskillende nasionaliteite) wat op Pinksterdag in die tempel was toe die Heilige Gees uitgestort is.

Jerusalem was deur die eeue en is tot vandag toe nog ʼn pelgrimstad.  Soos wat Mekka vir die Moslems is, is Jerusalem vir gelowiges en word dit jaarliks deur duisende mense besoek.

In die ou tyd is pelgrims nie voor die voet tot die heiligdom (tabernakel of tempel) toegelaat nie.  Hulle moes eers met die nodige aanbevelingsbriewe by die priesters aandoen.  Wie die heiligdom van die Here wou betree, moes heilig in hul handel en wandel wees.   Daarom het die priesters eers ʼn paar vrae aan hulle gevra en wie onrein geleef het, nie toegelaat nie.

Dis teen hierdie agtergrond dat Ps.15 verstaan moet word.  In ons geestesoog sien ons hoe die pelgrims by die heiligdom opdaag, elk met die selfondersoekende vraag: “HERE, wie mag vertoef in u tent?

Die tabernakel was God se heilige woning en het op ʼn heuwel in die middel van Jerusalem gestaan.  Dit was as die berg Sion bekend.   Die vraag in die teksvers is die vraag: Wie kan opreg voor God verskyn?   Hierdie toetredevraag het mense tot selfondersoek (introspeksie) gedwing.

Omdat ons pelgrims op pad na die Nuwe Jerusalem is, is dit noodsaaklik om gereeld rekenskap van jou lewe te gee: “HERE, wie mag vertoef in u tent?  Wie mag woon op u heilige berg? ...”

God antwoord: “Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen...” Dit beteken nie dat jy sondeloos moet wees om vir God aanvaarbaar te wees nie.   Indien sondeloosheid die toegangskaartjie tot God se heiligdom was, sou dit leeg wees.  Die opregte wandel van Ps.15 beteken om in die regte verhouding met God te leef.   En dis slegs met die heerlike wete en volle versekering van sondevergifnis moontlik. “Ek wat vergifnis Heer ontvang het, sing dankbaar my verlossinglied ...” Geen opregte wandel sonder die regte verhouding nie!

Dawid plaas in Ps.15 ʼn hele paar sondes op die lys; nie growwe sondes soos moord, owerspel of aanranding nie, maar eerder kleiner sondes wat mense meen nie so erg is nie.   Dawid se sondelys van 10 het alles met liefde tot God en die medemens te doen.  Kom ons toets onsself aan hierdie 10 vereistes vir toetrede tot God se heiligdom.

  • Eerstens “en geregtigheid doen”. Dit beteken om te doen wat reg is.  Ons doen so maklik verkeerde dinge.  God vra van ons om altyd die regte ding te doen.  Die Heilige Gees help ons om tussen goed en kwaad te onderskei.
  • Tweedens “en wat met sy hart die waarheid spreek”. Satan is die vader van die leuen en vergiftig die wêreld daarmee.  Jesus leer gelowiges in die Bergpredikasie dat hulle ja ja en hulle nee nee moet wees.
  • Derdens “wat nie rondgaan met laster op sy tong nie” Hy wat in gehoorsaamheid aan die negende gebod nie kwaad spreek nie.
  • Vierdens “sy vriend geen kwaad doen”. Altyd die beste vir sy vriende soek.
  • Vyfdens “geen smaadrede uitspreek” dit beteken om niemand met die tong by te kom nie.  Gelowiges plaas ʼn wag voor hul mond.
  • Die sesde heilige voorskrif lui: “in wie se oë die verworpene veragtelik is.” Gelowiges het nie gemene sake met Satan se dienaars nie.  Koning Dawid skryf “Here, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ʼn afsku hê van die wat teen U opstaan nie?  Ek haat hulle met ʼn volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps.139:21,22).
  • Die sewende heilige voorskrif lui: “Maar hy eer die wat die Here vrees”.  Die gelowige voel hom tuis onder medegelowiges.  Daarom bely ons dat ons in die gemeenskap van die gelowiges glo en bewustelik opsoek.
  • Die agtste heilige voorskrif lui: “hy verander nie”.  Hy hou sy woord al kos dit hom.  Hierin volg gelowiges Christus se voorbeeld wat nooit op sy woord terug gegaan het nie.  So ʼn gelowige is eerbaar.
  • Die negende heilige voorskrif lui: “wat sy geld nie gee op woeker nie”. In die OT lees ons van hartelose mense wat arm en weerlose mense uitgebuit het; iets wat vandag nog gebeur; dink maar net aan die duisende loan sharks! Nee, gelowiges slaan geen onregverdige munt uit ʼn medemens nie.
  • In aansluiting hierby lui die tiende heilige voorskrif: “en geen omkoop geskenk aanneem nie”. Dit was ook ʼn lelike ding wat in tye van verval sy kop by die Bondsvolk uitgesteek het, selfs in die regspraktyk!  Omkoop is korrupsie en korrupsie onreg; iets wat God haat!

Hierdie 10 heilige voorskrifte moet vir elke kerkganger die basiese riglyn vir kerkgang wees.  Wie nie hiervolgens leef nie, betree die huis van die Here onregmatig.  Wie hierdie voorskrifte volg, van hom sê vers 5: “... sal nie wankel in ewigheid nie”.

Staan jy eerbaar en opreg voor God?  Of het jy dalk ʼn masker op?   Koning Dawid skryf in Ps.139 dat God alles van ons weet – soos wat ons werklik is; maskers af.   Ons is pelgrims na die Nuwe Jerusalem en ons smag om in God se ewige heiligdom toegelaat te word.  Hoe lyk jou aanbevelingsbrief?

Ons het net een lewe om reg te maak wat verkeerd is.  Wat wil jy van Jesus, die ewige Hoëpriester hoor: “Mooi so goeie en getroue dienskneg, gaan in in die vreugde van jou heer” of “gaan weg van My, jy wat die ongeregtigheid bewerk”? Dis jou keuse!

Amen!