DIE ANTICHRIS...

... EN DIE GROOT VERDRUKKING

Ds Andrè van den Berg

Matt.24:15-28

Het jy al gewonder wat op die laaste dag op die aarde gaan gebeur?  Die Gelykenis van die Talente vertel dat dié dag met ʼn oordeel gepaard sal gaan en Jesus as die Regter sal optree.   Maar hoe gaan ons weet dat die einde naby is?  Alhoewel ons nie die dag of datum van die wederkoms weet nie, laat God ons nie onkundig nie, maar gee vir ons sekere duidelike tekens, wat, as dit gebeur, ons moet weet dat die tyd baie naby is.

Een hiervan is die verskyning van die Antichris wat die tydperk wat as die groot verdrukking bekend staan, inlei.  Wie is die Antichris?  Is dit ʼn aanduibare persoon soos bv. die pous soos wat Luther gemeen het of dit  ʼn bose ideologie?  Daar word baie oor hierdie vraag gespekuleer.

Wat sê die Bybel?  Paulus skryf aan die Tessalonisense om nie oor die wederkoms kop te verloor nie.  Daar moet eers ʼn paar dinge plaasvind alvorens dié dag aanbreek.  Die Antichris moet eers verskyn. Wie dit gaan wees?

Niemand weet nie maar Paulus sê dat hy in die tempel gaan optree en voorgee om God te wees.  Hy gaan mense dus verlei om hom te volg; feitlik ʼn herhaling van die verhaal van Eva en die slang in die tuin van Eden.   Die ergste is dat mense sal glo dat hulle die regte ding doen!   Dit wil lyk asof die Antichris ʼn  kerklike agtergrond gaan gebruik om mense van die waarheid afvallig te maak.

Johannes skryf in sy eerste sendbrief dat die Antichris alreeds in sy tyd aan die werk is en talle vennote het.   Hy noem hulle antichriste.  Hulle kom uit die boesem van die kerk en bly gevolglik as’t ware op die voorstoep van die kerk.  Waaraan word hulle herken?  Dwaalleer!  Elkeen wat weier om te erken dat Jesus die Verlosser is en dat Hy die enigste brug tussen God en mens is, is ʼn tipe van Antichris!   Kyk maar net wat gebeur nie alles op kerklike terrein nie!

Net voor die wederkoms van Christus gaan Satan die heilige Drie-eenheid naboots deur vir hom twee medehelpers te kry.  Opb.13 noem hulle diere.  Die een kom uit die see en die ander uit die aarde op.  Die dier uit die see boots Christus na en die dier uit die aarde boots die Heilige Gees na.

Die dier uit die aarde, Christus se nabootsing, plaas volgens Opb.13:16 ʼn merkteken op mense se regterhande en voorkoppe.  Wat is dit?  ʼn Mikroskyfie wat onder die vel ingeplant word soos wat baie mense reeds van weet?   Nee, kyk weer na die teks.   Daar staan dat alle mense op aarde gemerk word.  Dus nie deur mense met geld en bankrekenings nie, maar almal, selfs die armste van armes.  Hierdie merk sal dus iets omvattender as dit wees.

Waarom word die 666-merk op die voorhoof en regterhand aangebring?  Johannes wil op simboliese wyse sê dat Satan op mense se denke en dade beslag gaan lê soos deur breinspoeling.  Talle eindtyd-skrywers beskou hierdie merk as ʼn letterlike getal.   Nee, dis simbolies soos die merk op die hand en voorkop waarvan Deut. 6 praat. God sê vir Israel om sy wet as ʼn merk op hul voorkop en hand aan te bring.  Hulle moes die wet met hulle verstand  bedink en met hulle dade uitleef.   Wie hierdie merk bloot as ʼn mikroskyfie of iets dergeliks beskou, onderskat Satan se mag!

Net Een kan hierdie merkteken afwas – Jesus Christus deur sy bloed.  Mense wie se hart in die bloed van Christus gewas is, se brein kan nie gespoel word nie!  Hy maak enige slagoffer van Satan nuut.  Paulus getuig:  “As iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).

Dis egter nie net ongelowiges wat ʼn merkteken dra nie, maar ook gelowiges. Openb.14 sê vir ons dat die gelowiges Jesus se kenteken (merk) dra.   Dit staan ook, alhoewel nie fisies, op hul voorhoofde geskryf.   Niemand dra dubbele kentekens nie. Jy dra of die naam van God of dié van Satan.

Johannes sê in Openb. 13 dat die 666-merk die getal van ʼn mens is.  Die finale gestalte van die Antichris is ʼn duidelik aanduibare mens.  Die eerste Christene was oortuig dat die Antichris keiser Nero was omdat hy die Christene vervolg het.  Luther was weer van mening dat dit die Roomse pous was.   Tyd sal leer!

Maar wat van die groot verdrukking?  Dis ʼn begrip wat met die leer van die eindtyd saamhang.   Gelowiges het van meet af aan die wind sterk van voor gekry.  Hierdie wind gaan, soos voorspel is, baie sterker na die einde toe waai.  “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.  En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie… (:21-22).

In Mt.24 sê Jesus dat ʼn vreeslike ding wat vir die mensdom voorlê.  Is daar enige moontlikheid dat iemand dit kan vryspring?  Nee, nie eens die grootste toegewyde gelowige nie!    Jesus sê self dat as ons Hom wil volg, ons ons kruis moet dra.  Petrus vermaan die gelowiges in 2 Petr.3:14 om hulle lyding met waardigheid te dra.  Slegs wie enduit volhard, sal gered word.  Ons gaan nié, soos baie van die sekte-leringe voorspel, vóór die tyd na die hemel weggeruk word nie.

Die geloofslewe is nie ʼn ongeluksvrywaringspolis nie.   Daarvan kan Job getuig!  Ons sal ons kruise moet dra, kruise wat bitter swaar gaan word soos wat die wederkoms nader kom.   Die kruis van Jesus is nie ʼn ekstra op ons skouer nie, maar standaardtoerusting!

Dit bring my by ʼn ergerlike dwaallering wat soos gewoonlik strydig met God se Woord, leer dat daar wel ʼn ontsnaproete is.   Hierdie leuen word selfs vanaf kansels verkondig en gee bangbroeke valse hoop - die dwaalleer van die wegraping.  Dit kom daarop neer dat sekere gelowiges, diegene wie se geloof sterk genoeg is, die groot verdrukking gaan vryspring.  Christus gaan hulle kort voor sy wederkoms van die aarde af opraap om die finale swaarkry te spaar.

Wie dit glo, verstaan die Bybel en die leer oor die eindtyd (eskatologie) baie verkeerd!   Een ding moet ons weet - die kerk het nog altyd verdrukking ervaar. Vervolging is nie die uitsondering op die reël nie, maar eerder die bestaanswyse van die kerk. In 1 Thess.1 sê Paulus baie duidelik dat die hele kerk tot en met die wederkoms van Jesus op die aarde teenwoordig sal wees.  Niemand word voor die tyd opgepluk nie.

In 1 Thess.4:17 word die gelowiges wat Jesus in die lug tegemoet gaan, nie weggeraap nie.   Hulle ontmoet Hom, los van alle natuurkragte, vreugdevol in die lug.  Die opskrif bokant vers 13 sê  ook waaroor die betrokke Skrifgedeelte gaan – Jesus se wederkoms. Wie hierin ʼn wegraping wil sien, dwaal.

Die leer van die wegraping skreeu teen die boodskap van Openbaring.  Hierdie laaste boek van die Bybel gee gelowiges die heerlike versekering dat Christus op ʼn besondere wyse met hulle is, of dit nou die Romeins-Joodse vervolging aan die begin van die Christelike era is, en of dit die groot verdrukking aan die einde gaan wees; die boodskap is dieselfde: Jesus stap die pad saam met sy kinders. Hy het immers belowe: “Kyk, Ek is met julle tot aan die voleinding”. Die Bybel sê dat Hy ons nie wegruk nie, maar saam met ons die einde tegemoet stap.

Wie word volgens hierdie dwaalleer weggeraap?  Diegene wat ʼn sekere graad van heiligmaking bereik het.  Besef die misleiers wat hulle leer?  Niks anders as werkheiligheid nie!   Daarmee word ʼn streep deur een van die slagspreuke van die Hervorming getrek - Soli gratia (genade alleen).

Al die tekste wat kwansuis op ʼn voortydige wegraping dui, het in werklikheid met die wederkoms van Christus te doen.   Die Bybel praat dikwels oor die wederkoms maar swyg soos die graf oor ʼn wegraping!   Waarom maak Christus dan nie in sy Profetiese Rede (Matt.24,25) daarvan melding as dit so belangrik is nie?  Daar bestaan nie eens so ʼn woord soos wegraping in die Bybel nie!  Dis  ʼn sektariese woordskepping.

Nog ʼn dwaling rakende die eindtyd wat verkondig word, is die leer van die sogenaamde duisendjarige vrederyk.   Hierdie leer is vreemd aan die Bybel, nie eens van die begrip te praat nie!  Al wat Openbaring sê, is dat Satan vir ʼn duisend jaar ingebind en vlak voor die wederkoms van Christus weer losgelaat gaan word.  Hierdie duisend jaar is simbolies om ʼn baie lang tydperk aan te dui. Ongelukkig word hierdie binding van Satan deur sommige mense tot ʼn verbeeldingryke vrederyk uitgebou sonder sonde, dood of smarte.

Die binding van Satan het met die hemelvaart van Christus plaasgevind.  Die rede hiervoor was dat die Evangelie aan alle nasies verkondig kon word.  As Satan nie gebind is nie, kon die goeie boodskap nie doeltreffend versprei word nie.  Die binding van Satan beteken egter nie dat hy magteloos is nie, maar slegs soos ʼn kwaai hond aan ʼn ketting aan bande gelê word.  Hierdie ketting sal net voor die wederkoms weer losgemaak word.  As ʼn mens kyk wat vandag in die wêreld gebeur, wil ʼn mens straks glo dat die ketting reeds los is!

Die Bybel sê dat diegene wat die groot verdrukking enduit deurstaan, ná hul dood by Christus aansluit om saam met Hom te regeer.  Die Bybel eindig met die goeie nuus dat God aan die einde van die tyd die oorwinning behaal!

Ná die wederkoms verskyn alle mense voor Christus.  Johannes sien dat die boeke van die oordeel oopgemaak word waarin al die name van al die verlorenes voorkom. Hulle dade getuig teen hulle waarna hulle die gepaste oordeel ontvang.   Gelowiges word nie volgens hulle dade geoordeel nie omdat Christus se bloed vroegtydig daaroor gestort is.  Hulle name staan in ʼn ander boek geskryf - die boek van die lewe.   En op hulle wag die nuwe Jerusalem.