MAAR EK EN MY HUIS...

...ONS SAL DIE HERE DIEN

Ds Andrè van den Berg

“ ... kies dan vandag wie julle wil dien.... maar ek en my huis, ons sal die Here dien” - Jos.24:15                                     

Ons nader, wat die kerklike jaar betref, Advent; die tyd wat na Kersfees oploop wanneer ons kersliedere begin sing en daaraan dink dat Christus na die aarde gekom het om gebroke mense heel te maak.  Christus het tot ons heil gekom; Hy het dit wat stukkend was, kom heelmaak.  Die mens is deur sy eie sondige toedoen ʼn gebroke mens.   Sonde breek alles – mense en volke.

Na die aankoms en vestiging in Kanaän het Israel rustig geraak.  Elke stam het sy beloofde grondgebied gekry en almal was tevrede.  Hierdie rustigheid het deur die jare wat gevolg het tot ʼn geestelike onverskilligheid gelei.

In die woestyn was Israel vir hul daaglikse versorging van God afhanklik wat hul van kos en water voorsien het.   Daarbenewens het Israel ook geweet dat God fisies by hulle in die wolk-en vuurkolom aanwesig was want hulle kon Hom sien.  Toe dit in Kanaän verdwyn, het Israel se oë van God af begin wegbeweeg en verheidens.  Vaders was nie meer die priesters in hul huis nie. Kinders het handuit geruk en gesinne het verval.

Eredienste was nog goed bygewoon en daar is gereeld geoffer, maar Israel se godsdiens was ʼn leë dop.   Mense het een ding bely en die teenoorgestelde gedoen.  Hulle was godsdienstig maar nie godvrugtig nie.  Satan het die volk wat God vir homself gekies het, gebreek.

In Jos.24 was Israel basies sonder ʼn leier.  Josua was baie oud en het toe nog geen opvolger aangewys nie omdat God hom geen opdrag gegee het nie.  Die tydperk van die Rigters sou na sy dood aanbreek.   Josua was ongeveer 110 jaar oud toe die ontstellende berigte van Israel se geestelike verval sy ore bereik het.  Sy volk was op ʼn laagtepunt!

Josua kon nie dinge sondermeer daar laat nie en die hele volk by Sigem byeen laat kom om vir oulaas met hulle te praat: “As julle die verbond van die Here julle God wat Hy julle beveel het, oortree en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal die toorn van die Here ontvlam, en julle sal gou omkom uit die goeie land wat Hy aan julle gegee het” (Jos.23:16).

Josua waarsku hulle dat God dit wat Hy vir hulle gegee het (grondgebied), kan wegneem as hulle nie na Hom luister nie!  Eeue later sou Elia ook Israel by Karmel byeen laat kom om ʼn keuse te maak – vir of teen God.  Josua stel die volk voor ʼn keuse: “ ... kies dan vandag wie julle wil dien..." Hy dwing hulle nie.  Hulle moet self kies.  Dan kom hierdie 110 jarige strydros na vore met die bekende belydenis: “...maar ek en my huis, ons sal die Here dien”. Hierdie woord huis beteken gesin.  Wat sê Josua vir die volk?  “Besluit soos julle goed dink; ek en my gesin dien God” .

Wat het van die Josuas van ons Boerevolk geword?  Waar is die vaders wat nog priesters in hul huis is en hul kinders na die eise van die verbond opvoed soos  met die doop beloof is?   Waar is die vaders wat in ʼn ontspoorde volk opstaan en sê:  “Dit maak nie saak wat julle sê of doen nie; ek en my gesin sal die Here dien!” Wat ʼn nood het ons volk nie aan sulke vaders en gesinne nie!

Satan breek en vernietig ons volk se gesinne soos nog nooit tevore nie.  Hy weet dat God godvresende gesinne koester want dis ʼn bolwerk teen verval.  Daarom wil hy dit vernietig.   ʼn Gesin is soos ʼn muur wat uit menige stene bestaan met die vader en moeder as hoekstene.  Haal een uit en dit tuimel ineen!

Ons volk het ʼn trotse verlede.   Die geloof in God was een van die kenmerke van die Boerevolk.  Ongelukkig is dit vandag nie meer waar nie.   Die liberale getygolf het nie net die politiek en kerke getref nie, maar ook huisgesinne.  Ons het afvallig geword.  Die heidenhiel waaronder ons buk, is ons verdiende loon.

Ons het soos Israel vergeet Wie hierdie land vir ons gegee het.  Ons het God buite gelaat.  En wie Hom buite laat, maak vir die satan oop.  Dis wat met Israel gebeur het.  Daarom pleit Josua in Sigem by die volk om God binne te laat.  Sy pleidooi het die volk aan die hart gegryp.  “Toe antwoord die volk en sê: Dit is ver van ons dat ons die Here sou verlaat en ander gode te dien ... Nee, maar ons sal die Here dien” (:16,21).

Kom ons bid baie ernstig vir ons volk se gesinslewe.  As dinge daar gaan regkom, sal die land ook regkom.  Vaders moet weer hoofde van hul huise word en moeders hul kinders in die vrese van die Here opvoed.  Dit sal ʼn hervorming soos min teweeg bring!   Wat ʼn nood het ons volk nie daaraan nie!

Ons volkslewe is so flenters dat dit min van die heidendom verskil.  Satan het meesterlik daarin geslaag om ons te breek.  Ons moet terugkeer na Hom wat heelmaak – Jesus Christus.   Daar is geen verhouding so stukkend dat Hy dit nie kan regmaak en geen gesin so ver dat Hy dit nie kan bykom nie.  Jy moet kies.

Mense sien in jou gesinslewe jou lewenskeuses raak.  Godsdienstigheid red niemand nie. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here!   sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir my sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie...” (Mt.7:21-23).

Dien jy en jou gesin die Here soos die Verbond vereis?   As jy met ʼn rein hart bevestigend hierop kan antwoord, is ek saam met jou bly.  Maar as jy nie kan nie, moet jy gaan regmaak wat verkeerd is – nie net vir God nie, maar ook vir ons volk.  Want dis waar die ommekeer waarna ons smag, begin; by die geestelike herstel van ons gesinslewens.

Die krag van ’n volk hang van die gehalte van sy gesinne af.  Goeie ouers is padwysers na die hemel en voorbeeldige gesinne van God se aanskoulikste meesterwerke.  Dis soos ʼn stukkie vervroegde hemel.   Dis immers waar ʼn kind se lewenspad begin.  Ouers se lewens is die handboek wat kinders leer hoe om te leef.   Kinders kyk na ons.  As hulle nie in ons teleurgesteld is nie, is die kans soveel skraler dat ons eendag in hulle teleurgesteld sal wees.

Maar as hulle nie in hul gesin die regte lewenswaardes aanleer nie, sal hulle dit nêrens anders leer nie want die gesin is die smidswinkel waar lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word. Onreg wat in ouerhuise gedy, word nie daarbuite reggestel nie.

Die grootste diens wat ʼn mens aan sy gemeenskap kan lewer, is om sy kinders reg op te voed.  Daarom daag Josua sy volk vreesloos uit: “ ... kies dan vandag wie julle wil dien... maar ek en my huis, ons sal die Here dien” . En Israel het gekies en die Here weer begin dien!    En God het hulle van hul vyande verlos.  Wat vir Israel in die tyd van Josua waar was, is vandag net so waar.   Wat Israel in die tyd van Josua van verval gered het, sal die Boerevolk ook red – ons moet ʼn besluit neem en as gesinne na God terugkeer!

Amen!