Ds Andrè van den Berg
“..... en die man was ʼn dapper held, maar melaats” - 2 Kon.5:1
Omdat die lewe baie kort is, behoort dit vir elke mens kosbaar te wees. Ons kry net een kans om te lewe en moet poog om net die beste daarvan te maak. Geen mens kan aan die lengte van sy lewe iets doen nie, maar wel aan die diepte. Daarom maak dit nie saak hoe ons eendag doodgaan nie, maar eerder hoe ons leef, want die lewe gee ons die kans om ons siel vir die ewigheid voor te berei.
Wie ’n goeie lewe in volle geloofsekerheid leef, sal dit sonder hartseer verlaat. Dit waarborg egter nie dat die lewe vir gelowiges maneskyn en rose sal wees nie. Ons leef in ʼn gebroke wêreld wat van sonde deurtrek is. Soms voel ons dit soos Naäman aan ons eie liggame: “...en die man was ʼn dapper held, maar melaats” .
Die woord maar is ʼn nare woord in die lewe. Dit dui op iets wat ontbreek en jou van ware geluk, topprestasie en volle lewensontplooiing beroof. Talle beroemde mense het ook ʼn maar in hulle lewe gehad. Beethoven was ʼn uitstaande komponis, maar doof. Milton was ʼn beroemde digter maar blind. Paulus was ʼn baanbreker sendeling maar met ʼn doring in die vlees. Hoeveel mense met ʼn belowende toekoms voor hulle se lewens is nie al kortgeknip weens ʼn maar in hul lewe,dikwels iets wat hulle oor hulself gebring het nie?
Ek weet van ʼn belowende jong man wat sulke hoë punte in matriek behaal het dat hy ʼn Rhodes-beurs vir ingenieurswese ontvang het. Hy was homoseksueel en het in sy tweede studiejaar VIGS opgedoen en is ʼn tyd daarna oorlede.
Daar is in soveel mense se lewens ʼn maar. Hierdie maar is soos ʼn wurm wat aan die wortel van ʼn mens se geluk knaag. Eugene Marais skryf: ’n Druppel gal is in die soetste wyn; ʼn traan is op elk’ vrolike snaar, in elke lag ʼn sug van pyn , in elk’ roos ʼn dowwe blaar”.
Daar is nie een mens in die lewe wat nie ʼn maar in sy lewe het nie. Ook ek en jy. Hierdie maar in ons lewe behoort ons nederig te hou en telkens na God te laat uitreik omdat Hy ʼn vader is wat deernis met sy kinders se swakhede het. Dit behoort ons op ons knieë te hou en soos bedelaars ons hande in die geloof na Christus te laat uitsteek.
In 2 Kon.5 ontmoet ons ʼn man met ʼn dodelike maar in sy lewe. Naäman was ʼn veggeneraal van die koning van Aram en ʼn vyand van Israel. Ons sien in hom in ʼn mindere of meerdere mate iets van onsself raak. Hy was uiters suksesvol; ʼn man met ʼn briljante militêre loopbaan en die hoogste rang. Sy militêre en politiese insig en raad was vir die koning van onmisbare waarde!
Daarbenewens het Naäman ʼn mooi geaardheid gehad. Die mense was gaande oor hom! Sy rang het nie na sy kop toe gegaan nie. Hy was lojaal teenoor sy koning, het sy soldate regverdig behandel en het as ʼn dapper held groot agting by almal afgedwing.
In ons geestesoog sien ons hom op sy strydwa onder dawerende applous die strate afkom. Hy het besondere gawes gehad. Maar wat hierdie heiden nie geweet het nie, was dat God dit kwistig aan hom gegee het met ʼn ander doel.
Kyk weer na Naäman; ʼn man van ongekende sukses. Maar hierdie prentjie is nie voltooi nie. Hy was in alle opsigte suksesvol, maar het toe melaats geword. Wanneer Naäman in die strate afgery het, trots en vier in sy strydwa, het niemand kon dink dat daar ʼn maar in sy lewe was nie. Onder die glinsterende harnas was die reuk van die dood - hulle volksheld het voete van klei gehad!
Niemand het die vaagste vermoede gehad dat hierdie volksheld tot die dood toe siek was nie. Hoe swaar het Naäman nie aan daardie maar in sy lewe gedra nie, wetende dat dit ʼn vroeë dood vir hom sou besorg!
Wat die maar in jou lewe is, weet ek nie. Net jy weet dit. Miskien is dit siekte, ʼn liggaamsgebrek, gesinsprobleme, ʼn bindende gewoonte of boesemsonde. Net jy en die Here weet dit.
Die ergste in Naäman se lewe was egter nie melaatsheid nie, maar dat hy sonder God was. Wie ʼn maar in sy lewe het en nog sonder God is, is die ellendigste van ellendiges. Maar God het ʼn doel met Naäman gehad. Sy maar was die begin van sy redding en hiervoor het God ʼn aantal persone gebruik.
Een van hulle was ʼn Joodse slavinnetjie wat tydens ʼn militêre operasie ontvoer is en in Naäman se huishouding opgeneem is. Dis juis haar getuienis wat die bal aan die rol sit: “ ... ag was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is”. Hier praat die gelowige as God se spreekbuis met die oorlogvoos, stormgejaagde sondaar: “ Naäman, jy moet met jou die ‘maar’ in jou lewe dringend by God uitkom!”
Naäman kon haar raad nie veronagsaam nie en diep in sy hart geweet dat dit sy enigste kans was. As die Woord van God vir jou sê dat daar by Christus genesing vir die maar in jou lewe is, durf jy nie talm nie. Dit kan jou laaste kans wees!
Naäman gaan eers na sy aardse koning toe maar dié kan niks vir hom doen nie. Naäman klop aan die verkeerde koning se deur - hy moet by die Koning van alle konings uitkom. En so begin sy reis na Samaria. Die profeet Elisa het nie eens uit sy huis gegaan om die veggeneraal te ontmoet nie, maar hom slegs opdrag gegee om sewe maal in die Jordaan te gaan was. Naäman was baie vies oor die gebrekkige ontvangs en voorskrif wat hy gekry het, dat hy wou omdraai en teruggaan huis toe. Ja, so dikwels wil ons van die Here af wegdraai omdat die evangelie vir geestelike melaatses te eenvoudig en benede ons verwagtings is. Dis ʼn eenvoudige eis: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word”.
Naäman wou padgee. Gelukkig het sy reisgenote hom oorreed om die profeet se raad te volg waarna hy wel gesond geword het. Daarna kon Naäman die Here nie genoeg dank vir vriende wat soos geestelike steunpilare by hom in sy nood gestaan het nie! Hy was ontslae van die maar in sy lewe - die dood het pad vir die lewe gemaak. Daarna het hy na Elisa teruggegaan en ʼn roerende belydenis van sy geloof in God gedoen.
Die Evangelie vra nie baie nie, net dat jy van jou wa moet afklim - simbool van jou eie prestasies en aansien. Wie van homself afsien en na God opkyk, ontvang genesing van sy siel en dikwels baie meer.
Miskien is daar vandag iemand met ʼn groot maar in sy lewe waarvan hy net nie ontslae kan raak nie, nie omdat dit te moeilik is om daarvan ontslae te raak nie, eerder te eenvoudig! Jy soek miskien ʼn beter boodskap, ʼn vuriger boodskapper, miskien meer dramatiese verskynsels ens. Onthou – Elia vind God op Karmel nie in die aardbewing, vuur of storm nie, maar in die sagte suising van die wind.
Wat gaan jy, hier aan die einde van die jaar, met jou maar maak? Saamsleep die nuwe jaar in? Gaan jy dit vertroetel dat jy nog sieker kan word? Of gaan jy soos Naäman van jou wa van eiewaan afklim en jou in die bloed van Christus wat ook vir jou gestort is, was en genesing ontvang? “... en die bloed van Jesus Christus ... reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7). Kom net asseblief met die maar in jou lewe by Jesus uit voordat dit te laat is. Die lewe is bitter kort!
Amen!