Ds Andrè van den Berg
“... Meneer, wat u beveel het, is gedoen en daar is nog plek” .
Het jy hierdie Kersfees lekker geëet? Daar is min dinge so aangenaam soos ʼn smaaklike Kersete saam met vriende of familie. Dis ʼn tradisie in Westerse lande om op Kersdag saam met mense wat na aan jou is, te kuier al is dit ook elke jaar dieselfde persone.
Christus het dikwels gelykenisse vertel om mense d.m.v. verhale dinge van die Koninkryk van God te leer. Verhale steek makliker by mense vas as feite. In die Gelykenis van die Groot Maaltyd is God die gasheer en vasbeslote om alle honger mense na sy tafel te nooi. Hierdie gelykenis roep sondaars tot redding op. Jesus is so gretig om sondaars met sy liefde, Woord en vergifnis te voed, dat Hy hulle byna wil dwing om aan te sit.
Sy reddingsuitnodiging word met ʼn deftige feesmaal vergelyk.
Wanneer Lukas in hoofstuk 14 oor God se groot ete skryf, laat dit ʼn mens onwillekeurig aan ʼn Kersete dink omdat hierdie ete baie raakpunte met ʼn Kersmaal het. Lukas skryf van die beplanning, genooide gaste, deeglike voorbereiding en die smaaklike ete self. Dit klink amper soos ʼn Kersete.Volgens die ou gebruik is die uitnodiging om ʼn feesmaal by te woon weke vooruit gedoen. Diegene wat genooi is, moes skriftelik laat weet of hulle die uitnodiging aanvaar of nie. Sodra die fees gereed was, het die diensknegte van die gasheer uitgegaan om diegene wat aanvaar het aan te sê om nader te staan.
Christus vertel in hierdie gelykenis dat toe die gaste vir die maaltyd moet begin opdaag, almal ʼn verskoning gehad het. Ten spyte van die uitnodigings en die moeisame voorbereiding het niemand opgedaag nie. Dit was slegte nuus vir die gasheer. Geen wonder dat hy kwaad geword en daarna al die vreemdelinge van die omgewing na die ete laat nooi het nie: “.... Gaan gou uit in die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in”. En hulle het gekom; en sommer baie ook!
Hoe anders het hierdie feesgangers nie gelyk nie! Hulle was nie deftig geklee nie. Hulle kon waarskynlik ook nie lekker met mekaar gesels nie. Aan die tafel was ontwrigte, sieklike, gebreklike, armlastige mense wat nie geweet het waar hul volgende maaltyd vandaan sou kom nie. Die verbysterende was dat daar vir almal plek was. Daar kon selfs meer gekom het! Die dienskneg sê vir sy baas: “... Meneer, wat u beveel het, is gedoen en daar is nog plek”.
Die armlastiges was ontsettend bly oor die uitnodiging want hulle was baie honger. In Joh.6:35 sê Jesus: “... Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie." Die deur na die hemelse eetsaal staan vir almal oop. Alles is op die huis. Hierdie uitnodiging kom so vroeg as die OT voort: “O, Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” (Jes.55:1).
God wil almal voed. Hy nooi mense wat mekaar glad nie ken nie; mense wat nie volmaak is nie en selfs radikaal van mekaar verskil. God se uitnodigingslys bevat nie juis ʼn lys van mense wat ons vir ʼn feesgeleentheid soos Kersfees sou optrek nie! God se groot feesmaal het geen raakpunte met ʼn Kersete wat ʼn hegte familie/vriende aangeleentheid is nie.
Sy feesmaal is vir ʼn baie breër familie – dié van God. “Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder” (Mt.12:50). Nogtans skyn die Kersfeesboodskap deur die gasheer se huis met die vol tafels vir elkeen wat inkom.
Hierdie gelykenis handel oor die kosbare uitnodiging om na hierdie etenstafel van redding te kom. Kyk ʼn bietjie wat alles op die tafels is - skottels vol vergifnis, skinkborde vol genade, bakke vol vreugde en borde vol liefde. Wat ʼn ete en vreugde om Jesus as Verlosser te kan ken!
Jesus se uitnodiging is eenvoudig – kom. Kom is een van die wonderlikste woorde in die Bybel. Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is...” (Mt.11:28). Sy uitnodiging staan vas. Hy trek dit nie terug nie: “... Kom, want alles is nou gereed” (Luk.14:17).
Ons gaan die hiernamaals saam met mense deurbring wat ons glad nie ken nie. Dit sal, so anders as Kersfees, nie ʼn tradisionele gesinsmaaltyd wees nie, maar ʼn bruilofsmaaltyd van verlostes saam met Christus in die Nuwe Jerusalem: “... salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam...” (Openb.19:9).
Die teksvers sê iets belangrik: “... en daar is nog plek”. God wag deur die eeue vir nog gaste om aan te sluit. Jesus gaan weer kom, maar nie voordat al die plekke aan die tafel gevul is nie. Hierdie feesmaal duur al eeue lank. Dis nie ʼn eenmalige enkelsitplek geleentheid nie, maar ʼn nimmereindigende hemelse buffet-ete met ewigdurende vars voedsel. Die maaltyd is altyd daar; en so ook die gasheer!
Die gelykenis skets ʼn maaltyd sonder einde. Almal kan kom. Aan God se tafel van genade is daar altyd plek. So anders as ʼn Kersete wat vandag net ʼn heerlike herinnering is met ʼn yskas vol oorskietkos, kry God se maaltyd geen einde nie.
Hoe kom ʼn mens by hierdie feeslokaal in? Hoe gaan sit ʼn mens aan hierdie tafel? Slegs deur die bekering. En daarvoor moet jy ʼn deur oopmaak; die deur van jou hart: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou , en hy met My” (Openb.3:20).
Wie die deur van sy hart vir Jesus sluit, kan nie by die deur van die ewige maaltyd met Christus ingaan nie. En dit gebeur met die meeste mense, selfs met godsdienstige mense wat glo dat vormgodsdiens genoegsaam vir redding is. Jesus sê in die Gelykenis van die Maagde vir hulle: “... Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:12).
Is jy aan Jesus se tafel? Geniet jy dit? God wil dat alle mense moet aansit; ʼn uitnodiging waarvan die OT ook melding maak: “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde wee! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.33:11).
God het, deur sy Seun te stuur om vir ons sonde te sterf, alreeds alles gedoen wat vir ons redding nodig is. Jesus se vernedering, lyding, dood en opstanding, ja, alles beklemtoon die uitnodiging: “... Kom, want alles is nou gereed”. Die uitnodiging is ernstig – kom nou, moenie uitstel nie! Paulus skryf: “... Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is dit de dag van heil” (2 Kor.6:2).
God se genade is groot. Dit sluit selfs mense in wat niemand anders sou wou uitnooi nie. “... Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God” (Mt.21:31). Mattheus was ʼn tollenaar. So ook Saggeus. Ragab en Maria Magdalena was eers prostitute.
Dis almal mense wat die uitnodiging aanvaar het. Ja, daar gaan mense in die hemel wees wat ons nie daar verwag het nie. Daar gaan egter ook mense ontbreek wat ons wel daar verwag het; mense wat slegs die gedaante van godsaligheid gehad het. Die mense wat die uitnodiging na God se groot ete van die hand wys, word uitgelaat.
Wat ʼn vreugde om deur die bekering aan God se groot feestafel te kan aansit! Die uitnodiging is universeel – dit kom na almal. Ongelukkig wys die meeste mense dit van die hand en loop hulle deur die lewe met ʼn grafsteen onder die een arm en ʼn doodskis onder die ander. Nee, om Jesus se uitnodiging te aanvaar, is ʼn fees en nie ʼn begrafnis nie.!
Wat doen jy met God se uitnodiging? As jy dit aanvaar, word jy deel van die ewige fees in die hemel. As jy dit nie aanvaar nie word jy deel van ʼn ewige begrafnis in die hel.
Amen!