Ds Andrè van den Berg
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” - Joh.14:27
Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het Hy op die drumpel van ʼn bitter lydensweg gestaan; ʼn pad wat met sy kruisiging sou eindig. Jesus sou sy dissipels wat slegs drie jaar by Hom was, alleen agterlaat. Hy doen dit egter nie sonder ʼn erfporsie nie. Jesus laat vir hulle iets na wat nie deur ʼn mens of die natuur geskaad kon word nie; ʼn Jesus-vrede. Dis ʼn heel ander soort vrede as wat die wêreld mense aanbied: “... nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie”.
Hierdie Jesus-vrede is ʼn gawe wat gelowiges alleenlik ontvang. Wie met die Vredevors nie vrede maak nie, verkry dit nooit nie. Gevolglik is hierdie vrede baie skaars. Gelowiges moet dit bewustelik uitleef vir ongelowiges om te sien sodat hulle tot bekering kan kom.
Die Bybel is vol vredesopdragte: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Rom.14:19). “Jaag die vrede na met almal” (Heb.12:14). In hierdie liefdelose wêreld is dit egter nie maklik nie. Vrede val nie soos ʼn ryp vrug in ons skoot nie. Dis ʼn gawe van God wat ons as kinders van God bewustelik moet soek en deeglik moet bewaar omdat dit die enigste egte vrede is. Alle ander vrede is karikature. Daarom misluk feitlik alle vredespogings.
Hoe lyk die Jesus-vrede? Een van die basiese eienskappe hiervan is eerbied vir menseverskeidenheid; ʼn gegewendheid wat graag in liberale kringe geminag word. God het mense verskillend geskape. Om dit te minag, bring nie vrede nie, maar eerder botsings. Elke mense-ordening wat God se skeppingsordening nie eerbiedig nie, is tot mislukking gedoem. Die dwase proefneming met die reënboognasie aan die suidpunt van Afrika is sprekend hiervan!
Die probleem met saamgeflanste mense-eenhede is dat dit kunsmatig is. Dis almal op die mite gebou dat alle mense eenders geskape is. Daarbenewens bots dit ook lynreg met die natuur. God het die natuur geskep vir die mens om sy skeppingsordening te eerbiedig. Hy leer die mens uit sy Woord en deur die natuur. Dis die twee maniere waarop Hy Homself aan die mens openbaar.
Die natuur is ʼn goeie leermeester as mense net daaruit wil leer. Die Griekse filosoof Thales het gesê dat ʼn mens se kennis en begrip van die lewe by sy waarneming van die natuur begin. Dit wat in harmonie met die natuur verkeer, is vir die mens goed. En dis baie waar!
In Genesis lees ons dat God die mens- en diereryk geskep het. Ten einde dit vol te hou, het God ʼn sekere patroon daar gestel deur hulle manlik en vroulik te skep. Toe God vir Adam ʼn hulp geskep het, het Hy nie nog ʼn man gemaak nie, maar ʼn vrou. So ook in die diereryk. Die natuur is Godgegewe.
Satan haat alles wat God gemaak het, ook die natuur. Daarom het hy van vroeg af 'n teennatuurlike gedrag by die mens gekweek - homoseksualisme. Daar word so vroeg as Levitikus en Deuteronomium na hierdie sonde verwys wat in die Hebreeus toeva genoem en met gruwel vertaal word.
Paulus skryf in geen onduidelike taal dat homoseksualisme teennatuurlik is nie: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in die wat teen die natuur is; en net so het die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand” (Rom.1:26,27).
Let daarop dat die Bybel nie anders praat as wat die natuur ons leer nie. Leer die natuur dat ʼn hings met ʼn hings of ʼn ooi wat met ʼn ooi paar? Nee, God het hulle geensins so geskep nie. Dat die ganse diereryk God se skeppingsorde verstaan, maar duisende mense nie? En dit sluit kerke in!
Die natuur leer ons niks anders as wat die Bybel ons leer nie. Dit leer ons ook dat God ʼn Skeidingmaker is deur duidelike onderskeid tussen mense en diere te maak. Let gerus op die voëleilande by Lambertsbaai waar etlike duisende kormorante en malgasse sit. Hulle sit opvallend nie deurmekaar nie, maar in twee afsonderlike groepe. Waarom? Is hulle miskien kwaad vir mekaar? Nee, hulle sit afsonderlik omdat God ʼn geneties natuurlike afsonderlikheid vir hul voortbestaan bepaal het. Dit wat vir diere geld, geld ook tot aan die voleinding van die wêreld vir mense.
God het al die verskillende rasse op die aarde geskep en aan hulle verskillende karaktereienskappe en vermoëns gegee. Die OT lê sterk klem op rassuiwerheid. Die OT handel hoofsaaklik oor die geskiedenis van een ras nl. Israel, wat gereeld met ander Midde-Oosterse volke gebots het. Die OT benadruk gedurig Israel se afkoms en roep haar herhaaldelik op om haar gene nie te vermeng nie. Israel was nie rassehaters nie, maar wel sterk rasbewus. En dis nie sonde nie!
Rassevermenging is in stryd met beide die Bybel en die natuur. Dit lei gedurig tot wrywing en onmin. Ongelukkig word die AP Kerk dikwels van rassehaat beskuldig. Dis nie waar nie. Die AP Kerk is teen geen ras op aarde gekant nie, maar wel teen rassevermenging. Behalwe dat rassevermenging geen Skriftuurlike rugsteun het nie, werk dit nêrens ter wêreld nie; ook nie in kerke nie.
Jesus sê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei en hulle sal na My stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh.10:16). In die AP Kerk sê ons: Verskillende skape, verskillende stalle.
God se resep vir blywende vrede is baie duidelik in die Bybel sowel as in die natuur waar te neem. As die mens maar net God se skeppingsordening wil eerbiedig! Om vrede te hê, moet ons in lyn met die Vredevors wees.
God eis van gelowiges om vredemakers te wees. Jesus sê in ʼn saligspreking: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mt.5:9). Dis ʼn baie groot taak in hierdie deurmekaar wêreld. Om vrede te vestig, kos groot geloof.
Toe Jesus vir die dissipels sê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie”, ontvang hulle ʼn erfporsie kosbaarder as geld. Hierdie erfporsie het vir hulle in ʼn tyd van staatkundige ontwrigting rustigheid in hulle lewe gebring.
Om Jesus se vrede in hierdie deurmekaar wêreld te ervaar, moet sondaars hul eerstens tot Jesus bekeer. Dis al manier hoe siele gered kan word. Redding gee aan gelowiges die versekering dat niks hulle van die liefde van God skei nie; selfs nie eens die dood nie (Rom.8). En dis, soos die Heidelbergse Kategismus sê, jou enigste troos in lewe en dood; dat jy met liggaam en siel nie aan jouself behoort nie maar aan Jesus Christus.
Sonder bekering, is geen vrede moontlik nie. Een nag kom Nikodemus na Jesus. Hy is baie bekommerd oor sy siel en smag na vrede. Wat moet hy doen? “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk nie sien nie” (Joh.3:3).
Die vrede van Jesus begin by die bekering. Daarna volg ʼn kennis van die waarheid. Leuens maak mense dom en hou hulle gevangenes van Satan. Die waarheid maak mense wys en daarna vry.
Die dissipels was op daardie tydstip nog lidmate van die Joodse Kerk wat die Skrif verdraai en talle leuens gehuisves het. Die Heilige Gees het die dissipels egter geleer om die waarheid van die leuen te onderskei en dit hartstogtelik te verkondig. Daarom het hulle ná die uitstorting van die Heilige Gees ywerig aan die werk gespring om die nuwe kerk aan die gang te kry. Hulle het die Jesus-vrede ervaar.
Mag die Here ons met hierdie vrede seën, mense dit sien en God verheerlik. “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Mt.5:16).
Amen!