MURE VAN HEIL; POORTE VAN LOF

Ds Andrè van den Berg

“ Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie, maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” - Jes.60:18

God het elke volk op die aarde gemaak, elkeen met sy eie taal, kultuur en geskiedenis.  Hierdie eiesoortigheid is ʼn gawe van God en moet gevolglik waardeer en beskerm word.  Dis soos ʼn muur wat God om elke volk bou, nie net om hulle van mekaar te onderskei nie, maar ook teen mekaar te beskerm.  Want daarsonder sou geeneen voortbestaan nie.

Geen volk was meer op hulle eiesoortigheid gesteld as oud-Israel nie.   Hulle was immers die enigste volk wat die ware God aanbid het.  Daarom het God met hulle ʼn verbond aangegaan en hulle beveel om hul eiesoortigheid op te pas deur nie met die heidene te vermeng nie.

Ongelukkig het daar met verloop van tyd wel vermenging met heidene plaasgevind.    Heidense simbole en praktyke het oral in die land opgeduik en die geloof in God ondermyn.  Vermenging het tot verbastering gelei en verbastering tot geestelike verval.  Verbastering loop altyd op geestelike verval uit.  Daarvan getuig die Bybel baie duidelik.

Asaf skryf: “ o God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak” (Ps.79:1).   Jeremia is nog duideliker: “Die teenstander het sy hande  uitgesteek na al haar  kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in die vergadering nie mag kom nie” (Klaagl.1:10),

Om sake te probeer red en Israel van hul verdraagsaamheid jeens die heidene te laat afsien, het God verskeie profete gestuur om sy volk tot besinning te bring.  Hy praat met hulle deur Jeremia:  “Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie; wat ore het, maar nie hoor nie” (Jer.5:21).  Hy praat ook met hulle deur Amos: “...soek wat goed is, en nie wat sleg is nie sodat julle kan lewe...” (Amos 4:14).   Hy praat baie hard met hulle deur Jesaja: “Hoor die woord van die Here, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra.... Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen” (Jes.1:10,16).

Die Bondsvolk se geestelike- en volksverval het begin toe hulle ʼn aptyt vir die verbode dinge in die lewe ontwikkel het. Luister hoe ontsteld is Jesaja daaroor: “ ʼn Os ken sy besitter en ʼn esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie” (Jes.1:3).   Toe die Bondsvolk later nie meer wou hoor nie, het God heidene as ʼn tugroede in sy hand gebruik en die volk in ballingskap laat gaan – Israel na Assirië en Juda na Babel.

Wat was die Bondsvolk se sonde?  Hulle het dit wat hulle uit die hand van God ontvang het, nie waardeer en derhalwe nie opgepas nie.   Ja, spyt kom altyd te laat as mense nie leer wat om betyds te vermy nie!

Elke volk ontvang gawes uit God se hand; gawes soos grondgebied, godsdiens, taal, kultuur en vele meer.   Dis alles heilige gawes, opsy gesit, en nie bedoel om op die wêreldmark aan die hoogste bieër verkoop te word nie.   Jy verkoop nie sulke dinge nie; dis God se gawes en derhalwe heilige bedrog!

God wil hê dat elke volk sy gawes aan hulle, moet geniet.  By geleentheid kry Paulus ʼn spreekbeurt in Athene en spel vir die kosmopolitiese bevolking van daardie wêreldstad God se doel met volke uit: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense  van hul woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek ...” (Hand.17:26,27).

Let op die woorde: “ sodat hulle die Here kon soek.” Afsonderlike nasies soek na die wil van God in hul lewe.  Dis die seën van nasionalisme.  Daarenteen soek saamgeflanste nasies slegs die wil van die mens.  Dis die vloek van internasionalisme.

Die mensdom het van oudsher af ʼn mense-eenheid nagestreef.   Let maar net op wat by Babel gebeur het!   Die strewe na ʼn kunsmatige mense-eenheid is ʼn kenmerk van die mens-sonder-God.   Baie mense het al deur die eeue mense-eenhede op die been probeer bring; beroemdelandsleiers soos Alexander die Grote en ontspoorde kerklui soos Desmond Tutu met sy reënboognasie.  Dit het nog nêrens in die wêreld gewerk nie, maar klokslag misluk.  Die geskiedenis leer mos dat mense nie uit die geskiedenis leer nie!

In Jes.60 verkeer Juda al baie jare in Babel.   Baie het al tou opgegooi dat hulle ooit weer vry sou word en Jerusalem sou sien: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink” (Ps.137:1).  Ag, as hulle maar net daardie muur wat God om hulle gebou en hulle in hul onverskilligheid afgebreek het, kon herstel!

God straf sy kinders gereeld, maar nie vir altyd nie.  Koning Dawid skryf: “Hy sal nie vir altyd twis en vir ewig die toorn behou nie” (Ps.103:9).  Juda het haar gevangenisstraf feitlik uitgedien.  Die tyd van haar vrylating was naby sodat God haar daarop begin voorberei het. “Staan op, word verlig; want jou lig kom en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.  Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jou sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word” (Jes.60:1,2).

Wat ʼn opgewondenheid heers daar nie by ʼn gevangene as hy weet dat hy binnekort vrygelaat gaan word nie!  Dis die gevoel wat God onder die ballinge in Babel laat posvat het; ʼn gedempte opgewondenheid:  "Ons gaan nie meer baie lank hier wees nie! "

God het terselfdertyd ook ʼn nuwe gevoel van nasionalisme onder die ballinge laat posvat.  Wie baie lank in gevangenskap verkeer, verloor maklik sy  menswaardigheid en gevolglik ook sy volksgevoel, veral onder heidene.   Niks vernietig volksgevoelens soos volksvreemde vennootskappe nie.  Jy begin naderhand soos heidene op te tree soos met Israel en Juda gebeur het.

Sommige van die ballinge het sterk gestaan; ander het mettertyd gevou.  Dink maar aan Daniël se drie vriende wat nie voor die beeld van Nebukadneser gebuig het nie.  Net drie uit die duisende ballinge buig nie!

In Ps.137 vind ons ʼn getuienis van ballinge wat sterk gestaan het: “Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ʼn lied gevra.... Hoe sou ons die lied van die Here kan sing in ʼn vreemde land?  As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand  dan homself vergeet!” (:3-5).

God het in sy groot genade ʼn nuwe gees van volksliefde onder die ballinge laat posvat.  Daarsonder sou hulle nie ʼn nuwe begin in hul vrygeworde land kon maak nie.  Geloof in God en ʼn gesonde volksliefde gaan hand aan hand.

Daarom het God hulle net voor hul vrylating opnuut met ʼn liefde vir hul volk besiel.  Patriotisme kan goed of sleg wees.   As dit bloot ʼn blinde opwelling van gevoelens is, kan dit gevaarlik wees.   Maar ʼn volksgevoel wat in die reddende geloof in Jesus Christus geanker is en van sy Voorsienigheid bewus is, is vir ʼn volk goud werd.

God beloof aan die terugkerende Bondsvolk ʼn nuwe begin: “Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie, maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof”. Hoe verlang ons nie ook daarna nie!

Alles in ons land is in puin – ons volkslewe, reg en geregtigheid, veiligheid, die kerklike lewe, ja, alles is soos in oud Jerusalem in puin.   My wens vir my volk is dat God ons gebede sal hoor en, soos destyds met die Bondsvolk, in ons lotgevalle sal ingryp sodat ons dit wat deur heidene fyngetrap sal herwin en ons mure Heil en ons poort Lof genoem kan word.  Ja, dat die lug in Suid-Afrika so suiwer sal raak dat booswigte nie verder daarin sal kan asem haal nie!

Amen!