AAN DIE VOETE VAN JESUS

Ds Andrè van den Berg

“ .... en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf” - Luk.7:38

By geleentheid loop ʼn man by ʼn klompie verveelde seuntjies verby.  “Waarom speel julle nie?” vra hy. “Ons wil graag oorlog-oorlog speel, oom, maar ons kan nie” antwoord een mismoedig.  “Maar waarom nie?” vra die man verbaas. “Omdat elkeen van ons die generaal wil wees” antwoord die mismoedige outjie.  Dit onderstreep een van die grootste probleme van ons tyd;  ʼn selfverheffing en grootheidswaan wat weg van Jesus af lei en die gelooflewe oneindige oneer aandoen.

Enersyds stoot niks jou so ver van Jesus af weg as die eie-ek nie.  Andersyds bring niks jou so naby as nederige onderdanigheid nie.   En daarvan getuig Johannes die Doper: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh.3:30).  Ongelukkig sien ʼn mens dit maar selde; selfs by mense wat Christus as hulle Verlosser bely.  Dan gebeur dit dat God iemand wat nie eens ʼn kerkganger is nie, gebruik om vir kerkmense te wys hoe om reg op te tree.    Dit was die geval met die Barmhartige Samaritaan wat vir kerkmense kom wys het wat naasteliefde is.   Diegene van wie verwag is om barmhartigheid te bewys, doen dit nie, maar hy van wie dit die minste verwag is.

So het dit gebeur dat ʼn straatvrou by geleentheid kerkmense ʼn belangrike les kom leer het in nederigheid.   In Luk.7 lees ons dat Jesus aan huis van ʼn sekere Fariseër was - ʼn gesiene man in die gemeenskap.  Terwyl hulle eet, het ʼn straatvrou by die deur ingebars en aan Jesus se voete neergeval.  Almal het haar herken as die handelsware van die plaaslike bordeel.  Miskien het sommige van die gaste gou hul gesigte verberg om te voorkom dat sy hulle herken!

Om dié vrou aan die voete van Jesus te sien, moes vir die gasheer ʼn baie groot verleentheid gewees het.  Dan staan daar geskryf:  “ .. en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf”. Hoe getuig dit nie van ʼn lewe wat radikaal verander het nie - van die weë van Satan na dié van Christus en, leeg van die eie-ek, in ʼn volle onderwerping aan sy voete.

Die Bybel vertel vir ons feitlik op elke bladsy wat God alles vir ons doen.  Deut.1:31 sê dat Hy ons dra -  soos ʼn vader sy kinders.   Jes.11:11 sê dat Hy ons aan sy bors dra.  Jes.49:2 sê dat Hy ons nie net dra nie, maar ook beskerm.  Wat doen ons vir Hom?  Waar wil Hy ons hê?   Aan die voete van Jesus!  En daar is sewe goeie rede hiervoor.

(i) Ons is aan Jesus die hoogste eerbied en verheerliking verskuldig.  Kyk na die straatvrou in die huis van die Fariseër.   Hoe getuig haar doen en late daardie dag nie van eerbied en die verheerliking van Jesus nie!   Sy het geweet dat haar sonde groot is en dat alleenlik Jesus haar redding kon skenk.  Aan die voete van Jesus buig sy as onderdaan voor die Koning van alle konings.  Ja, elke knie sal voor Hom buig – Fariseër en straatvrou!

(ii)  Om aan die voete van Jesus te verkeer, het nie net vir die vrou ʼn gevoel van geborgenheid gegee nie, maar ook die wonderlike sekerheid van verlossing.   Die ou dinge is verby; alles het nuut geword!   Aan die voete van Jesus was vir haar ʼn vorm van boetedoening.   Haar sondeberou het haar tot trane beweeg.  Ja, hoe laer ʼn sondaar voor Jesus buig, hoe sekerder is hy van ʼn Jesus wat al sy sondes vergewe.   In daardie posisie is die mens dan ook die geskikste in God se diens.  Slegs aan die voete van Jesus word mense vissers van mense.

(iii)    Aan die voete van Jesus word ʼn sondaar verander van kind van Satan na kind van God.  In Luk.8 lees ons van so ʼn geval; weereens iemand aan die voete van Jesus.  En hierdie keer is dit ʼn man; die besetene van Gadara.  Hy wou aanvanklik niks met Jesus te doen hê nie.  Maar nadat Jesus die bose geeste uit hom gedryf het, lees ons: “...en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit ...” (:35).

(iv) Aan die voete van Jesus vind gelowiges wat smeek, dikwels verhoring van hul gebede.   Wanneer pleit ʼn mens op sy  ernstigste?  Op sy knieë.   Jy mag ʼn baie geleerde, vooraanstaande mens wees, maar as jou hart aan flarde is, vind jy slegs aan die voete van Jesus ware troos.

In Luk.8 lees ons van ʼn sekere Jairus.  Hy was die hoof van ʼn sinagoge.  Sy 12 -jarige dogtertjie was besig om te sterf.  In vers 41 lees ons: “... en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom”. Smekend val hy voor die voete van Jesus neer en sy gebed word verhoor.  Sy dogtertjie genees.  Dit laat my aan dié liedjie dink:  Aan die voete van Jesus is daar genesing....

(v)   Daar was vir Jesus se leerlinge geen beter plek as om aan sy voete te sit nie.  In dié posisie het hulle, vol bewondering en afwagting elke woord van Jesus ingedrink.   Dink hier aan die Bergpredikasie.   Nadat Jesus gaan sit het, het die skare in afwagting van sy leer aan sy voete gaan sit.

(vi)  Aan die voete van Jesus is die beste plek om dankbaarheid te betoon.  In Luk.17 lees ons van tien melaatses wat van Jesus genesing ontvang het, maar dat net een Hom na die tyd vir die genesing kom bedank het. “Het tien nie rein geword nie?  En waar is die nege?” (:17).  Dis ook die probleem van ons tyd; mense toon min dankbaarheid vir dit wat hulle uit Christus se hand ontvang.   Ons tel nie ons seëninge nie.  Ons kla eerder met ʼn fyn witbrood onder die arm.   Hoe moet God voel?   Net soos ʼn vader wat goed na sy kinders omsien, maar hulle gedurig hoor kla.  Miskien het dit tyd geword dat ons weer laag aan die voete van Jesus buig en Hom vir al sy weldade dank!

(vii)   Aan die voete van Jesus keer mense se lewens soos dié van die straatvrou radikaal om.  Maar wie was hierdie straatvrou wat Jesus se voete kom salf het?   Wat was haar naam?  Joh.11:2 antwoord ons -  haar naam was Maria.  Sy het saam met haar broer Lasarus en suster Martha in Betanië, naby Jerusalem gewoon.  “En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was”. Jesus was baie lief vir hierdie drie mense en het dikwels by hulle aangedoen.

Hoe het Maria se lewe nie in Jesus omgekeer nie!  Sy was een van die vroue wat die oggend van die opstanding eerste by Jesus se graf was.  Die vroue wou die liggaam van Jesus met kruie balsem.  Maria wou weereens iets fisies vir Jesus doen, al was Hy dood, soos hulle gemeen het.

Geen mens kan neutraal teenoor Jesus staan nie.   Wie voor Hom buig, word ʼn nuwe skepsel al was hy ook die grootste sondaar.  Maria is ʼn wonderlike voorbeeld van ʼn lewe wat deur die Heilige Gees omgekeer is - van straatvrou na geloofsvrou.  Sy het nie bewustelik na nederigheid gestreef nie.  Dit was die natuurlike gevolg van haar toegewyde lewe.

In ʼn wêreld van liefdeloosheid, mag-dronkenskap, eergevoeligheid en ʼn gebrek aan nederigheid, selfs in kerklike kringe, is daar vir die ware kind van God geen beter plek as aan die voete van Jesus nie.   Dis die plek waar God se grootheid skitter – aan die voete van Jesus.  Niks plaas die gelowige so buite Satan se bereik soos aan die voete van Jesus nie.  Waar sit jy vandag?  Aan die voete van Jesus of die kring van die spotters waarvan Ps.1 praat?

Amen!