Ds Andrè van den Berg
“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie” - Jes.43:18
In tye van droefheid toon God Hom al vir baie eeue lank aan gelowiges as ʼn versorgende God. Ongeveer 700v.C. sê Hy vir Juda wat in nood verkeer het: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie....” (:2). God is by almal wat Hom eer, betrokke of dit volke of enkelinge is: “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe” (:4).
Die afgelope paar jaar het daar met talle gelowiges bitter onaangename dinge gebeur wat hulle hul toevlug opnuut na God laat neem het. Onmin, eerloosheid en geweld was deel van die pakket. Moord en roof het die hoogte ingeskiet. Korrupsie deur hooggeplaastes en hul politieke kaders het ons ekonomie vir die soveelste keer sedert die aanvang van die skrikbewind lamgelê. Berigte van opstand, geweld en burgerlike ontwrigting het mediaberigte oorheers.
Hierdie ontwrigting sal nie iewers in die nabye toekoms verdwyn en voorspoed soos ʼn lig wat aangeskakel word die staatkundige duisternis verdryf nie. Ontwrigting is en bly deel van heidene se politieke mondering. Wat kan ons as gelowiges daaraan doen? Daar is twee moontlikhede. Ons kan iewers in ʼn hoekie gaan sit en maar net hoop en bid dat hierdie plaaslike skrikbewind spoedig einde sal kry.
Die ander moontlikheid is om ons soos rugbyspelers vir die geloofswedstryd wat binne ʼn paar minute gaan afskop, gereed te kry. En dis net moontlik indien ons bo-oor die trauma van die verlede gaan kyk en sy negatiewe ervarings agter ons laat. Ons kan dus of terugkyk of vorentoe kyk.
Die gelowiges in Juda het gesukkel om vorentoe te kyk. Hulle verlede was so traumaties, dat die toekoms vir hulle net een kleur gehad het - swart! Juda het hul vryheid verloor en aan heidene ondergeskik geraak; presies dieselfde wat met ons volk gebeur het! Al verskil is dat Juda in gedwonge krygsgevangeskap beland het en die Boerevolk in selfopgelegde gevangenskap.
Babilon was in die dae van Jesaja so magtig dat daar vir haar krygsgevangenes geen hoop op bevryding was nie. Geen volk kon Babel se wêreldheerskappy beëindig nie. Gevolglik het Juda op die walle van die onheilsame Kebarivier baie mismoedige in hul slawe-tente gesit en wonder wat die toekoms vir hulle sou oplewer. Al waaraan hulle kon dink, was die verlede. Hoe droewig! As ʼn volk nie meer ʼn toekomsvisie het nie, hou hy eintlik op om te bestaan. ʼn Volk sonder ʼn toekoms is slegs ʼn karikatuur van ʼn volk.
Wanneer Juda daar in die vreemde aan hulle verlede dink, dink hulle aan hul voorouers se uittog uit Egipte na God se ongelooflike ingryping. God het vir ʼn volk wat menslik gesproke geen toekoms gehad het nie, in hul donkerste nag ʼn toekoms geskep. Ongelukkig was dit alles net soete herinnerings. Die tyd het intussen eeue aangestap en die situasie baie verander.
Miskien het Juda daar in Babel gewonder of die God wat Moses en sy mense uit Egipte bevry en na die beloofde land laat optrek het, nog in staat was om sulke verlossingswerke te doen? Juda was net werklikheidsbewus want tussen die volk op die walle van die Nyl en dié op die walle van die Kebarivier het immers 800 jaar verloop; ʼn baie lang tyd!
Die heidene van die Ou Nabye Ooste het geglo dat gode by wyse van oorloë die toekoms van volke bepaal. Dat Juda oorwin is, was aan Marduk, die god van Babel, te danke. Hy was te sterk vir die God van Juda. Altans, so is geglo. Miskien was daar van die krygsgevangenes wat self begin wonder het of daar nie tog waarheid in hierdie heidense geloof gesteek het nie. Die ongunstige omstandighede waarin hulle was, het nou nie juis die geloof in die God van die Bondsvolk bevorder nie!
Dan sê Jesaja vir die krygsgevangenes dat dit goed is om na die verlede terug te kyk. Dit help gelowiges om te onthou wat God al vir hulle gedoen het en so ʼn geloofsgeheue maak gelowiges dankbaar. Desondanks durf gelowiges nooit so in die verlede vasval, dat hulle nie met die lewe kan aangaan nie. “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie” (:18).
Jesaja het egter vir Juda goeie nuus: God gaan in hul lotgevalle ingryp! “Kyk Ek gaan iets nuuts maak... Ek maak ʼn pad in die woestyn en riviere in die wildernis” (:19). Jesaja se boodskap getuig van ʼn geesdriftige opbou na ʼn vrylating - die een goeie ding word deur ʼn volgende een opgevolg. Juda moes een ding doen - God op sy Woord neem. Daar was lig in die donker tonnel!
Kort hierna het dinge skielik begin verander. Die leër van koning Kores die Pers, het teen alle verwagting in die Babiloniërs op hul baadjie gegee en Persië die nuwe wêreldheerser laat word. Geskiedkundiges sê almal dat dit totaal onverwags was. Die Perse het net nie daardie slaankrag gehad nie. Wat het hier gebeur? Kores het ʼn instrument in God se hand geword. Soos wat God vir Babel as ʼn tugroede in sy hand teen Juda gebruik het, het Hy deur Kores van hulle ontslae geraak om Juda te bevry.
Tereg sê Jesus vir die dissipels dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom gegee is. Al is die vyand ook hoe sterk; God bepaal die oorwinning. Kyk wat Hy met Gideon en sy 300 man teen 135,000 Mideaniete gedoen het! God het Kores die wêreldheerskappy gegee om vir Juda en Israel wat al 130 jaar voor Juda na Assirië in ballingskap weggevoer is, te laat terugkeer. Die ryk wat in die tyd van Salomo geskeur het, het weer een geword. Hoe verrassend werk God nie met sy kinders nie!
God se wonderverlossing van Juda word in Jes.43 met ʼn groot dors vergelyk: “.... Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink” (:20). Om sonder water te voet na Jerusalem te stap, sou ʼn gewisse dood in daardie woestynagtige gebied beteken het. God het soos met die uittog uit Egipte vir sy volk voorsien deur vir Juda selfs riviere te laat ontspring waar daar geen riviere was nie.
Wat leer ons hier uit Jes.43? Dat God vir elke gelowige lewensreisiger sorg. Ook vir my en jou. Geloof daag ons uit om vorentoe te kyk en God se riviere en fonteine in hierdie geestelik barre land van ons raak te sien en te geniet.
In die geestesoog sien ons ʼn moeë woestynreisiger aan die einde van sy fisiese kragte oor ʼn duin strompel. En ewe skielik is daar ʼn oase met die koelste water reg voor hom; ʼn oase waarvan hy nie geweet het nie omdat dit nooit vantevore daar was nie, sprekende van God se genadige ingryping!
Soos vir Juda, wil God sy kinders wonderlik versorg. “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:4-7).
Die Boerevolk is net soos Juda ook in krygsgevangeskap. Die enigste verskil is dat ons geografies nog dieselfde grondgebied bewoon. Ideologies is ons egter in Babilon met heidene wat oor ons heers. Kyk maar net hoe skiet die heidensimbole nie soos paddastoele op nie, self op mense se arms, bene en lywe. Dis demone, skedels en doodbeendere. Alles getuig van die dood en ʼn skrikbewind in ons volksgeledere!
Is dit verby met Suid-Afrika? Isa dit klaar met Kees? Nee, God laat vaar nie die werke van sy hande nie! Hy het nie ʼn Christenvolk aan die suidpunt van Afrika kom plant net sodat heidene dit later kon verwoes nie. Die ooreenkoms tussen die geskiedenis van oud-Israel en dié van die van die Boerevolk kan nie geminag word nie. Dis ooreenkomstige geskiedenisse!
Ons redding is naby. God het die Boerevolk lief soos wat Hy Juda liefgehad het: “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe” (:4). Ja, ons gaan al lank deur baie diep waters. Ons volk is nie net verraderlik polities ontwortel nie, maar ook verraderlik kerklik mislei. Desondanks het God ons nie verlaat nie. Hy het ons met ʼn heiden karwats hard geslaan maar nooit afgeskryf nie.
God gaan wonderbaarlik in ons toekoms ingryp. Siener van Rensburg sien dat hierdie ingryping so groot gaan wees, dat dit die wêreld verstom sal laat. God gaan die genade wat Hy aan Juda bewys het, ook aan die Boervolk bewys sodat ons getuies vir Hom sal wees: “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig” (:21).
Ons sal egter een ding moet doen - die onaangename dinge van die verlede in die verlede laat. Jy kan nie vir die toekoms voorberei deur aan die verlede vas te klou nie. Ons is almal produkte van ons verlede. Moet nooit ʼn gevangene daarvan wees nie! Laat die verlede gaan ten einde die toekoms te gryp want dan sal 2016 vir ons ʼn krag jaar vir God en ons volk wees.
Amen!