Ons vier vandag weer Paasfees en bring hierdie dag soos 'n Sondag deur. Waar kom die idee van Paasfees vandaan? Kom ons kyk weer na die oorsprong daarvan.
Met elke plaag wat Egipte getref het, het die Israeliete ʼn magsdaad van God aanskou. Dit het groot spanning met die Egiptenare veroorsaak. Toe Moses aankondig dat God deur Egipte gaan trek en al die eersgeborenes sou ombring, het die Farao weereens nie geluister nie. Israel sou weer oorgesien word, maar dié keer nie sonder ʼn sigbare geloofsdaad nie (Hebr.11:28). Elke huisgesin moes ʼn lam slag en die bloed aan die kosyne smeer sodat die doodsengel die huis nie besoek nie.
Die Israeliete het dit gedoen en bly lewe. Daarna is elke huishouding in Egipte getref waarna die Farao onvoorwaardelik bevel gegee het dat Israel moes trek. Die Egiptenaars het uit vrees vir nog plae selfs by die Farao aangedring om die Israeliete weg te stuur. Israel het van die geleentheid gebruik gemaak om klere asook goue- en silwerware van hul onderdrukkers te eis. Die Egiptenare het alles gegee en ná die uittog ʼn sug van verligting geslaak (Ps.105:38).
Die Israeliete het in die rigting van die Skelfsee getrek. God het die pad bedags met ʼn wolkkolom en snags met ʼn vuurkolom aangedui. Die getal Israeliete was ongeveer 600,000 man te voet buiten die vroue en kinders. ʼn Klompie Egiptenaars wat ontsag vir Israel se God gehad het, het ook saam met hulle getrek (Ex.9:20). Israel het haastig dog nie holderstebolder uit Egipte vertrek nie. Hulle was selfs gewapen (Ex.13:18) en het ook die gebeente van Josef saam met hul geneem (Jos.24:32).
Hierdie uittog is die allerbelangrikste gebeure in Israel se ganse geskiedenis. Dit was die begin van hul vrye, selfstandige volksbestaan. Die nag waarin die doodsengel by hulle verbygegaan het, sou voortaan as ʼn feesdag gevier word. Die slag van ʼn lam moes jaarliks in dieselfde maand (Abib) feestelik gevier word en pasga genoem. Dit beteken verbygaan of verskoon en dui op die gebeure van daardie nag. Pasga het in ons volksmond paas geword - paasfees. Ongesuurde brood is sewe dae lank ter herinnering aan die uittog genuttig (Deutr.16:3). Paulus sien hierin ʼn beeld van die heiligmaking en noem Christus die ware Paaslam (1 Kor.5:7,8).