DAAR IS DIE LAM

Ds Andrè van den Berg

“Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” - Joh.1:29 (Gen.22:1-13)

Net voor die herfs is tuine gewoonlik op hul mooiste.  Dis ʼn lus vir die oog om ʼn goedversorgde tuin te sien en die geur van blomme te geniet.   Die Bybel is ook ʼn tuin - die tuin van God se genade. Wie daardeur loop, word telkens van die prag en die geur van God se liefde vir sondaars bewus.

Een van die mooiste blomme in God se tuin van genade is die gegewendheid dat Jesus as die Lam van God gekom, gesoek en gered het (Luk.19:10).   Dit staan volop in God se tuin van genade.

In Gen.22 lees ons van ʼn gebeure wat ʼn voorafskaduwing was van die Lam van God wat sou kom.  God sê vir Abram: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet. Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Gen.22:2).

Ons kan ons nooit die sielewroeging in Abraham se gemoed indink nie; al die vrae in sy hart!  Waarom eis God ʼn menseoffer?   Waarom eis Hy vir Isak, die seun waarop hy en Sara soveel jare lank gewag het?   Engele uit die hemel het dan vir hom kom sê dat hulle op hul gevorderde ouderdom ʼn seun sal hê!  En nou wil God hierdie seun van hom wegneem?  Wat van God se belofte aan hom  “want deur Isak sal daar vir jou ʼn nageslag genoem word” (Gen.21:12)?

Abraham vertrek egter gehoorsaam na die bestemming wat God vir hom sou aanwys.  Drie dae lank stap hy en ʼn klein gevolg, waaronder Isak, na hierdie plek.   Sy gemoed is swaar want hy sou sonder Isak na Sara terugkeer.  Sou sy dit verstaan?  Dit kan so maklik die einde van haar geloof en hul huwelik wees!

Abraham slaag die geloofstoets en verkry ʼn plek op die geloofshelde se galery: “Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggebore seun geoffer” (Heb.12:17).   Die skrywer sê wel dat Abram sy seun geoffer het.  Eerstens omdat hy dit werklik sou gedoen het as God hom nie gekeer het nie.   En tweedens om die verband tussen Abraham en God wat beide seuns geoffer het, te beklemtoon.  Onthou, hy skryf aan die Hebreërs; Jode.

Wat ʼn geloof het Abraham nie gehad nie.    Hy het aan iets geglo wat nog nooit met ʼn mens gebeur het nie – dat ʼn kinderlose dooie mens ʼn nageslag kan hê!   Abraham het nie aan God se belofte getwyfel nie, maar geglo dat enigiets vir God moontlik is.   En wat ʼn vreugdevolle geloofservaring het hy nie gehad nie toe God sy seun gespaar het!

Luister wat sê Jesus op die Olyfberg aan sy dissipels: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly” (Joh.8:56).   Op die berg Moria het God Abraham beloof om die eintlike Offerlam te stuur.   Ongeveer 2000 jaar daarna wys Johannes die Doper na Jesus en kom die aankondiging: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”.

Kom ons stap verder in God se tuin van genade en ons kyk na die eerste pasga.  In Exodus lees ons dat Israel op die punt was om die slawehuise van Egipte te verlaat toe hulle ʼn opdrag van God kry: “Julle moet ʼn lam hê sonder gebrek... En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte  en aan die bo-drumpel, en aan die huise waarin hulle dit eet ... baie haastig moet hulle dit eet...” (Ex.12:5,7 en 11).  Die simboliek is treffend – die mens moet met God versoen ten einde sy oordeel af te wend.

Na die uittog uit Egipte en aankoms in Kanaän het die Jode hierdie goddelike verlossing elke jaar met groot dankbaarheid en ʼn gepaste fees wat Paasfees genoem is, herdenk.   Tydens hierdie fees is daar baie offerdiere geslag.   Eeue later sou Jesus, die Lam van God, ook op ʼn Joodse Paasfees geslag word!

Die Jode het baie erns daarmee gemaak om hul kinders aan die geskiedenis van die Uittog te herinner.  Hierdie vrywording was die sentrale as waaromheen die Jode se ganse volkslewe gedraai het.  Gevolglik is hierdie stuk volksgeskiedenis waar die Jode deur die simboliese bloed van ʼn lam bevry is, van geslag tot geslag oorvertel.   Dit was egter  ʼn voorafskaduwing van wat later sou gebeur het toe die bloed van die eintlike Paaslam mense van die grootste slawemeester, Satan, bevry het.  Paulus skryf: “... want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor.5:7).

Al vier die Evangelies vertel die verhaal van hierdie slagting.  Wanneer ons Nagmaal vier, dink ons hieraan.   Dis die as waaromheen die Nagmaal draai, dat Jesus ons van die slawebande van Satan bevry het.

In ons geestesoog sien ons drie kruise op ʼn koppie ongeveer ʼn kilometer buite die Damaskuspoort staan.  Die slagting het begin.  Ons hoor hoe spot ʼn ter dood veroordeelde terwyl ʼn ander een hom bestraf en van Jesus die belofte van ʼn ewige lewe saam met hom ontvang - redding deur die bloed van die Lam.

Ons reis deur die tuin van God eindig by Openbaring met Johannes as banneling op die eensame eiland Patmos.  Christus toon hom in verskeie hemelse gesigte die bittere pad wat die kerk tot aan die voleinding sou loop maar ook die uiteindelike oorwinning oor Satan.   Gelowiges moenie moedeloos word nie, maar juig oor die triomf wat daar saam met die Lam van God op hulle wag!

In Openbaring maak Johannes graag van die uitdrukking Lam van God gebruik.  Hy skryf: “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ʼn Lam asof Hy geslag is ...” (Openb.5:6).

By geleentheid oorweldig die skynbare troostelose situasie Johannes so, dat hy trane stort.   Daarna verander die toneel en sien hy Christus se oorwinning.  Hy sien dat dit ʼn oorwinning deur Jesus se bloed is en besef dat daar vir ʼn mens geen ewige toekoms sonder Jesus Christus is nie.   Die pad van oorwinning loop deur die offerbloed van Jesus.  Daar is geen ander brug van versoening tussen God en mens nie.  Jesus sê tereg:  “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).

As ons aan Jesus se kruisiging dink, raak ons bedroef.  Dit was ʼn verskriklike lyding wat in die woorde van die 12 Artikels met die woorde “en ter helle neergedaal” beskryf word.   Dit beteken egter nie dat Jesus na sy dood iewers in die diepte van die hel versink het nie, maar dat Hy pyn en ellende ervaar het soos iemand wat in die hel verkeer.

Die kruis van Christus staan egter nie in die teken van rou of droefheid nie, maar oorwinning.  En dis vir gelowiges rede tot groot dankbaarheid.  Ons hoor in Openb.5 iets hiervan: “...en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer... Toe sing hulle ʼn nuwe lied en sê: U is waardig om die boek op te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop...” (:8.9).

Abraham se enigste seun is gespaar.  God het Syne nie gespaar nie, maar as ʼn volkome versoening vir al ons sondes laat sterf.   Dis die hart van die Evangelie en een van die grootste redes waarom sondaars hul moet bekeer – om deur die bloed van Christus van die ewige dood (hel) gered te word.

Johannes die Doper het onder moeilike omstandighede geleef.  Sy land is deur heidene regeer en sy kerk deur Satan mislei.  Hy was staatkundig en kerklik ontwrig.  Desondanks het hy nie gehuiwer om te getuig nie.  Hy wys na Jesus en sê:  “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”.

Johannes se onverskrokke getuienis vir Jesus en die waarheid, het hom sy lewe gekos toe die koning hom op ʼn ouderdom van ongeveer 32 jaar laat onthoof het.  Johannes was ʼn getuie tot die dood toe.  Hoe lyk jou getuienis?  Het jy die geloof en die moed om in hierdie heidenbedeling en ontwrigte kerklike wêreld sonder huiwering van Jesus en die waarheid te getuig of verkeer jy in gemaksone en swem maar saam met die stroom?

Die Bybel waarsku dat dit aan die einde van die tyd lewensgevaarlik gaan wees om die geloof in Jesus te bely.  Duisende gelowiges gaan hul lewens verloor.    Die laaste gelowiges sal net soos die eerste gelowiges geloofsbeproewing met lewensverlies ervaar.

Mag God gee dat ons vas sal staan en selfs met ons laaste asem onverskrokke sal getuig: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”.

Amen.