Ds Andrè van den Berg
“Toe roep die Here God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?” - Gen.3:9
Jare gelede het my oumagrootjie op Sonop gewoon en altyd hoenders in ʼn hok gehad. By geleentheid het sy tarentaaleiers in die veld opgetel en onder ʼn broeis hoenderhen gesit. Toe die tarentaalkuikens uitbroei, het hulle so anders as die hoenderkuikens die hen onmiddellik verlaat en gaan wegkruip. Waarom? Omdat dit in hulle aard is om so op te tree – dis hul natuur.
Dit laat ʼn mens so aan sondaars dink – mense wat van hul hemelse Maker af wegvlug. Hierdie droewige waarheid begin in Gen.3. Ja, daar is talle hartseer hoofstukke in die Bybel. So lees ons in Rigt.16 van Simson wat so ʼn belowende begin gehad het, vol van die Here en met besondere liggaamskrag geseën. En dan verval hy in sedeloosheid en alles loop verkeerd soos dit maar met mense gaan wat die geloofspad verlaat.
Dan staan daar in vers 20 droewige woorde: “Want hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie”.
ʼn Entjie verder lees ons van koning Saul wat ook die geloofspad verlaat en selfs by ʼn heks vir raad gaan aanklop het (1 Sam.28). Die eerste geseënde koning van Israel verval tot op ʼn vlak waar hy die skemerwêreld van die Satan betree om met bose geeste te heul! In Mt.26 is daar nog ʼn droewige berig oor Petrus wat Jesus verloën het en in 2 Tim.4:10 skryf Paulus: “Want Demas het my verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het”. Droewige verhale!
Die droewigste verhaal is en bly egter die eerste een in Gen.3. Al die ander gebeure is aan hierdie eerste een te wyte. As die eerste een nie gebeur het nie, sou die ander nooit plaasgevind het nie. Gen.3 is die droewige verhaal van die mens wat van sy Maker af probeer wegvlug.
Kyk waar begin alles. God skep vir Adam as eerste mens op die aarde. Ons kan ons nie indink hoe dit moes voel nie. God noem hom Adam wat grond beteken; ʼn omskrywende naam omdat Adam uit die aarde gemaak is. Adam dra iets goddelik in hom – hy is na die beeld van God geskep. Dit beteken nie dat hy soos God lyk nie, maar dat God vir Hom in Adam ʼn gespreksgenoot geskep het. Adam was die enigste van God se skeppings wat met Hom kon praat; nie enigeen van die diere nie. Daarna lees ons dat God ook vir hom ʼn vrou skep.
Die mens was egter nie die eerste van God se skeppings nie. Lank voor sy skepping het God diensknegte in die hemel gemaak - engele. By geleentheid het daar in die hemel opstand teen God se gesag gekom en is die leier, Lucifer, saam met al die engele wat met hom saamgespan het, uit die hemel gewerp. Die Bybel sê dat dit ʼn derde van al die engele was! Daarna is Lucifer die Satan (teenstander) en die gevalle engele bose geeste of demone genoem.
Satan was briesend oor sy verlies en het God so hartstogtelik gehaat, dat hy alles wat God gemaak het, wou verwoes. Hy het geweet dat hy God nie self kon aanval nie omdat Hy te sterk vir hom was. Gevolglik het Satan hom na die Tuin van Eden gewend – die woonplek van die mens. Dit was ʼn wonderlike woonplek. Adam en Eva was voor God soos hoenderkuikens sonder enige wilde aard en vluginstink. Niks het hulle gejaag nie.
By geleentheid het God besluit om die mens se gehoorsaamheid te toets. Adam en Eva was vegetariërs en het net van vrugte geleef. Om hul gehoorsaamheid te toets, het God hul verbied om van een spesifieke boom se vrugte te eet. Dit word die proefgebod genoem. Dis toe dat Satan hom as ʼn slang voordoen en hom met ʼn vraag na die vrou as die swakkere geslag wend: “Is dit so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome in die tuin nie?” Toe sy dit bevestig en sê dat God so ʼn oortreding met die dood sou straf, was Satan gereed met ʼn leuen: “Julle sal gewis nie sterf nie” .
Hierdie sterf is meer as net fisies doodgaan; dit gaan hier grotendeels oor die geestelike dood. Rom.6:23 sê dat die loon van die sonde die dood is. Die feit dat ons sondig, is die rede dat ons doodgaan, ongeag of dit ʼn koning of ʼn arbeider is – almal gaan een maal dood. Ongelukkig gaan die meeste mense ook 'n tweede maal dood. Hoe gebeur dit? As jy tydens jou lewe tot bekering kom en in ʼn persoonlike verhouding met Christus verkeer, sterf jy net eenmaal. As jy egter geestelik onverskillig leef en nooit tot bekering kom nie en sterf, wag daar ʼn tweede en verskriklike dood met die oordeelsdag op jou!
Hoe weet ons hierdie dinge? Die Bybel sê dit baie duidelik. Jesus sê: “... wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh.11:25). Dis hulle wat betyds tot bekering kom en Jesus as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar. Hulle sterf net een maal. “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie...” (Openb.20:6). Wie ʼn tweede dood sterf, verkeer vir ewig in die hel!
Satan het Eva verwar. Wie moes sy glo? Wie praat die waarheid? Sy moes ʼn keuse maak en dit sou die mees beslissende keuse in die ganse geskiedenis van die mens word. Het sy reg gekies? Hoe lyk die wêreld vandag? Dis vol oorlog, moord, opstand, roof, verkragting, haat, nyd, verraad en talle ander lelike dinge; alles die gevolge van ʼn verkeerde keuse wat sonde gebaar het!
In vers 7 lees ons: “...toe gaan al twee se oë oop”. Hulle word as’t ware uit ʼn nare droom wakker en besef dat Satan vir hulle gelieg het, Die mens het vir hom ja en vir God nee gesê. Wat ʼn vangs - die kroon van God se skepping!
Wat sou God nou met hulle doen? Verwerp? Aan hul eie lot oorlaat? God was baie teleurgesteld in hulle net soos 4000 jaar later toe Petrus vir Jesus verloën het. Ons lees dat Petrus daarna maar ʼn baie lae profiel gehandhaaf en stil geword het. In die dissipelkring was Petrus altyd voor in die spreekwoordelike koor. Sonde skuif die mens agter toe; soms baie ver agtertoe.
Wanneer God met Adam en Eva praat, is hulle bang. Hulle was altyd lief vir sy stem en altyd voor sy aangesig. Nou is hulle bang en kruip weg. Die mak kuikens het ʼn vluginstink ontwikkel en wild geraak vir hul Maker!
Sonde maak dat ʼn mens die goeie dinge in die lewe verlaat. Die Verlore Seun is ʼn sprekende voorbeeld hiervan; ʼn jong man wat sy vader se huis verlaat en later tussen varke beland het. So ook Demas, nog ʼn jong man, wat die Evangelie aanvanklik vurig verkondig het en toe die goeie weg vir die wêreld verlaat het.
Adam en Eva het gemeen dat hulle vir God kan wegkruip; Hy die alsiende en alwetende God! Hoor wat sê die Bybel oor God se alsiendheid: “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar” (Ps.139:7,8). “Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die Here. Vul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here” (Jer.23:24).
Wat doen ons met sonde? Sonde is baie swaar. Ons moet iets daarmee doen. Daar is een van twee keuses – vlug voor God se aangesig of gee dit vir Jesus. Net Hy kan iets daarmee doen: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28). En dit geskied kragtens die bekering. Simon van Sirene het Jesus se kruis gedra. Jesus wil ons kruis dra. Moenie wegkruip nie, maar kom uit en gee oor.
Die meeste mense kruip eerder weg en weier om oor te gee. Baie van hulle kruip op vreemde plekke weg – kroeë, bordele, dobbelsale... almal plekke van sondige genot. Die heel vreemdste plek waar baie mense wegkruip, is die kerk! As kinders wegkruipertjie speel, kruip daar dikwels een feitlik by die een wat oë toehou weg om hom eerste te blok. So kruip baie mense vir God in die kerk weg; sommer hier teenaan Hom! Hulle is wel fisies in die kerk maar geestelik staan hulle ver buite.
Hoe staan jou saak met Jesus Christus? Ken jy Hom as jou Verlosser en Saligmaker? Kan mense dit sien? Is die vrug van die bekering duidelik in jou lewe? Hoor God vandag nog roep: “Mens, waar is jy?” Wat antwoord jy Hom?
Amen!