Ds Andrè van den Berg
“Het jy My lief?.... Laat My lammers wei” Joh.21:15-19
As ʼn mens aan een van Jesus se dissipels dink, kom die naam van Petrus gewoonlik eerste in die gedagte op. Hy was ʼn uitsonderlike mens met wie sondaars hul kan vereenselwig. Petrus was tipies mens met baie foute, maar wat nooit van die genade verval het nie. Sy lewe onderstreep een baie groot Bybelse waarheid – eenmaal kind van God, altyd kind van God!
Petrus was ʼn voortvarende mens; die maak-en-breek soort. Hy het maklik gepraat, maar nie altyd gedoen wat hy gesê het nie. In Joh.13 sê hy: “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U gee” (:37). En kyk wat gebeur by Getsemane – al die dissipels vlug en verlaat Jesus.
Om alles te vererger eien ʼn diensmeisie hom as ʼn dissipel en hy vrees vir sy lewe: “Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie” (Mt.26:57).
Wat ʼn ommeswaai van “Ek sal my lewe vir U gee” na “Ek ken die man nie”. Dis ʼn droewige verhaal – hy het sy Meester verloën. Wat nou? Waarheen nou? Het hy nog plek onder die dissipels gehad?
Toe Petrus van die opstanding hoor, was hy bly. Hy moes egter op een of ander stadium Jesus in die gesig kyk; iets wat soos ʼn berg voor hom was wat hy nie kon systap nie. Sou Jesus en die ander dissipels hom wegjaag? Hy sou hulle nie kon verkwalik nie! Al uitweg was om maar op die agtergrond te bly en te wag en sien wat gaan gebeur.
Petrus het maar op die agtergrond gebly en ʼn lae profiel gehandhaaf. Jesus het na hom gekyk, maar niks gesê nie. En dit het Petrus stukkend gemaak. As Jesus maar net wou praat, al was dit net om hom weg te jaag, maar Hy swyg! Hoe ondraaglik is ʼn skuldgevoel nie! Jesus sou weldra met hom praat.
Ná die wonderlike visvangs was die tyd ryp vir ʼn gesprek met Petrus. Hy was op daardie stadium alreeds in ʼn proses van verandering. Dit het gebeur toe Jesus die Heilige Gees oor hulle vaardig gemaak het: “En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees” (Joh.20:22). Van toe af het die Gees in Petrus se lewe begin werk om hom vir sy groot taak wat vir hom voorgelê het, voor te berei.
Wat ʼn verligting toe Jesus direk met hom begin praat! Ja, baie gepraat kan ʼn steurnis vir die oor wees, maar ʼn stilte kan ook oorverdowend wees. Daarom die verligting toe Jesus hom vra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?” Waarom het Jesus hom as Simon aangespreek terwyl Jesus self vir hom die naam Petrus gegee het? “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou” (Mt.16:17). Miskien het Petrus sleg gevoel dat Jesus hom op sy ou naam aanspreek. Kon dit moontlik ʼn aanduiding wees van genade wat verval het? Jesus voeg ook iets by sy vraag na Petrus se liefde – “... meer as hulle hier...” Waarom voeg Jesus dit toe? Toe hulle kort voor die kruisiging vir die eerste nagmaal byeen was en Jesus van sy naderende dood gepraat het, was Petrus baie gou om te sê: “Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie”. Petrus laat Jesus verstaan dat hy Hom liewer het as al die ander dissipels. En toe dop hy die toets! Die agtervoegsel aan Jesus se vraag het hom dus aan sy voortvarendheid aan die nagmaaltafel herinner.
Jesus vra Petrus ʼn tweede en derde keer na sy liefde vir Hom. En sy reaksie? “Petrus het baie bedroef geword”. Waarom vra Jesus hom drie maal die vraag? Omdat Petrus hom drie maal verloën het; drie maal nie die verskuldigde liefde teenoor Jesus betoon het nie.
Die NT is oorspronklik in Grieks geskryf, ʼn mooi taal wat net een woord vir elke begrip het. Neem maar net die Afrikaanse woord liefde. Ek sê dat ek my vrou liefhet, of my broer of God; altyd dieselfde woord. Jy kry dit nie in Grieks nie. Die Grieke onderskei drie tipes liefde – eros (eroties), agape (broederlik) en filei (goddelik). Jesus vra Petrus twee keer of hy Hom soos ʼn broer liefhet (agape) en laastens as sy God liefhet (filei).
Wanneer Petrus bevestigend antwoord, voel hy verlig soos ʼn afgesnyde lidmaat wat op die vrae van die Formulier vir Heropname antwoord. Jesus herstel Petrus in sy amp en gee hom opdrag om sy skape te laat wei. Dit was nie ʼn sending opdrag nie, maar eerder om sorg te dra vir die plaaslike gemeente wat op die naderende Pinksterfees sou ontstaan.
Waarom praat Jesus eers van lammers en dan van skape? Lammers dui op nuwelinge in die geloof – hulle wat op Pinksterdag en daarna tot bekering sou kom. Skape is die sterkeres wat al ʼn tyd lank saam met Jesus en die dissipels was. Of jy ʼn skaap of lam is, almal kan afdwaal. Jesaja profeteer tereg: “ Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen ons eie pad geloop...” (53:6).
Petrus het geval en was sy amp onwaardig. Hy kon homself nie aan sy eie skoenrieme optrek nie. Jesus moes sy hand na hom uitsteek soos een nag op die See van Galilea toe Petrus sy oë van Jesus weggeneem en hy begin sink het. Petrus het op ʼn ander manier geleer dat daar geen herstel sonder ʼn goddelike ingryp moontlik is nie.
En Petrus het opgestaan. Wat ʼn verandering was daar nie in sy lewe te bespeur nie! Hierdie man word een van die kragtigste instrumente in God se hande, plaaslik en later ook in die buiteland. Die Sendbriewe wat hy geskryf het, is ook in die Bybel opgeneem vir Christene deur die eeue om te lees en te leer.
Toe Petrus daardie oggend op die oewer van die See van Galilea bevestigend op Jesus se vrae antwoord, was sy ja werklik ja soos dit ʼn ampsdraer wat Jesus waarlik liefhet, pas. Hy het gedoen wat hy belowe het; ʼn les vir elkeen wat onverantwoordelik met ʼn kerkamp omgaan.
Uit Petrus se lewe leer ons dat geen mens so ver van God kan verval dat hy buite God se sig is nie. In Ps.139 skryf koning Dawid:
“Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou” (:7-10).
Niemand ontval God se genade nie. Waar sien ons dit beter as op Golgota waar ʼn misdadiger wat reeds gekruisig is, genade ontvang as Christus hom verseker dat hy in die paradys sal wees. Kyk ook na God se genade in die Nagmaal waar die tekens van pyn en lyding spreek – die volmaakte versoeningsoffer.
Wat vra God van ons? Om vir sy skape te sorg. Dit beteken nie dat ons predikante of evangeliste moet word om uitvoer aan hierdie opdrag te gee nie. Christus verwag van ons om sorg vir mekaar te dra. Paulus skryf: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van God” (Gal.6:2).
Om dit te kan doen, moet ons liefde onder mekaar hê. En dis ʼn ding wat nie net onder wêreldlinge skaars geword het nie, maar ook kerkgangers. Ons leef in ʼn wêreld waar ek in my klein hoekie en jy in joune leef. Wie so leef, kan nooit Jesus se skape laat wei nie.
Christus roep gelowiges nie tot selfverheffing op nie, maar tot selfverloëning. Hoe kan iemand vol van God se genade en tegelykertyd vol van homself wees? Hoe verskriklik om God se gawes te ontvang en nog steeds selfsugtig te wees! Paulus skryf aan die Korintiërs: “ ... En wat het jy wat jy wat jy nie ontvang het nie? ...” (1 Kor.4:7). Ons bestaan nie vir onsself nie, maar ook vir ander.
Kom ons gee uit dankbaarheid uitvoering aan Jesus se nuwe gebod: “ ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh.13:34,35).
Amen!