Ds Andrè van den Berg
“Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word” - 1 Tim.4:9
Wat is vandag 100% betroubaar?
Soveel dinge is as betroubaar voorgehou wat op die ou end nie betroubaar was nie.
Dink maar aan die miljoene wat mense al met skynbaar betroubare beleggingskemas verloor het! Dieselfde ding gebeur ook op politieke en kerklike gebied. Mense word mislei om die leuen vir die waarheid aan te sien. Daarom raak mense al hoe meer wantrouig en onseker.
Niemand is egter so onseker soos heidene nie. Hulle het duisende jare gelede al geglo dat die son opkom en die maan ’n sekere siklus voltooi. Daarvolgens het hulle geplant en geoes. Dis egter as geheimsinnige kragte gesien wat deur gode beheer is. Daarom was daar vir bykans elke ding ’n god – deurposte, hoekpale, vuurherde ens. Daar is offers vir die vrugbaarheid van mense en diere asook vir die opbrengs van die grond gebring. Heidene het geglo dat hulle aan die willekeur van ’n magdom van gode uitgelewer was.
Niks het sedertdien verander nie. Luister hoe praat mense oor die lewe; alles is ’n waagstuk! Dis bv. ’n dobbelspel om vandag te boer. Jy sit saad en kunsmis in die grond en ek hoop dat daar reën en ’n oes gaan wees. Dis ook ’n dobbelspel om te studeer want dit kos baie en dan is jy nie eens seker of jy in hierdie onreg-bedeling gaan werk kry nie. Die hele lewe is ’n dobbelspel!
Karl Barth het selfs gesê: Om in God te glo, is ’n sprong in die donker. Komende van ’n teoloog! Wat is dan betroubaar? Miskien die Bybel? Daar is baie teoloë wat dit deesdae bevraagteken! Sommige sê dat die OT net ’n samestelling van ou verhale is wat die Jode vir hulle kinders om kampvure vertel het - mitologie.
Gevolglik moet die Bybel ontmitologiseer word. Die Bybel is nie die Woord van God nie, die Woord van God moet in die Bybel gesoek word. Die waarheid moet van die verdigsel geskei word. Die probleem is: Wie besluit daaroor en wat bly oor? Watter waarborg het ons dat dit wat oorbly 100% betroubaar is?
Ontspoorde teoloë het bv. gesê dat Paulus nie geweet het waarvan hy praat toe hy in Rom.1 teen homoseksualisme geskryf het nie. En die belydenisskrifte? Baie sien dit as verouderde Calvinistiese idees.
Desmond Tutu het in 1980 gesê dat hy nie aan die maagdelike geboorte van Jesus glo nie. Jesus was ’n doodgewone kind wat eers later in sy lewe van sy heilige roeping bewus geword het. Hy het ook nie werklik uit die dood opgestaan nie, maar slegs in die harte van die dissipels. Wat is die gevolg van so ’n verwronge siening? Dat Jesus nie God is nie en derhalwe ook nie die Verlosser nie.
Die stroom van Skrifkritiek word al hoe sterker en so tipies van ’n wêreld vir wie daar geen God, geen betroubare Woord, geen belydenis of iets is wat 100% vasstaan nie. Hulle wil God nie ken of iets oor Hom sê, behalwe as hulle vloek nie. Sy naam is wel op miljoene se lippe wanneer hulle kwaad word of indruk op ander wil maak!
Hoe moet gelowiges vandag die geloof behou wanneer die hoofstroomkerke struikel? Die antwoord lê in die woord van Josua: “...maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos.24:15). Huisgesinne moet God sterker begin dien!
Ons het dit in die verlede te maklik gehad. Christendom is as’t ware vir ons met ’n lepel ingegee. Op skool was daar Bybelperiodes, Sondae is kerktoe gegaan en Sondagskool bygewoon. Miskien was daar nie werklik honger na die Woord nie. So asof mense teë geraak het vir die Bybel en die kerk.
Christendom was te maklik bekombaar. Duisende Bybels het by skole in pakkamers stof lê en vergaar. In hospitale was daar ’n Bybel by elke bed. In elke dorp was daar ’n kerk of meer wat eredienste gehou het. Dis grootliks iets van die verlede.
Vandag word amperse konserte aangebied net om mense kerktoe te lok. Gevoelsgodsdienste is aan die orde van die dag; kragtoertjies en kulkunsies die lot! Alles gaan om vermaak! God se heiligheid en Bybelse standaarde word aarde toe getrek. Mense klim nie na God toe op nie, Hy word neergehaal na hulle toe.
Ek raak ontsteld oor volksgenote wat ’n aptyt vir hierdie fopgodsdienste ontwikkel, leuens as die betroubare woord beskou en heftig verdedig! Mense het tevrede geword met die skrale dieet wat sulke kerke aanbied: kleurryke poedings - maar met ’n hoofgereg wat bitter min geestelike kilojoules bevat!
Die tyd is boos. Ons kan nie van ’n heidenstaat verwag om Christelike waarhede te beskerm nie. Ons kan nie van eerbare kerke verwag om mense te dwing om by die waarheid te bly as hulle ’n aptyt vir leuens ontwikkel het nie. Kortom: Ons moenie van die staat of die kerk verwag om dit te doen wat onsself behoort te doen nie.
As ons nie self glo en ons geloof gaan uitleef nie, sal niemand dit namens ons doen nie! Ons moet self sorg om op Sondae saam met medegelowiges na die Woord te luister. Ons moet die Bybel goed ken sodat ons kapsie teen verkeerde prediking kan maak. Ons moet sorg dat die skool waar ons kinders is, God en ons volkswaardes eerbiedig. Kortom: Ons en ons gesin moet die Here dien!
Ek kan nie bewys dat God bestaan nie. Ek kan net glo dat Hy my Hemelse Vader is en dat ons ook op kerklike gebied bymekaarmaak wat bymekaar hoort. Geen kragtoertjies of kulkunsies kan my oorhaal om te glo dat ek in lewe en in sterwe aan God behoort nie. Net God kan my laat glo!
Niks kan my ooit oortuig dat dit wat in die Bybel staan, alles waar is nie. Jare gelede het ’n Jood ’n boek geskryf wat deur baie gelees is: Die Klippe sal dit Uitroep. Hy het aan die hand van opgrawings probeer bewys dat die OT reg is. Ook dit as sodanig sal geen mens laat glo nie. Daarvoor het ons die Heilige Gees nodig. Slegs Hy kan my laat glo dat elke woord wat in die Bybel staan, waar en betroubaar is soos wat Paulus aan ’n jonge Timoteus skryf.
As mense my vandag sou vra watter bewys ek het dat God bestaan en deur sy Woord met mense praat, sal ek eerlik moet antwoord dat ek geen bewys het nie. As ek wetenskaplike bewyse vir die bestaan van God gehad het asook die betroubaarheid van sy Woord, dan was dit nie vir my nodig om te glo nie, want dan was dit mos onbetwisbaar bewys! Maar nou glo ek omdat ek nie anders kan nie. God laat my glo. En dis vir my genoeg!
Amen!