HET JY JOU UITNODIGING ONTVANG?

Ds Andrè van den Berg

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  Toe sê Hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” - Openb.19:7,9

Christelike kerke het verlede week wêreldwyd Pinksterdag herdenk; een van die groot feesdae in ons kerklike jaar.  Wat maak dit so groot?   Drie dinge.  Eerstens herdenk ons die koms van die Heilige Gees en tweedens die stigting van die eerste Christelike kerk op aarde.  Pinksterdag is die kerk se verjaarsdag.

Net voor sy hemelvaart het Jesus die dissipels beloof dat Hy die Heilige Gees sou stuur om hulle by te staan.  En hoe het die Heilige Gees, die derde persoon van die Drie-eenheid, nie gekom nie!    Lukas beskryf in Hand.2 hierdie koms in besonderhede – die geluid van ʼn geweldige rukwind, tonge van druppende vuur, die dissipels wat in 14 bekende tale die Evangelie van redding in die tempel verkondig terwyl Jode en pelgrims verbysterd en verbaas staan en luister!

Daar is egter ook ʼn derde rede waarom Pinksterdag vir gelowiges groots is. Dit herinner hulle aan iets wonderliks wat nog gaan gebeur, maar waarvan min mense kennis het en nog minder daaraan dink.  Die eerste twee redes waarom Pinksterdag vir gelowiges groots is, lê in die verlede; die bekendstelling van die Heilige Gees sowel as die stigting van die Christelike kerk.  Die derde rede waarby ons stilstaan, lê in die toekoms.  Dis iets wat nog moet gebeur.  En wat ʼn iets gaan dit nie wees nie!

Hierdie iets het met ʼn baie groot belofte van Jesus aan alle gelowiges deur die eeue te doen.  Soos wat ons ʼn voorbereidingsdiens voor Nagmaal hou, is Pinksterfees die voorbereiding vir ʼn toekomstige maaltyd wat elke gelowige na die wederkoms van Christus by gaan aansit – sy bruilofsfees.

Hoe gaan hierdie fees lyk?  Die boek Openbaring lig vir ons die sluier so ʼn klein bietjie op oor die omvang van hierdie fees.   Openbaring is ʼn vreemde boek omdat dit verborge literatuur is en op ʼn ander manier as die ander boeke van die Bybel gelees moet word.  Openbaring handel grootliks oor die eindtyd.  En God was goed om vir ons hierdie boek te gee want daardeur laat Hy ons in sy teleskoop die verre toekoms bekyk.

Vanaf hoofstuk vier verneem ons van verskriklike dinge wat op die mense van die eindtyd wag - plae, rampe, pessiektes, hongersnood, verdrukking, dwaalleer en die verskyning van die Antichris.  Christus verseker gelowiges egter dat dit alles deel van Satan sy laaste stuiptrekkings is en einde gaan kry.  Gelowiges     moet onder sulke omstandighede net kalm bly.  Dit gaan die bewys van hulle geloof wees.  Al lyk dit asof  Satan gaan wen, soos wat Sataniste vas glo, is hy ʼn verloorder.  Hy weet wat vir hom voorlê; die hel, en hy sidder in afwagting daarop.  Is jy bang vir die hel?  Satan nog meer!

Openb.19 val die oog anders op.  Dis ʼn baie rustiger toneel.  In Openb.2:10 lees ons:  "Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee”. In hoofstuk 19 sê Jesus as’t ware: “Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou aan My bruiloftafel laat sit”. Die gedagte van ʼn bruiloffees aan die einde van alle tyd is nie vreemd aan die Bybel nie.  Jesus vertel hiervan in die Gelykenis van die Maagde.

Dis altyd aangenaam om ʼn uitnodiging na ʼn bruilof te ontvang.  Dit sê vir jou iets – diegene wat jou uitnooi ag jou so belangrik dat hulle jou daar wil hê om in hul vreugde te deel.   Dis presies wat God van elke gelowige dink:  ” Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet ...” (Jes.43:4).

In Openb.19 hoor Johannes die geluid van baie stemme wat halleluja sê.  Verder bemerk hy ʼn opgewondenheid onder hulle amper soos bruilofsgaste wat op die bruid sit en wag.  Die bruid van Christus is op die punt om die hemelse vertrek in te gaan en God is op die kansel, gereed om die huwelik te voltrek.

Wie is hierdie bruid?  Die ware kerk van God wat uit alle gelowiges deur die eeue bestaan.   Wie is die bruidegom?   Jesus Christus, die Seun van God.  En hierdie huwelik word om middernag voltrek – die einde van alle tyd.

Dit was ʼn lang verlowing.  Toe Jesus hier op aarde was, het Hy hom aan sy kerk kom verloof.   Al wat oorbly, is die dag van die troue en dit is sommer baie naby!   Mt.25 sê: “Daar kom die bruidegom!”  Openb.19 sê: “Kyk, Hy kom op die wolke!”  Die wolke is sy troukar!

Laat ons egter na Pinksterfees 2016 terugkeer.  Hierdie fees is die ontvang van Jesus se troukaartjie.  Dit word jaarliks uitgestuur om ons daaraan te herinner dat Hy kom en ons aan die bruiloftafel verwag.

Hierdie kaartjie lees min of meer as volg:

Hiermee word ............. uitgenooi na die huwelik van Christus en sy bruid.  Die datum sal later aangekondig word. Die onthaal is in God se heilige tempelsaal, Gouestraat 7, Nuwe Jerusalem.  Bring niks saam nie.  Alles sal voorsien word”.

Dit klink amper soos die bekende woorde in Jesaja: “O, almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” (Jes.55:1).  O, ja, dan is daar ook ʼn naskrif onder aan die uitnodiging: “Maak solank gereed want die datum sal op kort kennisgewing bekend gemaak word”.

Pinksterfees herinner ons aan hierdie huweliksfees wat vir elke gelowige voorlê.  Ons word elke jaar op Pinksterdag daaraan herinner.  Die teksvers sê: “... salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam”. Is jy een van die genooides?

Sien jy werklik uit na hierdie fees?  Dis nie ʼn denkbeeldige fees nie, maar iets wat vir seker op elke ware gelowige wag.  Dit gaan ʼn fees in die hemel wees soos geeneen ooit op aarde was nie!  In die OT lees ons van die luisterryke fees tydens die inwyding van die eerste tempel in Jerusalem.  Daar was duisende mense teenwoordig.  Hoeveel te meer nie die hemelse fees nie!   Dit sal die fees van alle feeste wees!

Jesus se uitnodiging na sy huwelik is egter nie ʼn ope uitnodiging nie.  Dis slegs vir wedergeborenes – mense wie se name in die boek van die lewe opgeteken is.  Daardie name vorm die uitnodigingslys.  As jou naam nie daarop voorkom nie, is jy nie genooi nie en sal jy nie ingelaat word nie al hamer jy soos die vyf dwase maagde aan die feessaal se toe deur.  Dit sal nie oopgemaak word nie!

Dis was Pinksterfees – Jesus se herinneringsfees.  Het jy al die uitnodiging na sy troue ontvang?   Moet dan nie met ʼn lang gesig loop soos iemand wat geen hoop het nie.  Leef soos iemand wat dankbaar is dat Jesus jou uitgenooi het en daar wil hê.  Die Bruidegom is op pad!

Amen!