ONS LEWENS- FONDAMENTE

Ds Andrèvan den Berg

“As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?... die opregtes sal sy aangesig sien” (Ps.11:3,7)

Om probleme met buitestaanders te hê, kan nog verwerk word.   Maar om dit in jou eie binnekring te moet trotseer, is dikwels onverkwiklik.  Sulke wonde genees baie moeilik.  Mense wat jy vertrou het, laat jou in die steek.  Jou eie mense steek jou in die rug.  Jy weet later nie meer wie om te vertrou en wie nie.  Die beryming van Ps.146 waarsku:  “Moet op prinse nie vertrou nie” .

Ps.11 vertel van Dawid wat in die geloof sy onbekende toekoms aan ʼn bekende God toevertrou het.  Die skrywer van Hebreërs vra ons om God te vertrou: “Werp dan julle vertroue, wat ʼn groot beloning het, nie weg nie” (10:35) en sê daarna dat God sy beloftes nakom: “Want nog ʼn klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe (:37,38).

Geloof en vertroue is twee kante van dieselfde muntstuk.

  Om in die geloof te leef, moet ons God 100% met ons toekoms vertrou.  Ps. 11 is die getuienis van ʼn man wat dit onder moeilike omstandighede gedoen het.  In sy uur van krisis het Dawid se geloof en vertroue in God sy lewe nie uitmekaar laat val nie.

Ps.11 is tydens ʼn burgeroorlog geskryf toe Absolom teen sy eie vader oorlog gevoer het om die koningskap te bekom.  Absolom het baie sterk ondersteuning gehad, selfs van Dawid se eertydse vertrouelinge wat teen hom gedraai het.  As volksgenote volksvyande word, begin die son oor ʼn ordelike staatsbestel te sak!

Dawid se manskappe was erg bekommerd oor sy veiligheid en by hom gepleit om, soos ʼn voël wat in gevaar verkeer en na veiligheid vlieg, na ʼn berg te vlug.  Dit het vir Dawid gevoel asof sy lewensfondamente omgegooi is.   Sy land was ontwrig en vlug het na die enigste uitweg gelyk.   Dawid vlug nie na ʼn berg toe soos aanbeveel is nie, maar neem eerder sy toevlug na God. “ ʼn Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom die sterke”(Ges.265).

Dawid leer gelowiges ʼn belangrike les: Moenie vir goddelose mense bang wees nie, al is hulle ook talryk.   God sal self met hulle afreken!  God se troon en tempel is nie verniet in die hemel nie.  Hy is deeglik bewus van die goddelose se optrede.  Hulle gaan nie skotvry daarvan afkom nie.  Dawid kondig in die geloof selfs God se oordeel oor hulle aan!   Die regverdiges se geloof beskaam nie.  Hulle sal sien hoe God die onreg haat deur geregtigheid te laat seëvier!

Dawid het geweet dat geen berg veilig genoeg is nie: “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?  My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.  Hy kan jou voet nie laat wankel nie “ (Ps.121).  Die beste skuilplek is nie op ʼn berg nie, maar by God: “Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent…” (Ps.27:5).

Wat laat Dawid in hierdie benarde situasie so onwrikbaar op God vertrou?  Dit wat vers 4 noem: Niks ontsnap God se oog nie!   Hy staan nie onverskillig teenoor Sy kinders nie, maar weet van al die onreg en bose planne teen hulle.   Niks ontsnap Sy alsiende oog nie.

Die goddelose mag vir ʼn rukkie grootmenere wees.  Al hulle planne misluk omdat God Hom by die reines skaar: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Mt.5:8).  Gelowiges sal sien hoedat God hulle nag in dag en hulle smart in vreugde omkeer!

Die gelowiges was destyds bang vir ʼn ontwrigting van die samelewing.  Sodra orde verdwyn, is ontwrigting onvermydelik.  Dawid noem dit ʼn omkeer van die fondamente.  Te oordeel aan die Hebreeuse werkwoordvorm wat hier gebruik word, was ontwrigting aan die orde van die dag – dit was die een ontwrigting na die ander soos wat dit vandag nog met mense gaan wat God nie ken nie.

As Dawid van fondament skryf, dui dit op die ordelike gemeenskapslewe wat die gelowiges in Israel geken het.  Dit was ʼn bedeling van wet en orde en ʼn bestel waarin God gevrees is.  In Aramees beteken fondament die basis van ʼn berg; iets wat vas lê.  Ps.11 praat dus van die omkeer van gewigtige sake.

In dié Psalm praat Dawid nie direk met God nie; hy praat met sy mense oor God.  Dawid bid God nie om bevryding nie omdat hy weet dat God hom sou red.   Hy troos hom daaroor dat God in Sy heilige paleis is; ʼn uitdrukking wat God se koninklike heerskappy oor die ganse mensdom bevestig.

Dawid het geweet dat God die regverdiges toets.  Hulle uiteinde is baie anderste as dié van die goddeloses.  Regverdiges word gesuiwer terwyl goddelose soos skuim weggeblaas word.   Daarom spreek Dawid in vers 6 die begeerte uit dat God op die goddelose mense vangnette, vuur en swawel asook ʼn gloeiende wind sal bring.   Kortom: Dat God hulle in hulle na hul dade sal vergeld.  Vuur en swawel laat ons aan die verwoesting van Sodom en Gomorra dink.

Dawid se onwrikbare vertroue in God lê in God se karakter self; Hy is regverdig en sal derhalwe nie toelaat dat goddeloses regverdiges vernietig nie.   Daarom die belofte-belydenis in vers 7: “Die opregtes sal sy aangesig sien”.

Dawid het die regte ding in sy uur van nood gedoen.  Hy het na God wat alle mag in hemel en op aarde het opgekyk en geweet dat sy krag by Hom lê.   Dawid het nie na die gevare rondom hom gekyk nie.  Hy het opgekyk op soos Petrus eeue later ook een nag op die See van Galilea sou leer om te doen!

Ons volk is in ʼn krisis situasie wat soms na ʼn semi-burgeroorlog lyk soos wat volksgenote met die volksvyand saamspan.   Ons land gaan onder ʼn magdom van volksaboteurs gebuk wat selfs kansels misbruik om in die naam van ʼn misplaaste universele broederliefde die fondamente om te gooi.  Dis die grootste omkeer van fondamente in ons ganse volksgeskiedenis!

Wat kan ons daaraan doen?  Soos ʼn voël na ʼn berg land-uit vlug?  Nee, dit sal  kleingelowig wees!  Ons moet die verkeerder dinge los en geestelik weerbaar word.   In Rigters 7 gebruik God 300 regverdiges om 135.000 goddeloses te oorwin.  Wat was hulle geheim?  Hulle was geestelik weerbaar. ” En hulle het bly staan, elkeen op sy plek, rondom die laer…” (vers 21).

In hierdie skrikbewind is daar nie plek vir opregtheid, goedheid, regverdigheid,  verdraagsaamheid en die Bybelse norm van verdienste (meriete) te praat nie!  Al wat ons sien, is die omkeer van fondamente en die haat van die goddelose.

Wat kan ons aan hierdie omgekeerde fondamente doen?   Vlug na God toe!  Hoe meer fondamente omgegooi word, hoe hegter moet dit ons aan God en aan mekaar bind.    Ons moet soos Gideon en sy handjievol manskappe op ons plek bly staan.  Die Engelse sê:  to hold your turf.   Ja, as ons nie ons turf gaan hou nie, gaan ons turf sit!

Ons behoort baie meer op ons knieë voor die troon van God te staan.  Elke swaarkry, elke teleurstelling en elke smart moet vir ons ʼn venster op God se troon oopmaak.  Kyk hoe vas staan daardie troon nie.  Die fondament daarvan wankel nooit nie.   Sal ons nie opnuut ons toevlug tot Hom neem nie?

Kom ons troos mekaar dat God die goddelose op sy eie tyd sal vernietig en ʼn einde aan hierdie onophoudelike omkeer van die fondamente maak.  God is ʼn God van liefde maar ook ʼn God van straf.  Die geweldenaars sal sy straf voel!

Amen!