Ds Andrè van den Berg
“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” - 1 Thess.5:23
Hoe weet ons dat daar wel ʼn God is? Het iemand Hom ontdek soos wat ʼn wetenskaplike in ʼn laboratorium iets ontdek? Nee, niemand het God ontdek nie, Hy het Hom aan ons bekend gemaak. As dit nie daarvoor was nie, sou ons niks van God weet nie en vanoggend elders gewees het. Maar dit was God se wil dat mense Hom op ʼn besondere wyse as ʼn Drie-eenheid leer ken - Vader, Seun en Heilige Gees.
God het wonderlike dinge gemaak waarvan die mens die wonderlikste is. Die mens word die kroon van God se skepping genoem omdat hy die enigste van God se skepping is wat met sy Maker kan praat.
Daarbenewens weerspieël hy ook iets van God: die mens is ook ʼn drie-in-een: liggaam, gees en siel; elkeen met sy eie funksie.Let op die liggaam. Dis nogal geheimsinnig. Dawid skryf: “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien, en in u boek is hulle almal opgeskrywe; dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie” (Ps.139:15,16).
Die woorde dieptes van die aarde gee aan die mens se geboorte die gevoel van geheimsinnigheid want met elke geboorte word die skepping van Adam basies herhaal. Hierdie dieptes van die aarde is ʼn uitdrukking wat dikwels in die OT vir die onsigbare wêreld gebruik word. Ps.86:13 sê: “...want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.” Met ʼn geboorte laat God die mens uit sy onsigbare wêreld die sigbare wêreld betree.
Die vorming van die mens se liggaam in die baarmoeder is net so verborge soos die dieptes van die see. In Ps.139:13 gebruik Dawid ʼn metafoor om die groeiproses van ʼn fetus te beskryf – dis soos ʼn kunstige naaldwerkstuk: “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef”. Ons weet dus vir seker waar ons aan ons liggaam kom: God het dit vir ons gegee.
Die mens bestaan egter nie net uit die sigbare (liggaam) nie, maar ook uit twee onsigbare dele: gees en siel.
Wat is gees? Dis ook iets wat God vir ons gee. Ons het ʼn gees maar is as sulks nie geeste nie. Maar ons gees kan of lewend of dood wees afhangende van wat ons met Jesus doen. Dis die Pilatus-vraag: “ ... Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus? Hulle sê almal vir hom: Laat Hom gekruisig word!” (Mt.27:22). Wat kan ʼn mens met Jesus doen? Hom of toelaat of uitsluit. Hy wil hê dat ons Hom moet inlaat: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop...” (Openb.3:20).
Die Bybel sê dat ons gees die belangrikste deel van ons ganse menswees is, maar dat ongelowiges dit nie glo nie: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor.2:14).
Ons gees is die deel van ons menswees wat ons in staat stel om deur Christus in ʼn persoonlike geestelike verhouding met God, ons hemelse Vader, te staan: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Joh.4:24). Daar is geen ander verbindingskanaal met God nie; net die gees.
Die tweede onsigbare deel van die mens is die siel. Die lewe is die siel se grootmaakkamer. Dis die deel wat ons liggaam met die dood verlaat. Siel is ʼn omvattende begrip wat die mens in sy geheel aandui, nie net in hierdie lewe nie maar ook in die hiernamaals. Alhoewel daar ʼn band tussen siel en gees is, staan hulle ook los van mekaar. Siel is die kern van ons menswees; dis wie ons werklik is. Paulus skryf in 1 Thess. 5:23 oor die drie dele van ons bestaan - liggaam, siel en gees. Dis ʼn drie-in-een.
Om mens te wees, is nie sleg of minderwaardig nie. Toe Jesus, as die tweede Persoon van die Drie-eenheid aarde toe gekom het, het Hy as ʼn mens gekom; nie as ʼn engel of ʼn ander hemel-wese nie. Gevolglik is dit hemels om mens te wees. Dit behoort ons soveel meer nederige selfwaarde te gee om te dink dat ons God se beeld weerspieël!
In Gen.2:7 vertel Moses dat God die mens se liggaam ontwerp en daarna asem daarin geblaas het waarna die mens 'n lewende siel geword het. Sodra die liggaam lewensasem ontvang, ontstaan die siel. Siel bind die liggaam en gees aanmekaar en gee aan die liggaam lewe. Ons siele is aan God se ingeblaasde asem te danke!
Gevolglik vind daar by elke swangerskap 'n skeppingswonder plaas as God die siel en die gees in die fetus plaas: “Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ʼn swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie” (Pred.11:5).
“... Die Here spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer” (Sag.12:1). God gee die gees net vir ʼn beperkte tyd waarna dit na Hom moet terugkeer: “...en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred.12:7).
God het die mens geskep om in ʼn persoonlike geloofsverhouding met Hom te leef en Hom daardeur te vereer. Gevolglik is die mens se gees daarop ingestel om God te verheerlik. Hierdie verhouding ontbreek by diere en die res van die skepping. Hulle het nie ʼn lewe na die dood nie; slegs mense. En ʼn gebrek aan hierdie verhouding lei tot die ewige dood en gaan mense hel toe!
In Efes.2:1-3 skryf Paulus oor die tragiese gevolge van die sondeval – mense verkies die hel bo die hemel! Hulle wil hulle nie in ʼn verhouding met God staan nie. En dis die toppunt van dwaasheid. “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie” (Ps.14:1).
Daar is net een manier om hierdie dwaasheid op te klaar en aan die ewige dood te ontsnap: deur die bekering. En dis ʼn ingrypende lewensverandering en bewustelike toewyding aan Christus. “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus ...” (Efes.2:4,5).
Die liggaam en siel bestaan gewoonweg, maar die gees, die deel wat aanvanklik dood was, kom deur die bekering tot lewe. Mense wie se gees dood is, verstaan nie die dinge van God nie omdat geestelike dinge net geestelik verstaan kan word: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor.2:14).
Geestelike dinge word nie gevoel soos wat Charismate mense wil leer nie. Dit kan slegs deur ʼn kennis van die Woord van God en ʼn dankbare sekerheid van verlossing verstaan word. “Ek weet vir seker: Jesus is Heer – Hy het my sonde uit liefde vergeef. Ek was verlore, maar is gevind; nou het ek vrede – ek is Gods kind..” (Ges.299). Jy weet dit net!
Jesus sê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh.6:63). Ons leef deur geloof en nie deur aanskoue nie. Die ongelowige se lewe word deur die vlees (liggaam) beheers - hy is sy eie god en koning en leef soos hy goeddink. Wie se gees nie aktief is nie, se ore en oë is min werd. Die gelowige se lewe daarenteen word deur ʼn lewendgemaakte gees beheers. En dit onderskei sy lewenswandel van dié van ongelowiges.
Kom ons som op: Mense bestaan uit drie dimensies, elkeen met sy eie funksie. Ons liggaam stel ons in staat om by die stoflike aarde in te skakel. Ons siel huisves ons ganse persoonlikheid om ons stoflike bestaan te ondersteun. Ons gees is ons diep verborge innerlike wese wat met die onsienlike wêreld skakel.
Wie is jy? Is jy jou liggaam? Nee, jy is baie meer as dit - jy is gees; nie die mens aan die buitekant nie, maar die mens aan die binnekant.
Hoe lyk jy in God se oë? Is jou binnekant groter as jou buitekant? As dit nie is nie, sal jy die hemel nooit sien nie!
Amen!