...SAL JY MAAI
Ds Andrè van den Berg
“Moenie dwaal nie; God laat hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” - Gal.6:7
Die wet van die natuur leer dat as jy mielies plant, daar nie koring sal opkom nie. Jy oes wat jy plant. Paulus gebruik hierdie grondstelling om die gelowiges in Galasië ʼn belangrike les te leer: “Moenie dwaal nie; God laat hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7). Moet jouself nie bluf nie, so seker as wat ʼn boer een soort saad saai en van dieselfde soort oes, so seker sal die mens dit wat hy tydens sy aardse lewe saai, ná sy dood oes.
In die tyd van Paulus was daar baie dwaalleraars wat onkundige mense met hul slimpraatjies meegevoer het.
Dit het die waarheid en die weg van verlossing baie skade aangedoen. In die teksvers waarsku Paulus egter teen selfmisleiding. Wie dwaal, word nie altyd deur ʼn misleier van stryk gebring nie. Jy kan jouself mislei. Is die mees oortuigende leuen dan nie juis daardie een wat jy vir jouself vertel nie? Mense trap so maklik in die strik van selfmisleiding!
Paulus waarsku: “ ... God laat hom nie bespot nie ...” Die woord bespot beteken in die Grieks om jou neus op te trek, d.w.s. om iets met afkeur te behandel. Ons kan mense met ʼn mooi voorgee bedrieg maar nie vir God nie. Geen mens kan sy lewensweg vir God verberg nie. Adam en Eva het dit in die tuin van Eden probeer totdat God hulle geroep en hulle noodgedwonge na vore gekom het. Lees gerus Ps.139 waar Dawid sê dat niks God se alsiende oog ontglip nie.
Dis belangrik dat ons opreg voor God en ons medemens sal leef. Ons verlang almal na ʼn wonderlike hiernamaals saam met Jesus en die ontslape gelowiges. Maar dan moet ons reg saai want die vrug wat ek oes in die hiernamaals kom van die vrug van die saad wat ek op die aarde gesaai het af. Ek kan nie op aarde sleg leef, maar ʼn mooi hiernamaals ontvang nie. Wat jy saai, gaan jy maai!
Toe die satanis-sangeres Amy Winehouse ʼn paar jaar gelede aan ʼn oordosis dwelms dood is, het ʼn vriend op haar begrafnis gesê: “May her troubled soul find peace”. Hy het duidelik niks van God se Woord geweet nie. Vrede is die laaste ding wat sy in die hiernamaals sou vind.
Op baie grafstene pryk die woorde Rus in vrede. Ek wonder van hoeveel mense op wie se grafstene dit staan dit waar is? Beslis nie van onbekeerdes nie! Luister wat sê ʼn man wat na sy dood nie in vrede gerus het nie: “... Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam” (Luk.16:24). Pas op vir selfbedrog; dit laat jou in die hel beland!
Paulus voltooi in Gal.6:8 die belangrike les: “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai”. Hy praat van twee tipes saaiers – hy wat in die Gees en hy wat in die vlees saai. Die een maai die ewige vreugde en die ander ʼn ewige straf!
Dit word deur ʼn opdrag vooraf gegaan: “Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel aan hom wat onderwys gee” (:6). Die gedagte is om die goeie kennis wat jy het met ander te deel. Wie skatte vergader net om sy stoflike verlangens te bevredig, saai in die vlees. En wie in die vlees saai, maai die ewige verderf!
Wat doen jy met jou besittings? Wend jy dit tot die eer van God aan? “Maar dink daaraan: Wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig maai; en wie volop saai, sal ook volop maai” (2 Kor.9:6). Hoe vergelyk dit wat ek in die lewe saai met die oes wat ek na my dood verwag? Is dit realisties of bedrieg ek myself?
Gal.6:7 is ook ʼn waarskuwing om deeglik te let op die saad wat ons saai omdat ons dit aanhoudend saai: dag vir dag. Ons kan een van twee lewens lei; of in die Gees of in die vlees. Daar is nie ʼn middelpaadjie nie. Net so min ook nie neutrale saad nie. Dis òf vleeslik òf geestelik; of-of en nie en-en nie!
Die beginsel van Gal.6:7 kom ook in die OT in Hos.8:7 voor: “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai...” Hosea was besorg oor sy volk. Afgodery en sedeloosheid het so skerp gestyg, dat Israel op ʼn onvermydelike breuk met God afgestuur het. Die ergste van alles was dat Israel geglo het dat sy nie gestraf sou word nie. As God vir hulle kwaad was, moes Hy maar net weer goed word. Hulle selfbedrog het hulle ʼn 130 jaar se ballingskap gekos!
Paulus waarsku die gelowiges in Galasië om met God se oordeel rekenskap te hou: “Moenie dwaal nie; God laat hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai”.
Ons is die somtotaal van ons optrede. Dit wat ons vandag is, is die gevolg van wat ons gister gedoen het. As dinge in die lewe nie na wense verloop nie, kan ons nie ons herkoms, die omgewing of ons ouers die skuld daarvoor gee nie. Dit het wel ʼn invloed op ons lewe MAAR net sover as wat ons dit toelaat om ʼn houvas op ons te verkry.
Elke mens is verantwoordelik vir sy eie dade. Christus gaan verantwoording van ons almal eis: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Wat ons more gaan wees, hang van dit wat ons vandag doen af. Wie nie reg saai nie, kan ʼn ommekeer maak en reg begin saai soos Paulus self ondervind het. Hy skryf aan die Korintiërs dat by elkeen wat in Christus nuut geword het, die ou dinge verbygegaan het.
Die mens is dit wat hy doen. Of hy saai in die Gees of in die vlees en dra die gevolge van sy werke. Hoe lyk die werke van die vlees? “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brasserye ... (Gal.5:19-21). Hy skryf aan die Efesiërs: ” Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ʼn afgodedienaar is, ʼn erfdeel het in die koninkryk van Christus en God nie (Efes.5:5).
Hoe lyk die werke van die gees? “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Gal.5:22,23).
In Gal.6:10 versoek Paulus gelowiges om goed aan mense te doen. “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof”". Medegelowiges moet egter eerste gehelp word. In die tyd van Jesus was daar groot armoede. “ ... Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie... Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ʼn skat in die hemel wat onuitputlik is... Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Luk.12:15,33,34).
Om ʼn goeie oes te verkry, moet gelowiges aanhou goed doen: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal 6:9). Om vir God te werk, is nie tydmors nie: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor.15:58).
Die oes wat God vir ons bestem het, kom op die regte tyd: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en laat reën ontvang het” (Jak.5:7).
Kom ons leer van die boer. Kom ons hou geloof soos ʼn boer. Die salige lewe wat in die hiernamaals op gelowiges wag, is hulle wat aanhoudend saai, beskore. Wat saai jy? Watter oes verwag jy?
Amen!