GOD STRAF OOK DMV AARDBEWINGS

LEEF JY ONDER GOD SE WOEDE, OF SY SEËN?

Ds Andrè van den Berg

“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense ...”  - Rom.1:18

Ek verplaas u vanoggend in die gees na Pompeii, ʼn baie ou stad met 11,000 inwoners aan die voet van Vesuvius, ʼn vulkaan 9 km. oos van Napels.   Die datum: 24 Augustus 79nC;  ʼn dag na die sedebederwende feesviering van die Romeinse afgod van vuur.

Kinders speel in die strate, diensknegte bedien hul werkgewers en prostitute sien na hul kliënte om.  Alles in die 600 jaar oue stad verloop normaal.   Maar diep onder die aarde, buite menslike sig en gedagtes is ʼn onderaardse krag aan die opbou.  Dan skud die aarde en ʼn rivier van gesmelte rots bars uit die vulkaan en rol op die stad af.

Die geskiedskrywer Pliny die Jongere het die ramp op ʼn afstand aanskou en skryf hoe paniek uitgebreek het, mense geskreeu en mekaar vertrap het, moeders na hul kinders gesoek en oumense voor die brandende hel probeer wegkom het.  Alles tevergeefs.  Vir ses ure lank het gloeiende as op Pompeii neergesif om ʼn 4-6 meter dik doodskombers oor alles en almal te laat.  Daarna het die stad stil geword; ʼn stilte wat byna 1800 jaar sou duur totdat daar in 1863 met opgrawings in Pompeii begin is.

Die enigste stemme wat vandag in Pompeii gehoor word, is dié van gidse wat aan toeriste die tragiese verhaal van hierdie eens vooruitstrewende stad vertel.   Ek was in 1997 een van die toeriste.

Vesuvius is ʼn klein vulkaan op ʼn klein planeet in die heelal – die aarde.   Die Bybel waarsku dat die ganse heelal eendag as toppunt van God se woede gaan ontplof: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ʼn groot aardbewing; en die son het swart geword soos ʼn harige sak en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval ... en al die berge en eilande is uit hul plekke versit ... want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openb.6).

Mense moenie dink dat God se oordeel eers aan die einde van die tyd gevoel gaan word nie.  Ons voel dit deur die eeue soos met Pompeii gebeur het. “God is ʼn regverdige regter, en ʼn God wat elke dag toornig is.   As hy hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp...” (Ps.7:12,13).

Kyk wat in 1988 in Rio de Janeiro tydens die grootste homoseksuele karnaval ter wêreld gebeur het – honderde mense is in ʼn modderstorting in die stad dood.   Was dit toevallig?  Nee, dit was God se woede oor sonde; iets waaroor die meeste kerke vandag swyg en baie min leraars oor preek.

Leraars wat sondaars nie oor God se komende oordeel waarsku nie, versuim hul profetiese plig.   Selfs Jesus het daaroor gepraat.  Waarom praat leraars so min daarvan?  Omdat al hoe minder mense dit werklik glo.  Hulle glo dat ʼn God van liefde nie so ʼn iets sal toelaat nie.   Alle verkeerde dade word deesdae onder God se liefde toegeploeg.  Ja, God is ʼn God van liefde.  Maar nee, die Bybel praat anders oor sonde.  So ook die Heilige Gees: “...en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh.16:8).

Ek wonder hoeveel van ons volksgenote werklik aan God se oordeel glo?  Te oordeel aan mense se optrede, moet dit bitter min wees, want wie daaraan glo, sal hul lewe voor die Here reg kry.  Jou optrede getuig van dit wat jy werklik glo; nie dit wat jy voorgee nie.  In die Bergrede praat Jesus van goeie bome wat goeie vrugte dra, maar nie slegte bome nie.

Met die wederkoms vind daar  ʼn oordeel plaas.  Johannes skryf: “En ek het ʼn groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit ... En ek het die dode klein en groot voor God sien staan ... en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke ...” (Opemb.20:1-13).   Jeremia het dit ook sien kom: “ ...o, my ingewande, my ingewande, ek bewe van angs!   O more van my hart!  My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor .....” (Jer.4:19).

Mense praat graag oor die liefde van God, en dis reg – Hy is ʼn God van liefde.  Nogtans moet ons nooit vergeet dat Hy ook ʼn woedende God is nie; woedend oor sondaars wat t.s.v. vermanings aanhou om te sondig: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense ...”

God gee mense wat nie wil luister nie later aan die sonde oor soos met Sodom en Gomorra gebeur het.  Paulus laat die klem in Rom.1 op die gruwel van homoseksualisme val.  Die Bybel sê in beide OT en NT dat dit ʼn gruwel in God se oog is en die doodstraf verdien.  Mense wat simpatie met hierdie gruwel het, is net so skuldig daaraan as hulle wat dit beoefen:  “...mense wat – al ken hulle die verordeninge van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hul goedkeuring skenk aan dié wat dit doen” (Rom.1:32).    Hoe durf daaraan getwyfel word?!

Suid-Afrika het ʼn geestelike rekord laagtepunt bereik.  Kerke praat nie meer oor sonde nie.   Kunstenaars wat gruwelike lewens lei, word vereer, misdadigers word tot leiers verkies en politieke kaders in verantwoordelike poste aangestel.   Niemand vrees meer die woede en straf van God nie.   Soos die inwoners van Pompeii gaan hulle maar net voort om te sondig!

Gelowiges daarenteen, vrees God se oordeel.  Hulle sien hoe Hy in sy heilige woede die sonde met natuurrampe, aardbewings, vulkane, modderstortings en watervloede tref.   Hulle weet dat daar ʼn dag gaan aanbreek dat Jesus Christus die finale oordeel sal fel.  “... in vuur en vlam , wanneer Hy wraak uitoefen  op dié wat God nie ken nie en op dié wat aan die evangelie van onse Here Jesus  nie gehoorsaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan ʼn ewige verderf, weg van die aangesig van die Here ...” (2 Thess.1:8,9).

In Openb.20 skryf Johannes oor God se laaste vertoon van woede as Hy die goddelose in die ewige hel werp.  In hoofstuk 14 skryf hy:  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid” (:11).  Matteus skryf in sy Evangelie nie minder as ses maal van ʼn geween en gekners van tande nie. Hy wou hê dat sy lesers duidelik moes weet dat daar ʼn oordeel aan die kom is!

Die ongelooflike spoed waarteen ons volk verval, is ontstellend.  Alles het in ʼn afwaartse spiraal beland.   Niks ontkom aan die suigkrag van die heidendom nie.   Kyk hoe lyk ons jeug; vol heiden-kentekens soos tatoeëermerke en metaal voorwerpe deur die vel.   Die OT sê baie duidelik dat dit heidense tekens is!

Laat die aanslag van die heidendom jou egter nie moedeloos en swartgallig maak nie.   Al voel dit soms asof God Hom aan die Boerevolk onttrek het, weet ons dat dit nie so is nie.  “ ... sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4).   Dit wat ons ervaar is ʼn voorloper van die toorn van God wat kom: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense ...” God se oordeel is alreeds aan die werk en dié wat vuil is gaan nog vuiler word!

Ons leef òf onder God se seën òf sy woede.  Alles hang daarvan af hoe skoon jou lewenspad is.  Toe Paulus hierdie brief aan die Romeine geskryf het, was daar baie min gelowiges in die stad.  En om in ʼn sondebesoedelde omgewing skoon te leef, was ʼn uitdaging.  Gelowiges is aangemoedig om die geloof te los en saam met die stroom te swem soos Demas gedoen het. “Want Demas het my verlaat omdat hy die teenswoordige wêreld lief gekry het...” (2 Tim.4:10).

Om vandag waarlik Christen te wees, is net so ʼn groot uitdaging soos destyds in Rome.   Dit vereis ʼn duidelike keuse vir Christus en ontsag vir God se woede oor sonde.   Dieselfde vereistes geld ook vir die gebruik van Nagmaal.  As jy onbekeerd is en in sonde voortleef, durf jy nie Nagmaal gebruik nie.   Maar as jy jou bekeer het en sonde haat, mag jy aansit want deur sy bloed het Jesus God se woede op elkeen wat Hom as Verlosser aangeneem het, opgehef.