Ds Andrè van den Berg
“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Fil.3:7,8).
Daar is onlangs ʼn woordeboek van handgebare vrygestel vir mense wat in ʼn wêreld sonder taal leef - dié van dowes en stommes. Wat ʼn voorreg het ons nie om die Bybel ons eie taal te besit en te hoor nie! Taal is ʼn gawe van God. Dink aan die woorde van die pelgrims wat op Pinksterdag in die tempel was toe die Heilige Gees uitgestort is: ”... en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? “ (Hand.2:7,8).
Taal is ʼn gawe van God wat Hy vir elke volk op aarde beskik. Daarom het niemand die reg om ʼn ander een se taal te probeer vernietig nie. Die huidige aanvalle op ons eie taal is nie net deel van die volksvyand se lae intensiteit oorlogvoering teen gelowiges se beskaafde waardes aan die suidpunt van Afrika nie; maar, in die lig van die Skrif gesien, is dit ook ʼn vergryp teen God se wil!
Die vyandige stryd teen Afrikaans gaan oor meer as net taal. Dis ten diepste ʼn stryd van die duisternis teen die lig: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12).
Die huidige aanslag teen ons taal het begin toe mense met onversoenbare lewenswaardes in ʼn kunsmatige staatkundige model saamgebondel is. Hierdie stryd wat in die politieke arena begin het, het spoedig na akademiese instellings oorgespoel en is tans besig om ook na kerke oor te spoel.
Ongelukkig word ons taal nie net deur ander taalgroepe geteiken nie, maar ook deur talle van ons eie volksgenote geskaad; mense wat hul godgegewe erfenis versmaai het net om polities korrek te wees en die volksvyand te beïndruk. In die proses word al hoe meer van ons volksgenote van die Bybel as die bron van die waarheid afvallig!
Die Bybel sê dat God verskillende volke en tale op die aarde bestem het, ook ons Boerevolk met sy eie taal. Die vraag is of taal en kultuur enigsins ʼn plek in gelowiges se lewe moet speel? Is almal dan nie voor God gelyk nie? Moet gelowiges, gesien in die lig van die teksverse nie t.w.v. die geloof in Christus van alles wat volkseie en kultuurverrykend is afstand doen nie? Dis wat vandag in talle kerke verkondig word!
Nee, elke kultuur sluit godsdiens sowel as taal in. Dis gawes uit God se hand. Deur enigeen van die twee te vernietig, word ʼn persoon van sy Godgegewe eenselwigheid beroof. God het die Boerevolk deel van Afrika gemaak omdat Hy reg van die volksplanting af ʼn plan met ons volk het, iets waarvan ons volksgeskiedenis dan ook dankbaar van getuig!
Ongelukkig het ons volk geestelik so ontspoor dat die geloofsekerhede van die verlede vandag nie meer gehuldig word nie. En waar dit nog bestaan, word dit deur misleidende teoloë skaamteloos bevraagteken. Daarom wil baie jongmense vandag niks met die tradisionele kerke te doen hê nie. Hulle is doodgelukkig om, net soos die heidene, sonder God en sy gebod te leef.
Baie jongmense wat in konserwatiewe Afrikaanse huise groot geword en in Protestantse kerke belydenis afgelê het, is vandag by gevoelsgodsdienste tuis wat nie net die samestelling van die reënboognasie weerspieël nie, maar waarvan die voertaal dikwels Engels is. Die redes wat aangevoer word, wissel van lekkerder musiek tot gemakliker kleredrag en meer informele kerkgang. In die proses skuif hulle hul moedertaal en kultuur opsy en spits hul op tekens, wonders en emosionele belewenisse toe.
Luister na die Afrikaans wat jongmense deesdae praat. Dis ligjare van ʼn suiwer Afrikaans verwyder en so met Engelse woorde deurspek dat dit ʼn mens tot in jou siel hinder! Ongelukkig val grootmense ook toenemend hierby in; selfs jeugleraars net om jong mense te beïndruk.
Petrus waarsku dat die Satan soos ʼn brullende leeu rondloop en mense soek om te verslind (1 Pet.5:18). Daarom kry ons die opdrag in die Skrif om te waak en te bid. Die Bose breek doelbewus ons volk se kulturele- en geesteswaardes af. Mense het nie meer ontsag vir God en Sy gebod nie. Dit skep ʼn geestelike- en kultuurarmoede wat mense met elke wind van lering en verandering rond waai.
Nee, taal is nie vervangbaar nie. Geen mens leef in ’n kulturele lugleegte nie. Elkeen word in ’n bepaalde kultuur met ʼn moedertaal groot. God het voor die skepping al besluit dat die mensdom nie uit ʼn vaal, lustelose eenheid van mense sou bestaan nie, maar eerder ʼn ryke y n mensdom op die aarde Hyverskeidenheid van volke, tale en nasies.
Niemand werp God se plan omver nie. Mense het al probeer maar altyd tweede gekom. Kyk maar hoe God met die bou van die toring van Babel skouspelagtig ingegryp en mense se ydele strewe na ʼn strukturele mense-eenheid verwar het: “Kom laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi” (Gen.11:7,9).
God het verskeidenheid in die skepping ingebou om daardeur verheerlik te word: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek...” (Hand.17:26,27).
God se volkeverskeidenheid sal bly totdat Jesus op die wolke kom: “ ...want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openb.5:9). Let op - stam, taal, volke en nasies. Kyk wat sien Johannes met die Openbaring in die hemel: “Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ʼn groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale...” (Openb.7:9). Weereens stamme, tale, volke en nasies. God se wil sal geskied! Daarom staan alle pogings om mense in kunsmatige eenhede saam te smee, in die teken van opstand teen God en ontvang hulle hul verdiende straf.
Die geestelike eenheid wat God vereer, is iets anders as ʼn strukturele mense-eenheid – dis geestelik: “...en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Efes.4:3). Ons is eerstens kinders van God en tweedens deel van die Boerevolk. Volkskap is aan die toets van die Bybel ondergeskik: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus , my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Fil.3:7,8).
Dit beteken egter nie dat volkskap en taal onbelangrik is nie. Ons leef onder die Boerevolk wie se taal ons praat. Die Bybel wat ons lees, is in Afrikaans geskryf. As ons tot God bid, doen ons dit in Afrikaans. As taal onbelangrik was, sou sendelinge nie die moeite gedoen het om die taal van die plaaslike bevolking aan te leer nie. Die Bybelvertalers sou hulself ook baie moeite gespaar het deur die inboorlinge eerder die hooftale aan te leer sodat hulle die sendelinge se Bybels kon lees. Maar hulle het nie en t.w.v. hul liefde vir Christus en hul tere besorgdheid oor verlore siele, hul eie taal opsy geskuif en die inheemse taal aangeleer. Hulle het egter nooit hul eie taal geminag nie.
Taal en kultuur is vir gelowiges belangrik. Dis die kanaal waarbinne ek myself as unieke skepsel van God uitdruk. Afrikaans is die kanaal waarin ek my eie mense liefhet en my gemeenskap dien. Die 2011 sensus het getoon dat Afrikaans die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika is met byna 6,000,000 moedertaalsprekers. Xhosa was tweede en Zoeloe bo aan die lys. Desondanks word mense wys gemaak dat Afrikaans aan die kwyn is!
Die 2011 sensus het wel ’n beduidende toename in Engels as gebruikstaal getoon. Afrikaans het ʼn geringe toename getoon en Afrikatale ’n redelike afname. Dis alles aan taalverskuiwing te wyte wanneer mense van ’n sekere taalgroep binne ʼn sekere konteks hul eie taal vir ’n ander taal laat vaar soos bv. wanneer Afrikaanssprekendes met inkopies Engels praat, maar tuis Afrikaans.
Dis hartseer om te sien hoeveel Afrikaanse ouers hul kinders in Engelse skole laat onderrig terwyl Afrikaanse skole om voortbestaan veg. Dis nasionale selfmoord! Die verskoning dat kinders met ’n Afrikaanse opvoeding ’n agterstand teenoor Engelse in die sakewêreld sal hê, is onsin. Suksesvolle Afrikaanse sakelui het nog nooit in die sakewêreld teruggestaan nie!
Ons voorsate het hoofsaaklik uit Nederland, Duitsland en Frankryk gekom om deur God se beskikking ’n nuwe volksverband aan die suidpunt van Afrika te vorm. Benewens ons taal wat in Afrika ontkiem het, deel ons ook in ’n gemeenskaplike godsdiens erfenis van ons Europese voorsate – Protestantisme.
Die Franse Hugenote (1678) het juis vir hul geloof Kaaptoe gekom. Die Groot Trek het net so ’n belangrike rol in die vormingsjare van ons volk gespeel. Gedurende hierdie trek was die Bybel die trekkers se enigste handboek waarmee die Christelike waardes diep in die siel van ons volk gegraveer is. Dit was vir baie jare die enigste norm vir ʼn beskaafde lewe.
Afrikaans is in 1925 as amptelike kerktaal sowel as ’n landstaal met gelyke status erken. Daarna het die eerste Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn; ʼn duidelike bewys dat God die Boerevolk aan die suidpunt van Afrika beskik het. Vandag is dieselfde volk weens politieke en kerklike verraad van sy regeermag gestroop en geestelik verwar. Is dit ons lot? Moet ons daarin berus? Nee, om Christus ontwil, nooit! Die Boerevolk moet die waardes van sy godsdienstige erfenis herontdek, herstel en daarvolgens leef. Ons ag ons nie beter as ander volke nie. Ons is wel anders omdat God ons anders gemaak het.
Beskou dit as jou goddelike roeping om saam met medestryders die geestelike waardes van weleer hervestig te kry. Dit moet op alle vlakke van die samelewing hervestig word; in die onderwys, gesondheidsorg, politiek en ekonomie. Heidenwaardes moet vir God se waardes pad gee!
Om dit gevestig te kry, sal die vrug van die Gees ons volkslewe moet kenmerk: Krag, liefde, selfbeheersing, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, eerlikheid, opregtheid, betroubaarheid en hardwerkendheid (Gal.5). ʼn Boom word aan sy vrugte geken. Laat ons goeie vrugte dra en God bid om ons land genadig te wees.
Amen!