Ds Andrè van den Berg
“En God sal al die trane van hul oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openb.21:4).
ʼn Klompie jare gelede ry ʼn egpaar in Texas, toe die kat wat saam met hulle in die voertuig was, ongemerk by ʼn venster uitspring. Toe hulle dit later agterkom, was dit alreeds donker. ʼn Soektog in die verlate landskap sou tevergeefs wees. Hulle het toe maar aanvaar dat die kat of weg of dalk dood is. Groot was hulle verbasing toe hy ʼn paar dae later pootseer en gehawend en by hul huis opdaag!
“Hoe is dit moontlik dat die kat kon terugloop?” wou die eienaars by die veearts wat die kat ondersoek het, weet.
“Ek weet regtig nie. Al wat ek kan dink, is dat die kat net baie graag huistoe wou kom” antwoord hy.
Dink aan al die gevare wat die kat moes trotseer om by sy huis uit te kom. Maar hy het! Daar het hy kos, vrede en baie liefde ontvang. Ja, al die gevare wat die kat op pad terug huistoe bedreig het, kon hom nie van stryk bring nie.
Die Bybel sê dat ons bywoners en vreemdelinge is (1 Pet.2:11). Dit maak nie saak of ons oud of jonk is nie, ons is almal op ons laaste vaart terug huistoe. Op hierdie pad is daar talle gevare soos siekte, teleurstelling, wanhoop en ontnugtering. Openb.21:1-8 laat ons egter moed skep. God gee aan gelowiges die volle versekering dat hierdie hindernisse ons nie binne-in daardie huis sal pla nie. Dis alles tydelike dinge wat verbygaan. Ons kom uit ʼn ewigheid en keer daarheen terug.
Wanneer hierdie reis verby is, sal ons soos die verlore kat vir ewig in die vaderhuis met sy baie wonings, vrede, veiligheid in volmaaktheid wees. Wat ʼn wonderlike versekering en berusting dat as ons son op hierdie aarde ondergaan, dit in die ewigheid opgaan. Daarom is gedagtes aan die hiernamaals die wonderlikste oefening vir die siel. Ons moet net meer oefen!
Die lewe op aarde is geen maneskyn en rose nie. Beproewings kan ons soms so ontmoedig, dat ons soos die profeet Elia onder ʼn besembos wil gaan lê en wens om dood te gaan. Gelukkig het gelowiges geen beproewing waarvan Jesus nie weet nie. Hy laat ons soms deur diep water gaan om ons te leer om goeie dinge te waardeer. Alle beproewings gaan egter op die aarde agterbly.
Die lyding en beproewing wat die mens hier op aarde ervaar, vergelyk geensins met die vreugde wat vir gelowiges in die hemel wag nie. Die pad van beproewing lei dikwels na ʼn paleis van heerlikheid. Iemand het gesê dat die lewe soos fotografie is; jy het die negatiewe nodig om te ontwikkel.
Baie mense het dit nie maklik op aarde nie. Hoe moeiliker dit gaan, des te meer behoort ons na ons hemelwoning uit te sien. “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom.8:18). “Want ons ligte verdrukking wat vir ʼn oomblik is, bewerk vir ons ʼn alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor.4:17). Gevolglik is die kosbaarste ding om in die lewe te vind, die lewe sonder einde. En dit verkry ons slegs deur die bekering tot Jesus Christus.
Op pad na die vaderhuis sal ons sorge hê. Dis maar die verloop van die lewe: “Die mens uit ʼn vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus” (Job.14:1). Ronnie Belcher skryf: ” Die lewe is soos ʼn een-ster hotel, kry nie altyd wat jy bestel”. En dis so waar! Dinge verloop nie altyd soos wat ons dit beplan nie. Geen mens reis ongedeerd deur die lewe nie.
Aan die einde van die reis kom talle gelowiges ook maar baie gehawend en pootseer by God aan. Maar dan wag die hemel op hulle; ʼn plek sonder sorge en vyande, veral die mens se grootste vyand – die dood. Die teksvers sê dat niemand in die hemel sterf nie. Daar is geen pyn, lyding of droefheid nie. Niemand staan langs die liggaam van ʼn ontslape geliefde nie. Alle hartseer is eens en vir altyd verby!
“En God sal al die trane van hul oë afvee....” (Openb.21:4). Verby is die sorge van die lewe wat trane laat vloei. Daar is niks daarvan in die vaderhuis nie; geen pyn, hospitale, ouetehuise, gebroke huishoudings, gebroke harte of vervolging nie; slegs ʼn ewige heerlikheid.
Openb.21:2 skets vir ons die hemel (Nuwe Jerusalem). Dis die woonplek van almal wat tot bekering gekom het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh.5:24).
In die vaderhuis ontvang die gelowiges verheerlikte liggame wat nie kan sondig nie. Die vlees en sy begeerlikhede is iets van die verlede. ʼn Mens kan jou nie indink hoe dit moet wees om in ʼn sonde-vrye bestel te leef nie! Almal sal in so ʼn plek wil woon as sy lewe ten einde kom.
Om te sterf, gaan vir gelowiges ʼn ongelooflike avontuur wees. Vir ongelowiges sal dit ongekende droefheid en ʼn verskrikking wees. Ja, daar is ʼn hartseer nota aan hierdie salige boodskap – wie nie tot bekering kom nie, sal nie ingaan nie.
Samuel Morrison was ʼn Amerikaanse sendeling wat na 25 jaar se sendingwerk in Afrika weens gesondheidsredes na Amerika moes terugkeer. Hy was op dieselfde skip waarmee pres. Ted Roosevelt, wat vir drie weke in Afrika gaan jag het, teruggekeer het. Duisende mense het Roosevelt in New York-hawe met vlae, baniere en musiek ingewag. Terwyl alle oë op die president gerig was, het Morrison ongesiens afgeklim en tussen die skare verdwyn. Baie hartseer bid hy: “Ag, Here, die president was vir drie weke in Afrika om diere dood te maak en ek 25 jaar om siele te red. En niemand weet dat ek hier is nie”. Toe sê die Gees vir hom: “Ja, maar jy is nog nie tuis nie! Daar sal almal weet dat jy tuisgekom het”.
Daar gaan vir almal van ons ’n nuwe jaar aanbreek waarvan ons die Oujaar nie sal sien nie. Moet jou egter nie oor aardse dinge bekommer nie. Sorg dat jou siel gered is sodat jy tuis kan kom. Die lewe gee jou die kans om jou siel vir die ewigheid voor te berei. Beywer jou gevolglik vir daardie dinge wat jou hemelwaarts wink. Niemand leef verkeerd en sterf reg sterf nie. Om reg te sterf, moet jy reg leef.
Ons het soos daardie Amerikaanse kat ook ʼn ingeboude hunkering huistoe; na ons hemelse huis. Vir elkeen wat deur Jesus Christus vrede met sy hemelse Vader gemaak het, is die hemel soos ʼn ouerhuis waarna hy verlang. Daarom het ons behoeftes wat nooit deur wêreldse dinge bevredig kan word nie. Ons is vir ʼn ander lewe bestem. Ons toer slegs hier op die aarde.
Kom ons smag opnuut na ons hemelse huis. Moenie die dood as ’n kwaad aan die einde van ’n goeie lewe sien nie, maar eerder as die deurgangshek na ʼn veel heerliker lewe. Doen derhalwe alles met die oog op iets groter as hierdie tydelike lewe. Kom ons wy ons tyd aan iets wat langer as die aardse lewe gaan duur al kom ons ook eendag gehawend en pootseer by ons hemelse Vader se huis aan.