HUIS, PALEIS, EN DAN?

Ds Andrè van den Berg

En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores” - Dan.1:21                          

Toe ek student was, het ek aan die Valsbaaikus gehengel. Naby Gordonsbaai is ʼn rots ʼn entjie die see-in. Telkens as ʼn brander dit tref, was dit net wit skuim en het ek gedink dat dit die rots se einde was. Maar as die water teruggetrek het, was die rots nog daar omdat dit deel van ʼn baie groter onderwater-rots was wat die geweld van die water buite sig gebreek het. 

 Daniël het as jongman talle lewensstorms trotseer. Menige brander het oor hom gebreek en daar is gedink dat dit klaar met kees was. Maar dit was nie. Telkens het Daniël bly staan omdat sy lewe op die onsigbare Rots van die eeue, die Here God, gebou was.    

Gelowiges oorleef soms erge lewensstorms omdat hulle geloof soos ʼn huis op rots staan. Jesus vertel van die twee bouers. Die man wie se huis die storm oorleef het, was op rots gebou. Die jongmens wat sy lewenshuis nie bewustelik op Jesus, as die Rots bou nie, loop die risiko dat dit vinnig kan val. Satan tref jongmense nie altyd met branders nie, maar dikwels met getygolwe. Wie met hart en siel nie aan Christus behoort nie, oorleef nie Satan se tsunami nie.

Daniël en sy drie vriende was krygsgevange diensknegte aan die hof van Nebukadneser. God het Juda weens volhardende sonde in ballingskap laat gaan en is die room van die land Babel toe. Nebukadneser het hulle name verander en wou hulle afgodsvleis laat eet om hulle herkoms en God te vergeet; ʼn tipe van breinspoeling.

Wat hierdie heidenvors nie besef het nie, was dat alvorens hy op die jongmanne se verstand beslag kom lê, God alreeds op hul siele beslag gelê het! ʼn Jongeling wie se hart in die bloed van Jesus gewas is, se brein kan nie gespoel word nie. Wat ʼn nood het ons volk nie aan sulke jongmense nie!

Daniël was ʼn uitsonderlike jongmens wie se lewe diep in die geloof in God geanker was. Dit was ʼn diep stroom wat teen die heidene se wêreldstroom gebots het.   In die poolstreke is daar ʼn vreemde natuurverskynsel; ʼn seestroom sal in ʼn sekere rigting deur die pakys vloei en skuim en seewier meevoer.  Dan verskyn daar ʼn ysberg wat in die teenoorgestelde rigting beweeg. Dit gebeur omdat minstens twee derdes van die ysberg onder die water lê en deur ʼn baie sterker stroom wat in die teenoorgestelde rigting beweeg, aangedryf word.

Die mens wat sy ankers diep in God se magtige stroom het, beweeg altyd in ʼn ander rigting as die godvyandige wêreld. Dit bly teen die mag van die oppervlakkige wêreld stroom vas staan.

Ten spyte van die ontwrigting en onsekere toekoms wat die ballingskap meegebring het, het Daniël aan God bly vashou en nie laat los soos duisende ander krygsgevangenes nie. Ons leer drie dinge uit Daniël se lewe.

  1. Eerstens dat dit vir jongmense moontlik is om in ontwrigte volksomstandighede staande te bly.
  2. Tweedens dat dit moontlik is om nie deur ʼn heidenregering besoedel te word nie en;
  3. derdens dat dit moontlik is om ʼn gelowige te bly al draai die wêreld teen jou!   Maar dan moet jy 100% geloofsekerheid hê. Dan is jy soos daardie rots anderkant Gordonsbaai; die golwe breek en dit skuim vir ʼn vale, maar dit vernietig nie. Daarvoor is die geloof te diep geanker!

Daniël was na bewering ongeveer 14 jaar oud toe hy weggevoer is en het in Babel tot en met sy sterwe (ongeveer 76 jaar) gebly. Daniël was vir 62 jaar vir God ʼn getuie in ʼn heidenland en vier konings sien kom en gaan. Hy het egter bly staan omdat hy as jongmens ʼn duidelike lewenskeuse vir God gemaak het.

Let op sy optrede in die vreemde:

  1. Hy was eerstens ʼn banneling baie ver van sy ouerhuis. Hy het sy ouers moontlik nooit weer gesien nie en by die vreemde omstandighede aangepas sonder om sy geloofsbeginsels oorboord te gooi. Daniël was in maar nie van ʼn heidenland nie en het die nodige afstand behou.
  2. Tweedens het hy die godsdiens wat sy ouers hom mee grootgemaak het, nie vir Babel se lekker godsdiens versaak nie. Wat ʼn nood het ons volk nie aan sulke verbondsouers nie! Wetenskaplikes het bevind dat daar insekte in die water leef sonder om nat te word. Daniël het in die vreemde behoue gebly omdat dit wat sy ouers vir hom geleer het vir hom kosbaar was. Dit was die beskermende omhulsel teen ʼn goddelose samelewing.
  3. Die derde ding wat in sy lewe uitstaan, is sy geestelike onverskrokkenheid. Almal kon sien dat hy God gekies het, veral toe hy sy lewe op die spel geplaas en ter wille van sy geloof in ʼn leeukuil beland het.

Dit bring ons ook by sy vriende. Omdat Daniël God gekies het, kon hy ook sy vriende reg kies. Vriendskap het altyd ʼn prys – dit bou mense op of breek hulle af. Daar is plus- en minusmense in die lewe. Die plusmense verryk en veredel lewens. Minusmense verarm en besoedel net lewens. Sulke mense is in werklikheid nie vriende nie maar gesante van Satan.

Dis raadsaam om eers Jesus en daarna jou vriende kies. En watter vriende het Daniël nie gehad nie; mense wat gewillig was om ter wille van hul geloof in ʼn vuuroond te sterf. Dit was nie blinde waaghalsigheid nie maar suiwere Godsvertroue. Getrou aan God en gedagtig aan hul ouers se geestelike leiding, het hulle bly staan toe die ander bannelingseuns geval het.

Daniël was nie bang om alleen te staan nie. En dis al waarom ons van hom iets weet. As dit anders was, het ons nooit van hom geweet nie. Sy geloof maak dat mense al vir baie eeue van hom weet en hom sy geloof beny. Daniël kon in Babel baie maklik sy ankers gelig en saam met die stroom ander bannelinge geswem het. Dis immers die pad van die minste weerstand. Hy was ver van sy ouers en familie. Wie sou weet of omgee? Maar: God sou weet en omgee!

ʼn Jongmens is soos ʼn nuwe skip wat in ʼn hawe voor anker lê. Daar is hy veilig. Maar dis nie waarvoor skepe gebou word nie. Nee, hulle moet uit die veilige beskerming van die hawe uitbeweeg en onstuimige oseane bevaar ten einde aan hulle doel te beantwoord. Sommige keer nooit weer terug nie en sink soos die Titanic op hul nooiensvaart. Ander doen weer vir baie jare lank getroue diens.

Wat het op die ou einde van Daniël geword? Die koning van Babel wou dat Daniël met die heidendom versmelt en in die kookpot van wêreldburgerskap verdwyn. Die Koning van die hemel het ander planne met Daniël gehad en hy het tot die einde soos daardie rots anderkant Gordonsbaai bly staan en selfs premier van Babel geword.

Geleerdes meen dat die wyse manne uit die Ooste wat Jesus ongeveer twee jaar na sy geboorte in Betlehem besoek het, deur ʼn ster gelei is wat Daniël 600 jaar tevore voorspel het. Hoe anders sou hulle van die Jesuskind geweet het?

Daniël is een van die grootste geloofshelde van die Bybel. Wat van jou? Jy leef ook in ʼn land wat deur heidene regeer word. Wat sien mense in jou? Iemand soos Daniël en sy drie vriende of bannelinge wat goed begin en sleg geëindig het?   Die kinderrympie lui: Huis, paleis, pondok, varkhok. Moenie dat dit eendag jou lewe opsom nie!

Amen!