KERSFEESMENSE!

Ds Andrè van den Berg

“Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is” – 1 Pet.1:24,25

ʼn Paar jaar gelede is ʼn jong vrou met kanker gediagnoseer. Die dokter was eerlik met haar – sy was sterwend. Toe die dokter haar later tuis besoek, wou sy weet hoeveel tyd sy nog oor het om te leef. Haar tyd was baie kort en hy wou die boodskap so simpatiek as moontlik aan haar oordra.  Deur die kamervenster kon hy ʼn akkerboom sien en dit was herfs. Die blare het verkleur en begin afval. “As al die blare van daardie akkerboom afgeval het, sal jou tyd verby wees” sê hy toe vir haar.

Die vrou en haar man het hul sesjarige dogtertjie nie in die deur sien staan nie. Toe die dokter weg is, het die man by die venster uitgekyk en iets gesien wat sy hart gebreek het. Die dogtertjie was besig om die blare onder die akkerboom op te tel en een vir een met garingdraad aan die boom vas te werk!

Sou dit nie wonderlik wees indien ons die lewe só terug kon laat beweeg nie! As ons die gang van die tyd net ʼn bietjie kon terughou en die horlosie van die tyd net so ʼn bietjie kon terugdraai net om daardie onaangename dinge wat in ons lewe gebeur het, oor te kan doen. Ja, as ons soos daardie dogtertjie die gevalle blare van ons lewe kon terugwerk!

Ek glo dat daar baie dinge in die lewe is wat ons anders sou doen indien ons die kans sou kry. Sommige geleenthede het verleenthede geword; iets wat ons volstrek anders sou wou oordoen. Dink maar aan harde woorde wat jy gesê het, besluite wat jy oorhaastig geneem en wat jou lewe verander het. Miskien het jy jou kind afgejak omdat jy gefrustreerd van die werk af gekom het. Miskien het daardie een drankie wat jy te veel geneem het iemand se verminking of dood veroorsaak. Miskien was dit daardie laaste besoek wat jy nie gebring het nie of al die kere wat jy vergeet het om te sê: “Ek is lief vir jou”. Maar nou is dit vir altyd verby.

Soms probeer ons wat hierdie dinge betref, die tyd omdraai, net soos die dogtertjie wat die blare aan die boom wou vaswerk. Ons maak net van ʼn ander soort garingdraad gebruik. Ons sê: “ Ek is jammer” sonder om dit werklik te bedoel. Daarmee probeer ons onsself te verontskuldig. Nee, dis eintlik nie my skuld nie — dit is die probleme by die werk wat my so opklits!”

ʼn Ander een sê: “ Ek kan myself nie help nie, ek het nou maar eenmaal net ʼn vinnige humeur” En so gaan ons aan – verskonings vir ons onaanvaarbare optredes.

Mense mag sulke verskonings aanvaar maar God nie. By Hom loop die mens hom vas. Voor Hom val die blare van ons voorgee, verskonings en mooi fronte wat ons probeer voorhou soos die blare van ʼn akkerboom in die herfs. En al wat oorbly, is die kaal-gestroopte stam van my sondige bestaan waarmee ek sonder voorgee voor God staan.

En dit is wat Petrus sy lesers wys maak: “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af...” (:24). Die boom is leeg. Al die blare het afgeval... die gras is geel. Dis wie die mens sonder Christus in die lewe is; troosteloos en sinneloos!

Daar is egter hoop aan die begin van 1 Pet.1:25 – die woord maar.  Die mens is soos gras wat verdor en sy skoonheid soos ’n veldblom wat afval, “...maar die woord van die Here bly tot in ewigheid” . Op Kersdag het hierdie Woord na ons gekom. Johannes beskryf dit treffend:

Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid” (Joh.1:11-14).

Op Kersdag het die Woord mens geword, onder ons kom woon en die mens van sy hulpelose toestand verlos. Luister wat hierdie vleesgeworde Woord kom doen het: “Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos(Mt.1:20,21).

Die engele sê aan die skaapwagters: “..... Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is” (Luk.2:10,11)

Op Kersdag het God onder ons kom woon. Hy het Immanuel geword; God met ons. Hy het as die Verlosser gekom, die Een wat sy volk van hulle sonde verlos het.  Nou kon sondaars kinders van God word. Dit was nie meer nodig om die dooie blare van hul lewe met garingdrade aan die boom te probeer vaswerk nie. Dit het op Kersdag geestelik lente geword wat nuwe blare en blomme vir God se tuin sou voortbring.

Hoor hoe mooi verduidelik Johannes hierdie nuwe vrug: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees” (Joh.15:5,8). In die lente van God se genade laat Hy kaal bome weer bloei. Mense wat al hul blare verloor het, kry deur die bekering nuwe lewe.

Jesaja het dit 750 jaar voor Jesus se geboorte voorspel: MAAR daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here. En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die Here; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees (Jes.11:1-5).

Kersfees sê: Ons dade is soos gras wat verdor en ons blomme val af, maar God het mens onder ons kom word en nuwe hoop en lewe gegee. Soos wat die dogtertjie nie die blare met garingdraad weer kon vasmaak nie, kan ons ook nie die gang van die tyd keer nie. Ons pogings om die dooie blare van ons lewens weer aan die boom terug te hang en hoop dat hulle weer groen sal word, sal nooit werk nie.  

God alleen gee lewe – nie net in die natuur nie, maar ook in die gees van die mens wat hom tot Jesus bekeer. In Hom kan ons soos ʼn Paulus van ouds ʼn nuwe begin maak: “As iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel. Die ou dinge het verby gegaan. Kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17)

Kersfees is die lente van God se genade. Kom ons vier dit met die diep besef van ons eie swakheid en onvermoë om reg te leef. Maar terselfdertyd ook met dankbaarheid dat Jesus sin aan ons sinlose lewens kom gee het. Al verdor ons lewens soos gras en verwelk ons skoonheid soos ʼn veldblom, Jesus maak ons nuut en ons lewens mooi. Leef soos Lente kinders; Kersfeesmense!

Amen!