Ds André van den Berg
“ ..... soek My, dan sal julle lewe” - Amos 5:4
Omdat godsdiens vir Israel baie belangrik was, was hul kerkgang onbesproke. Ons lees dat selfs Jesus die gewoonte gehad het om op die Sabbat na die sinagoge te gaan. Ongelukkig was Israel se godsdiens so met hul volksgevoel verbind, dat dit kwalik daarvan onderskei kon word. Op die oor af klink dit goed, maar dit was nie. Godsdiens kan die beste wapenrusting ter wêreld wees, maar ook die slegste oorkleed. Israel se optrede het boekdele hiervan gespreek!
Israel se probleem was dat hulle van godsdiens hul God gemaak het en nie van God hul godsdiens nie. Hulle het alleenlik dit wat in hulle kraam gepas het geglo. Die gevolg was ʼn eiesinnige godsdiens. Daarom het vir Amos, ʼn boer, tot sy diens geroep om Israel op hul dwaasheid te wys en bekering te bepleit.
Israel het drie vername aanbiddingsplekke gehad – Betel, Gilgal en Berseba; elkeen met ʼn ryke geskiedenis. Betel was die plek waar Jakob van die engele teen die leer gedroom het asook die plek van goddelike belofte dat die land aan sy nageslag sou behoort. Sy ontmoeting met God sou sy hele lewe verander soos Paulus s’n later naby Damaskus.
Jakob het dit Betel (huis van God) genoem - “Die Here is op hierdie plek” (Gen.28:16). ʼn Paar jaar later sou Jakob weer by dieselfde plek aandoen, God weer ontmoet en opnuut die verbondbelofte ontvang. Daar in Betel het God sy naam na Israel verander; die naam waaraan sy nageslag eeue lank geken word.
Die tweede belangrike aanbiddingsplek was Gilgal. Dis hier waar Israel na 40 jaar se omswerwinge in die woestyn die beloofde land Kanaän binnegekom het. Die derde belangrike plek was Berseba, waar al drie die aartsvaders beloftes van God ontvang het. In Gen.21 sê God vir Abraham: “God is by jou in alles wat jy aanpak”. In Gen.26 sê God vir Isak: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou ʼn groot nageslag gee”. En in Gen.46 kry Jakob ʼn soortgelyke belofte: “Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom”
Betel, Gilgal en Berseba is as aanbiddingsentrums gekies omdat dit vir hulle uitsonderlike godsdienstige betekenis gehad het. Op godsdienstige terrein het alles goed en voortreflik verloop. Maar toe maak Israel ʼn fout. Hulle het geglo dat al wat hulle moes doen, was om hierdie plekke gereeld te besoek en God sou hul kerkgang met voorspoedige lewens beloon.
Dit het vir Israel nie oor die aanbidding en verheerliking van God gegaan nie, maar eerder oor dit wat hulle, in ruil vir kerkgang, uit God kon kry. Dis soos ʼn bedelaar wat na jou welstand verneem. In werklikheid voel hy vere oor hoe dit met jou gaan. Sy begroeting is ʼn begroting - ʼn aanslag op jou beursie! Israel het die selfde fout gemaak. Hulle het kerk toe gegaan om iets van God in ruil te ontvang. En dit het tot ʼn vormgodsdiens gelei. En dis gif vir die siel!
Hoe ontstaan vormgodsdiens? Wanneer jy ʼn eie inhoud aan godsdiens gee wat nie met die Bybel ooreenstem nie. En dit gebeur baie maklik! Let maar net op Israel se misstap met die goue kalf! Hulle het nie daar aan die voet van Horeb skielik besluit om afgodery te begin bedryf nie. Israel wou ʼn godsdiens met ʼn eie inhoud en na eie smaak hê – tuisgemaak!
In die tyd van Amos het kerkgang baie verander. Dit was nie meer soos in die ou tyd nie. Ten einde dit in pas met die politiek van die dag te bring, het kerklui vreemde inhoude daaraan gegee. Dit het gemaak dat mense die stem van God nie meer gehoor het nie. Kerklike verraad was die kernhoofstuk in die tragiese verhaal van ʼn uitverkore volk wat vrywillig ten gronde gegaan het!
Godsdiens in diens van die mens, kan nooit suiwer wees of bly staan nie. Israel het nie meer die God van die Bybel gedien soos al die jare nie. Hulle het Hom op hul eie voorskrifte gedien. En dit was alles tydmors. Wie God nie volgens sy voorskrifte dien nie, mors sy tyd om kerk toe te gaan!
Israel was so behep met ʼn eiesinnige godsdiens, dat hulle nie agter gekom het dat hulle die skulp behou, maar die pêrel verloor het nie! Hulle het gedink dat hulle in pas met God is, maar in werklikheid was hulle geheel uit pas met Hom.
Israel sou op ʼn harde manier leer dat God geen genoeë met eiesinnige godsdiens neem nie en dit straf. Daarom het Hy vir Amos gestuur om Israel te waarsku om in pas met God te kom. Daarna het die ballingskap na Assirië gevolg.
Let op die gelese gedeelte. Vers 2 spreek van oordeel: “Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergevel lê sy op haar land, niemand rig haar op nie” Israel word as ʼn vrou geskets wat geglo het dat sy godsdienstig en voorbeeldig vas gestaan het. Dit was alles selfbedrog.
Dis die kernprobleem in baie kerke vandag – vormgodsdiens. Mense soek nie meer God se wil in die Bybel nie, maar predikers wat dit wat hulle wil hoor, preek. En dit gaan aan die einde van die tyd oorhand toeneem. “want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle die begeerlikhede” (2 Tim.4:3). Paulus skryf: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword...... hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in alle ewigheid” (Rom.1:22,25).
Jesus draai self nie doekies om as Hy die hoofeksponente van vormgodsdiens baie hard aanspreek nie: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk maar binne vol doodbeendere en allerhande onreinheid is” (Mt.23:27).
Ontspoorde kerklui het oud-Israel lelik mislei! Dieselfde ding het met die Boerevolk gebeur. As groot Afrikaanse kerke vasgestaan en aan die Woord van God getrou gebly het, was ons land nie in hierdie penarie nie! Dis egter water onder die brug verbly. Wat staan ons te doen? Net soos oud-Israel het die Boerevolk een van twee keuses – gaan aan of draai om. Soek God of soek die mens. Die vraag is: Wil ons lewe? Dan is die antwoord duidelik: “ ..... soek My, dan sal julle lewe” Die alternatief is die dood.
Wat soek jy vanoggend hier in die kerk? God se wil? Ek vertrou so, want as jy dit nie soek nie, soek jy verkeerd. En ʼn verkeerde soeke lei na ʼn verkeerde bestemming soos Israel te laat in Assirië uitgevind het waar hulle vir meer as 130 jaar in ballingskap sou verkeer!
Om vandag God opreg te soek, is nie maklik nie. Slagystergodsdienste neem onrusbarend toe. Al hoe meer volksgenote spring op die lawaai- wa van oppervlakkige, oneerbiedige kerkdienste wat al te duidelik God nie meer soek nie, maar die mens. Let maar net op die effek wat die homoseksuele rewolusie op kerklike terrein veroorsaak!
Al godsdiens wat God behaag, is dit wat in die Gees en die waarheid beoefen word. Wie sy lewe na die Gees rig, maak God se wil sy eie en wie dit na die Woord rig, sorg dat dit wat hy glo met die Woord ooreenstem. Wat daarvan afwyk, is vormgodsdiens. Sulke godsdiens is soos die gebabbel van kleuters oor speelgoedtelefone ; dis ʼn vreeslike gebabbel, maar aan die ander kant is daar niemand wat luister nie!
Kom ons soek God met ʼn nuwe erns en opregtheid van hart want Hy is so ernstig oor ons ewigheid besorg dat Hy sy enigste Seun aan ʼn kruis laat sterf het sodat ons vir ewig kan lewe.
Amen!