GEVANGENIS- BEDIENING

Ds Andrè vd Berg

Mt.25:31-46

En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen”(Mt.25:39,40).

Wat is jou motor werd? Daar is ʼn boekie wat motorwaardes aangee en ʼn bedrag bepaal kan word.  

Wat is jou huis werd? Benewens die munisipale waardasie kan ʼn eiendomswaardeerder dit ook vir versekeringdoeleindes vasstel. So het alles wat ons besit waarde. Dit kan nagevors en bepaal word.

Wat is jou vryheid vir jou werd? Jy weet nie, totdat jy dit verloor het! Dis soos gesondheid - jy weet nie wat dit vir jou werd is alvorens jy dit eenmaal verloor en dit baie meer waardeer nie. Ja, wanneer die put droog is, besef ’n mens eers die waarde van water. Dis dieselfde met vryheid.

Maar hoe verloor ʼn mens jou fisieke vryheid? Wanneer jy tronk toe gaan. En dit gebeur maklik! Ek werk al vir 27 jaar met gevangenes en die meeste sê vir jou dat hulle nooit kon droom hulle in ʼn tronk sou beland nie. Maar hulle het!

Die tronkdeure staan vir enigeen oop. Ek het al verskeie beroepsmense in die tronk bedien – ʼn landdros, ‘n skoolhoof, prokureurs, tandartse, mediese dokters, lektore, skoolsielkundiges, burgemeesters, politici, pastore en selfs ʼn gewese NG leraar van Pretoria. Niemand is te goed om nie te val nie. Paulus waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor.10:12).

Gelowiges moet wetsgehoorsaam leef. Dis God se wil, want as ons die aardse wette verbreek, hoe kan ons die hemelse wette gehoorsaam? Nogtans gebeur dit dat mense die wet verbreek en beboet of tronkstraf opgelê word. En dit gebeur dikwels in ʼn oomblik van waansin.

ʼn Senior lektor in Landbou aan Tukkies wat sy vrou weens egbreuk doodgeskiet het, vertel dat dit op daardie oomblik swart om hom geword het. Dis ʼn oomblik van waansin! Dis nie net slegte, brutale mense wat moord pleeg nie, maar ook doodgewone mense wat net vir ʼn oomblik kop verloor het.

Wat ervaar iemand wat in die tronk beland? Berou, verwerping, magteloosheid, frustrasie! Jy kan vir jou geliefdes daarbuite niks doen nie. Hulle kry swaar en jy wil hulle graag help, maar jou arms strek net sover as die tralies jou toelaat en niks verder nie. Dis ʼn onbeskryflike magteloosheid!

As ʼn persoon tronkstraf opgelê word, dien sy naasbestaandes dit as’t ware saam met hom uit. Hulle kry swaar en moet ander mense vir hulp en onderhoud in die oë kyk. En die stigma wat aan so ʼn gesin kleef, is soos ʼn merk van Kain. Almal kry swaar – gevangenes, vrouens, kinders en ander gesinslede.

Die gevangene kry uiteraard die swaarste. Hy het oortree, hy moes van beter geweet het, hy het sy gesin in die penarie laat beland, hy, hy, hy! En die grootste seer van almal – hy het God bedroef; ʼn ontsettende berou.

Ek wil hê dat u vanoggend iets van hulle berou saam met my beleef. As ek vir hulle elke Maandagoggend diens hou, sing hulle graag die volgende liedere:

“Straf tog nie in ongenade my misdade, Heer, verdra my met geduld. Wil tog nie in toorn ontbreek nie en U wreek nie op my sonde en sondeskuld. Ver van my, uit diep mishae vir my plae, het my vriende weggegaan. Selfs verwante wil nie bly nie naby my nie, maar hul staar van ver my aan. Wil my Heer, in hierdie lewe nie begewe; wees nie ver van my gebed! Hoor die roepstem van ʼn lyder, o Bevryder wat my altyd uit wou red”(Beryming Ps.38:1,10,17).

“Uit dieptes, gans verlore, van redding ver vandaan, waar hoop se laaste spore in wanhoop my vergaan; uit diep van donker nagte roep ek, o Here, hoor, en laat my jammerklagte tog opklim in u oor! (Beryming Ps.130:1).

“Liefdevolle Hemelvader tot U nader ek met diep verslae hart. Troos my tog in al my lyding; gee bevryding uit my angste nood en smart.   Gee my lig in donker dae, ook waar vrae dikwels nog my hart laat beef. Laat my volg u Gees se leiding tot bevryding - van die kwaad wat in my leef”(Beryming Ges.310:1,3).

Gevangenisbearbeiding is egte Evangelisasie. Die APK onderskei as volg tussen Sending en Evangelisasie:

  • Sending is die bring van die Evangelie aan diegene wat nog nooit van Jesus gehoor het nie.
  • Evangelisasie is die bring van die Evangelie aan hulle wat nie meer van Christus wil hoor nie – kerklosse, kerklose en ongeërgde mense.

Baie van diegene wat in die tronk beland en my dienste bywoon, erken dat hulle jare laas in ʼn kerk was. Van hulle kom ook in die tronk tot bekering. In 1991 bid ʼn gevangene, seun van ʼn NG predikant as volg: “Dankie Here, dat ek in hierdie plek beland het anders sou Ek U nooit as my Verlosser en Saligmaker leer ken het nie!

Só het ʼn gewese burgemeester ook sy hart aan die Here gegee. ʼn Mens se verleentheid is so dikwels God se geleentheid!

Die tronk is nie net droefheid nie – daar is ook humor. By geleentheid het ek vir Lood van Schalkwyk, ʼn ouer man in die gevangenis, bedien. Hy is ook in die tronk oorlede. Ek het sy begrafnis waargeneem. ʼn Tyd daarna vra een van die outjies in my groep my waarom Lood in die tronk beland het. Ek vertel hom toe dat Lood vir ʼn jong Kommunistiese Jood in Pietermaritzburg ʼn rekenaar met plofstof daarin gestuur het. “O, nou verstaan ek!” het die outjie gesê, “Toe die Jood enter toe exit hy!” So is daar baie grappige staaltjies wat ek met u kon deel as ons die tyd daarvoor gehad het.

Tronkstraf kan ook positief aangewend word. Talle gevangenes maak van die geleentheid gebruik om hul matriek te skryf, ʼn graad te verwerf of vir ʼn ambag te bekwaam. My loodgieter was bv. 23 jaar in die tronk en het homself daar bekwaam. Die lektor wat sy vrou doodgeskiet het, het sy doktorsgraad in sitiologie in die tronk klaargemaak.  Ek ken ook ʼn aspirant APK predikant wat sy doktorsgraad in die tronk voltooi en selfs met lof geslaag het. Daar is vir almal ʼn kans om te verbeter.   Desondanks is en bly die tronk ʼn plek waar niemand wil wees nie.

Die grootste probleem met gevangenskap is nie dat jy net jou vryheid verloor nie, maar so maklik ook jou menswaardigheid. Daar gaan bitter lelike dinge in tronke aan waarteen wal gegooi en die Here om krag gebid moet word.

Daarom is dit belangrik dat ons hierdie mense nie in ons gebede en waar moontlik ook nie in besoeke vergeet nie. Mense is soms baie veroordelend en sê: “Dis net sy eie skuld dat hy sit waar hy nou sit!” Dis waar, maar dit kon net sowel die een wat veroordeel gewees het, en dan?!

Dis maklik om te veroordeel, maar saliger om meegevoel te toon. Daarom roep Jesus ons in Mt.25 tot medelye op. Wie dit aan noodlydendes betoon, doen dit in effek ook aan Hom: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen”.

ʼn Tyd gelede lees ek van ʼn gelowige weduwee wat net voor Kersfees gebid het dat die Here Kersdag by haar moes kom eet. Hy stem toe in en sy berei ʼn heerlike maaltyd vir twee. Op Kersdag is daar ʼn klop aan haar deur en daarstaan ʼn uitgehongerde bedelares. Die weduwee nooi haar maar tafel toe en sy eet feitlik alles op. Gou maak die weduwee die laaste kos in haar huis gaar.

Net daarna is daar weer ʼn klop aan die deur – dié keer ʼn verhongerde ou man en sy laat hom ook maar eet.

Met ʼn paar stukke kosbare stukke silwerware gaan sy na die pandjieswinkel om geld vir nog kos te kry. Na nog ʼn poging is daar weer ʼn klop aan die deur – dié keer ʼn honger ou sendeling wat sy jare laas gesien het. En daar eet hy die kos weer op.

Toe sy daardie aand gaan lê, bid sy en vra God waarom Hy nie gekom het soos Hy beloof het nie?   Hy antwoord haar: “My kind, Ek het drie maal vandag by jou kom eet!”Hoe helder klink Jesus se woorde nie! “ ...vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen”. Die Bybel sê dat hy wat ʼn ander liefhet, die Wet vervul; ʼn wet wat liefde tot God en tot die naaste eis.

Jare gelede is Watchman Nee, ʼn Chinese gelowige, vir sy geloof in ʼn tronk waar dit bitter koud word toegesluit en sien hy tot sy ontsteltenis dat van sy medegelowiges in die tronk mekaar nie eens ʼn kombers gun nie. Hy skryf toe ʼn boek: If that were Christ, would you give Him your blanket?   Godsdienstigheid sonder meegevoel is huigelary!

Daar is baie van ons volksgenote in die tronk. Moet hulle nie vergeet nie. Bid vir hulle en hul geliefdes by die huis.   Vryheid is nie iets wat ons toekom nie. Dis ʼn genadegawe uit God se hand. Was dit nie vir hierdie genade nie, het u vanoggend nie in ʼn kerk gesit nie, maar iewers in ʼn tronk!