DWAALLERAARS VAL ONS KINDERS AAN!

Bethel en vennote

Ds. A.E van den Berg

Inleiding

Mense wat onkundig in die leer van die Bybel is, dwaal maklik. Jesus sê vir die kerklui van sy tyd:

“...Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).   Elkeen wat dwaal, bespoedig die koms van die Antichris en die era van die groot verdrukking.

“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15).

Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mt.24:24) .

Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke”(2 Kor.11:13-15).

“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh.4:1-6).

“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring”(2 Pet.2:1).

1.   ʼn Siek godsdiens

Een van die hoofredes waarom mense maklik deur dwaalleer weggevoer word, is dwaalleraars se gebruik van Bybelse terminologie. Al klink dit op die oor af goed, is hul omskrywing daarvan egter vreemd aan die Skrif.

Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebr.2:1).

Dwaalleer is siek godsdiens en Skriftuurlik baie vlak. Paulus waarsku:

“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).

Hy gee aan Titus dan ook opdrag om sulke leraars aan te spreek sodat hulle hul kan bekeer:

”.... Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees” (Tit.1:13).

Gesonde godsdiens is op die fondament van God se Woord gebou en het diepte. Dwaalleer daarenteen ontbreek aan diepte en geestelike groei.

2.   In Satan se mag

Dwaalleraars glo dat hul tekens en wonders kan doen as ʼn bewys van die egtheid van hul bediening. Die Bybel waarsku dat dit nie ʼn maatstaf is nie.   Lukas teken so ʼn geval aan.

En terwyl ons op pad was na die bid plek, kom’n slavin met ’n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. En dit het sy baie dae lank gedoen ....” (Hand.16:16-18).

Hierdie slavin het geen geestesgawe gehad nie. Nogtans was dit wat sy gesê het vir ʼn wyle korrek. Paulus het haar egter baie gou ontmasker.   Gelowiges moet baie versigtig wees - Satan beskik oor ʼn beperkte kennis van die toekoms om mense daarmee te mislei.

Dit gaan vir dwaalleraars om hul eie eer, aansien en die genot om volgelinge te hê. Daar was in die tyd van Jesus ook mense wat Hom vir hul eie eer gevolg het (Joh.6:60-67).   Dwaalleraars blaas op hul eie beuel en geniet die aandag wat die klank maak. Die slavin in Hand.16 het juis met haar skreeuery mense se aandag getrek.   Daarenteen kyk gelowiges weg van hulself:

Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh.3:30).

Soos wat wolwe skape aanval, val dwaalleraars die kudde van God aan.

Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi..., my hart is gebreek ..... ek is soos’n man wat deur die wyn oorweldig is ..... want die land treur .... Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE.Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid ..... Want Ek sal onheil oor hulle bring.... Hulle het almal vir My geword soos Sodom .... Luister nie na die woorde van die profete .... hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. ..... Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer......Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer .... is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel ......, Is my woord nie só, soos ’n vuur .... en soos ’n hamer wat ’n rots vermorsel nie? ....Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek!Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie.... en Ek sal julle ’n ewige smaad oplê en ’n ewige skande wat nie vergeet sal word nie” (Enkele verse uit Jer.23).

In Mt.7:15 waarsku Jesus teen dieselfde ding met “Pasop...” Gelowiges moet op die uitkyk vir godsdienswolwe wees. Hulle teiken mense wat swak Bybelkennis het omdat hulle maklik ontspoor.

Alle duiwels het nie gesplete hoewe nie. Hulle dra ook nie rooi oorpakke of staan met drietandvurke in die hand nie. Die meeste lyk soos sorgsame herders wat hul kudde na groen weivelde lei.  Dis alles oëverblindery. Hierdie weiding het geen geestelike kilojoules nie.

3.   Bethel

Die kerkgeskiedenis getuig deurlopend van mense wat die Skrif en die werking van die Heilige Gees nie verstaan het nie, maar tog geglo het dat hulle uitsonderlike instrumente in God se hand was.   Die Betel-groep (hierna net Betel genoem)is ʼn tragiese voorbeeld hiervan.

Dit is in 1952 deur Robert Dohertyin Redding (Kalifornië) as ʼn gemeente van die Assemblies of God gestig en het in 2006 onafhanklik geword. Hulle lei sedert 1998 hul eie werkers in hul Bethel School of Supernatural Ministry (BSSM) op en spits hul hoofsaaklik op jongmense toe.  

Hulle beywer hul vir wêreldherlewing en glo dat God hulle gebruik om die lot van nasies te bepaal en die koninkryk van God fisies op aarde te vestig. Dit word in die teologie Dominionisme genoem en is ʼn dwaling wat veld wen.

3.1   Opleiding

Die BSSM se opleiding is van korte duur en bestaan hoofsaaklik uit die lees van sekere voorgeskrewe boeke en Bybeltekste wat uit verband gebruik word (Dekontekstualisering). Omdat die klem hoofsaaklik op die ontvangs en gebruik van geestesgawes val, gaan hierdie opleiding mank aan grondige teologie en wetenskaplikheid.  

Die opleidingsentrum het in 1998 met 36 studente begin en lei tans jaarliks meer as 1200 werkers uit ongeveer 50 lande op. Daarna word hulle evangeliste genoem. Lindy-Ann Hopley was een van hulle. (Sien 4.2 Beautiful Witness Ministries). Die evangeliste moet bose geeste kan uitdryf, siekes genees en mense begeester; ʼn skynbediening van wanbegrippe, leuens en bedrog!

Bethel het selfs genesingskamers ingeruim vir diegene met ʼn behoefte om fisies deur God aangeraak te word.   Hulle het ook ʼn register van genesingswonders op hul webblad en ontvang weekliks duisende besoekers. In 2006 het dit gemiddeld 8,684 besoekers per week beloop; hoofsaaklik nuuskieriges.

3.2   Seëninge van bowe?

Bethel glo dat die gesproke Woord ʼn ander salwing as die geskrewe Woord bied.  Laasgenoemde kan slegs in diepte verstaan word terwyl die gesproke woord altyd ʼn aangename vars visie bied. Gevolglik glo hulle dat God se seëninge by tye fisies in die kerk waarneembaar is. In ʼn YouTube videogreep sif fyn goudstof op besoekers neer. Bethel beskou dit as die sigbare bewys van God se heerlikheid. Nee, God se heerlikheid is nie goud nie. Mense het eerder neergeval as hulle Hom vir ʼn wyle aanskou het. Moses het selfs sy gesig bedek.

Sekere aanwesiges getuig ook van engele se vere wat tydens dienste op hulle neergedaal het. Ander val weer in geestesvervoerings om en sien engele of Christus die kerk inkom. Daar is selfs mense wat getuig dat hulle vir ʼn wyle in die hemel was. Een man het tydens so ʼn beswyming sy oorlede pa wat in lewe ʼn werktuigkundige was in die hemel aan ʼn motor sien werk!

3.3 Uitverkorenes

Bethel is duidelik instrumenteel in die verspreiding van die Nuwe Apostoliese Hervorming (NAH) se dwalings, al ontken hulle dit ook heftig.   Hulle glo dat God hul uitverkies het om die laaste boodskap vir die eindtyd te verkondig. Dis ʼn gruwelike misgissing! Paulus, Petrus en Judas vermaan gelowiges dan juis in etlike hoofstukke van hul briewe om op dwaalleer bedag te wees. Bethel rand inderwaarheid die onfeilbaarheid, gesag en genoegsaamheid van God se plan van redding aan om hul eie woord belangriker te laat klink.

“Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel” (Judas:17,18).

Bethel se leer skreeu teen die Bybelse waarheid. Hulle het bv. geen stelselmatige verklaringsproses daarvoor nie.   Die gevolg is ʼn verwarde bediening wat die spoor byster raak. Korrupte teologie is dodelik vir die leiers, maar nog dodeliker vir mense wat hulle blindelings volg!

3.4 Onsin

In 2013 het dr. John McArthur ʼn konferensie, Strange Fire, in die VSA gehou waartydens verskeie referente mense teen die dwalings van Charismatiese bewegings gewaarsku het. Een van hulle het nie doekies omgedraai nie en gesê dat Bethel soveel onsin opdis, dat dit ʼn geheel ander boodskap as die Evangelie verkondig.

In Januarie 2010 het ʼn plaaslike koerant Bethel se aansprake op genesingwonders ondersoek en bevind dat al die gevalle bedrog was. Ook hul aanspraak dat hulle al verskeie dooies opgewek het.   Indien hulle werklik oor bonatuurlike gawes van gesondmaking beskik, waarom gaan hulle nie na hospitale en die siekes nie? het die betrokke verslaggewer gevra.  Die antwoord is eenvoudig – hulle beskik nie oor sulke gawes nie, het hy geantwoord!

3.5 Okkultiese bedrywighede

Bethel beoefen verskeie bose rituele soos grave sucking waartydens mense op die grafte van gelowiges gaan lê om kwansuis bonatuurlike krag uit die oorskot teprobeer suig.   Dis nekromanie; ʼn gemoeidheid met die dood of dooies en okkulties! Ander val weer soos in ou Babilon “dronk van die Gees” om. Oosterse en Afrika lande ken dit ook.

Nog ʼn bewys van hul okkultiese praktyk is die heilige lag. Bethel se byeenkomste ontaard dikwels in massahisterie wat met die werking van die Heilige Gees verwar word. Mense raak tydens ʼn beswyming histeries aan die lag; ʼn teken van besetenheid!  

Nee, die kerk van Christus is ordelik: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor. 14:40). Godsdiens-chaos oortuig geen sondaar van sonde nie.   Dit kom slegs deur die suiwere verkondiging van God se Woord.   Goudstof, engele se vere en onbeteuelde lag is nie uit die Gees nie, maar uit die Satan.

“En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.... (2 Kor.11:14,15).

3.6 Liewe Jesus ideologie

Bethel bevorder die gewilde liewe Jesus ideologie.   Hy is mensgemaak; vol liefde en geen oordeel nie.   Dis baie anders as die Jesus van die Bybel.

“Toe het ek die hemel geopen gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone... En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was... En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige” (Openb.19:11,13,15).

Jesus waarsku self:

Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mt.24:24) .

3.7 Skaamteloos

Feitlik alles van Bethel is vals; hulle aanbid ʼn valse jesus, verkondig ʼn valse evangelie en beoefen valse geestesgawes. Paulus skryf aan Timoteus:

“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim.2:15).Die woord skaam dui op ʼn hartseer ervaring na ʼn oneerbare daad.

Dwaalleraars het geen skaamte nie en spot in der waarheid met God. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).   Daarom vermy gelowiges dwaalleer.“Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Gal.1:8).

4.   Splintergroepe

4.1 Die Jesus Culture

Die Jesus Culture is ʼn jeugbeweging wat in 1999 in Bethel ontstaan het. Hulle poog om jongmense kwansuis die radikale liefde van God te laat ervaar en te laat glo dat hulle die sterkste geslag van gelowiges van alle tye kan wees.   In 2013 het hulle na Sacramento verskuif en ʼn eie kerk gestig. Hulle het ʼn orkes Jesus Culture Band op die been gebring en hou gereeld konserte in Amerika, Brittanje en Australië.

Hulle optredes verskil niks van Rock konserte nie en beskou hul musiek as ʼn siele-stimulasie wat jongmense op die regte golflengte met die hemel bring. Hulle tiende album het in ʼn rekordtyd in 2014 verskyn.

Die Jesus Culture Band is ʼn snelbaan vir Bethel se dwaalleer. Baie van die musiek is hipnotiese herhalings soos by sekere vorms van Hindoeïsme gevind word. In een lied word die woorde fill me up bv. 12 keer binne 60 sekondes herhaal.   Sulke ydele herhalings is ‘n heidense gewoonte.

En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word” (Mt.6:7).

Skrifgetroue kerkmusiek klink baie anders as wêreldse musiek want dit kom uit ʼn era toe die kerk ʼn gesonde teologie gehad en die musiek Woordgedrewe was. Met Gospel Rock-musiek spoel die wêreld die kerk binne. Dit het feitlik niks met die Woord te doen nie en dien net om mense mee op te sweep. Let op mense se liggaamshouding tydens Jesus Culture asook Imagine byeenkomste!

Kerkmusiek daarenteen, verheerlik God in woord en melodie en nie die mens nie.   God word nie by semi-sekulêre massabyeenkomste verheerlik nie.   Dit spreek eerder tot mense wat emosioneel onstabiel is en nie aan die suigkrag van die wêreld kan ontkom nie.

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (Rom.12:1,2).

4.2 Beautiful Witness Ministries

Die Suid-Afrikaans gebore Lindy-Ann Hopley word as internasionale herlewing-evangelis vereer. Sy is aan Bethel verbonde en woon in Redding waar sy van Sept. 2013 tot Mei 2015 opleiding by die BSSM ontvang het. Daarna het sy ʼn eie Beautiful Witness Ministries met talle volgelinge op die been gebring.

Strydig met die Skrif verkondig sy dat sy oor gewaarborgde profetiese en genesingsgawes beskik.   Dis ʼn leuen en in lyn met die Charismatiese beweging se verfoeilike naïwiteit, verwaande eise en onwerklike verwagtings!

Hopley spits haar hoofsaaklik op jeugsaamtrekke toe omdat jongelinge meer van opwekkingsprediking hou. Tydens haar optredes strek mense hul hande asof in ʼn beswyming voor hulle uit soos mense wat ʼn geskenk gaan ontvang. Sy verkondig dat die koninkryk van God op aarde juis in die genesing van siekes duidelik gesien kan word.

Talle sektes is al deur vrouens gestig.   By geleentheid beveel God vir Esegiël om die valse vroue profete van sy tyd aan te spreek:

Mens, jy moet ook met die vroue praat wat sê dat hulle namens My praat, maar dan is dit eintlik net stories wat hulle uitgedink het” (Eseg.13:17).

4.3 Imagine Experience

Veertig jaar ná die Jeug-tot-jeug-aksie (1974) het die NG Kerk Imagine Experience as ʼn nuwe jeugbediening geloods.   So anders as die eerste een wat suiwer Gereformeerd en Afrikaans was, is hierdie een in die gevoelsgodsdiens ingebed en van brabbeltaal deurspek. Die volksvreemde benaming spreek boekdele van ʼn taal wat goedsmoeds toegeploeg is!

Die NG Kerk glo egter dat sy daarin slaag om die Evangelie in ʼn taal te verpak waarvan jongmense hou. En dis al wat saak maak. Die doel heilig die middel. Een van die leraars het na die eerste jeugkamp gesê: “Ons imagination kan nou weer die loop neem. Dit laat ons ’n new nation imagine”.

Met die Imagine experience gee die NG Kerk voor om ʼn strategie van hoop vir die land te wees om toekomstige leiers te help om ʼn helder toekomsvisie te ontwikkel.   Jongmense moet glo daarvan bewus gemaak word dat hulle nasiebouers en wedstrydwenners is wat oor die vermoë beskik om die onmoontlike te verrig. Dis baie duidelik Jesus Culture-drome!

Die NG kerk het ook ʼn kunsmatige politieke doelwit met Imagine experience. Jongelinge moet oor taal, kleur en kultuurgrense saamtrek om te demonstreer dat daar vir almal, ongeag die sg. pyn van die verlede, nou hoop en vrede in Christus is. Jongmense moet glo dat hulle nie gevangenes van die verlede is nie, maar eerder baanbrekers van die hede.  

Die NG kerk glo vas dat ʼn ras-geïntegreerde jeug ’n groot rol in die herstel van Suid-Afrika gaan speel. Daarvoor moet Imagine experiencetieners help om gemaklike, spontane rasse-integrasie te beleef.  

Die jaarlikse jeugkampe gloei van gevoelsmeevoering en word aan ritmiese liggaamsbewegings soos dié van Charismatiese bewegings gekenmerk. Louis Britz skryf na afloop van so ʼn Imagine experience-kamp:

It is bigger than I ever thought it could be. It is more anointed than I could imagine. It is holy chaos the way revival always is”.

Shane Clayborne skryf:

“New prophets are rising up who try to change the future, not just predict it. There is a movement bubbling up that goes beyond cynicism and celebrates a new way of living, a generation that stops complaining about the church it sees and becomes the church it dreams of. And this revolution is irresistible. It is a contagious revolution that dances, laughs and loves” (The Irresistible Revolution).

Imagine experience skyn die kuiken van ʼn Bethel eier te wees wat onder ʼn plaaslike hoenderhen uitgebroei is. Dat Lindy-Ann Hopley tydens die 2015 Imagine experience-jeugkamp opgetree het, laat die vermoede sterk ontstaan dat dit wel ʼn satelliet-organisasie van Bethel is!

5. Supergesalfdes

Bethel sien die salwing met die Heilige Gees as die geestelike adrenalien waarmee die Gees sekere mense oplig en op die verhoog van amperse geestelike volmaaktheid plaas.   Nee, elkeen wat hom tot Christus bekeer, word met die Heilige Gees gesalf. Dis nie ʼn tweede geesteservaring soos wat dwaalgeeste verkondig en slegs vir ʼn kleiner groepie beskore nie.

Desondanks plaas Bethel sekere mense op ʼn hoër geestelike trap en lei sommige van hulle op om hul dwaalleer wêreldwyd te versprei. Hierdie supergesalfdes het glo ʼn groter bron van gesag en derhalwe ʼn eiesoortige verbindingslyn met die hemel. Hulle verkeer op die binnebaan met God en mag derhalwe nie gekritiseer word nie.

Die Bybel leer dat die salwing met die Heilige Gees die verheldering is wat Hy aan gelowiges gee om die Woord van God te verstaan en die vrug wat by die bekering pas te dra. Ongelowiges verstaan nie geestelike dinge nie. Dit lyk vir hulle eerder na dwaasheid. Gelowiges se oë is egter oop:

Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Kor.2:16).

6.   Tekens en wonders

6.1   Afgehandel

Gelowige moet die tekens en wonders waarvan die Bybel melding maak reg verstaan. Dit was eie aan die bediening van Jesus en die apostels. Ná die dood van die laaste een (ongeveer 100nC) het dit geëindig waarna niemand genesing en wonders uit vrye wil kon verrig nie. Die kerkvaders en latere Protestantse leiers het dit so aanvaar. Ongelukkig het dwaalleraars in die 1900’s dit wat deur God tot stilstand gebring is, weer aan die gang probeer kry en dwaalleer begin verkondig.

Nee, gelowiges aanvaar dat die ampsbediening van die apostels iets van die verlede en derhalwe afgehandel is. Dit beteken egter nie dat God nie meer wonders verrig of siekes genees nie.   Hy doen dit nog steeds MAAR slegs in antwoord op gebed en as dit sy wil is. Dit word gebedsverhoring genoem en verheerlik Christus. Hedendaagse geloofsgenesing verheerlik eerder die mens.

6.2   Drie moontlike redes

Die dwaling wat by Bethel en ander Charismatiese kerke oor tekens en wonders bestaan, is die gevolg van een of meer van die volgende redes:

(i) ʼn Gevoelsreaksie wat siekes vir ʼn tyd lank beter laat voel. Dit word ook outosuggestie of psigosomatiese genesing genoem.

(ii)   Kullery en manipulasie om lidmate te werf en geld te maak.

(iii) ʼn Demoniese werking waar die liggaam genees, maar die siel deur magte van die duisternis geskaadword (Engels: white magic).

6.3   Skouspel

ʼn Bediening wat op tekens en wonders gebou word, is sonder ʼn fondament en gevaarlik. Alles wat op ʼn ander fondament as Jesus Christus gebou word, is bouvallig. Diegene wat genesingsdienste bywoon, het gewoonlik min erg aan die bediening van die Woord.   Al wat saak maak, is die belewenis wat so ʼn bedrieglike skouspel bied.   Hulle mis die hoogste doel van die mens se bestaan:

“Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” (Ps.150:6).

Bethel en vennote se wondergenesing is gewoonlik van dié soort wat nie met blote oog gesien en objektief kontroleerbaar is nie. Daar is ʼn groot verskil om iets van God af te bid en iets van Hom te eis!

6.4   Glo is om te hoor

Bethel en vennote glo dat ʼn tweede uitstorting van die Heilige Gees op hande is en haal Joël 2:28 verkeerdelik as bewysplaas aan. Hierdie profesie het alreeds in vervulling gegaan (Hand.2:17). Die Bybel leer dat die uitstorting van die Heilige Gees eenmalig was en derhalwe nie herhaal gaan word nie. Nogtans glo die dwaalleraars dit nie en slinger Bybelse woorde sonder teksverwysings oor vuur rond. Ironies genoeg verwys Bybelse vuur hoofsaaklik na God se oordeel en nie na seën nie (Lev.10)!

Daar is net een waarheid en dis God se waarheid. Daarbenewens staan niks vas nie. Charismate glo egter dat as mense genesingwonders sien, hulle hul sal bekeer. Nee, geloof kom slegs deur die Woord van God te hoor en nie deur wonders te sien nie.  

“Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly. En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is” (Joh.4:40-42).

Jesus se wonderbediening was bedoel om mense soos die Samaritane te laat glo dat Hy die Messias is. Tekens en wonders was egter nooit die fokuspunt van sy aardse bediening nie; slegs sy versoeningsoffer aan die kruis. Jesus se dissipels het sy wonderbediening slegs voortgesit totdat die geskrewe Woord afgehandel was. Daarna kon dit nooit weer uit vrye wil herhaal word nie.

6.5   Vier kentekens

Bethel en vennote se sonderlinge fokus op tekens en wonders laat weinig van die leer van Christus in hul midde tereg kom. Vir hulle is die gevoel van God se nabyheid en liefde voldoende bewys dat hulle reg is. Dis selfmisleiding op die ergste! In sy eerste Sendbrief spel Johannes die vier kentekens van God se liefde in gelowiges duidelik uit:

(i) Die aanvaarding van Jesus Christus as Verlosser: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God (4:2).

(ii)   Die betoon van naasteliefde:“Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (4:8).

(iii)   Gehoorsaamheid aan die Bybel: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (5:3).

(iv)   Die vermyding afgode: “My kinders, bewaar julleself van die afgode (5:21).

7.   Oppervlakkig

ʼn Gebrek aan Skrifkennis lei altyd tot ʼn oppervlakkige godsdiensbelewenis.   Wie met die vaste spyse van die Woord van God gevoed word, vind geen aanklank by dwaalleer nie.

Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebr.5:14).

Wie die Bybel opsy skuif en slegs op die leiding van die Heilige Gees vertrou, is lui en onverskillig.   Hoe sal iemand weet dat die Gees hom lei as hy die Bybel nie ken nie? Of hoe onderskei so ʼn persoon tussen sy eie versugtinge en die leiding van die Heilige Gees?  

8.   Waarsku

Gelowiges durf nooit ʼn dowe oor na dwaalleer draai nie, maar met die nodige Skrifkennis teenstaan.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).

Paulus vermaan Titus:

“... Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees” (Tit.1:13).

Dwaalleer behoort elke gelowige te ontstel omdat dit die Naam van die Here Jesus en die werk van die Heilige Gees oneer aandoen.

Wie glo dat dwaalgeeste eerder met rus gelaat moet word, sluit by die algemene wêreldse gedagtegang aan dat mense mekaar eerder moet liefhê as teen te staan. Dis sprekend van ʼn besoedelde godsdienskultuur wat oorhand oor die mensdom verkry. Die Bybel leer daarenteen dat ware herders hul kuddes waarsku as hulle gevaartekenssien.

Slot

Dwaalgeeste is die onkruid waarvan Jesus in die Gelykenis van die Saaier melding maak. Nadat die vyand (Satan) dit ongesiens tussen die koring gesaai het, kom dit saam op. Dit staan in dieselfde grond as die koring en lyk na die ware Jakob. Die saaier spit dit egter nie uit nie om skade aan die koring te voorkom.   Met oestyd maak hy dit egter in bondels by mekaar en verbrand dit.

Christus het as Hoof van die kerk gesorg dat die kerk die Bybel as ʼn volledige, genoegsame handleiding vir haar bedryf bekom. Om ʼn karikatuur wat op ʼn ander stel van waardes as die Woord gebou is “kerk” te noem, is misleidend. Niemand neem die pen uit die hand van die hemelse Argitek om aan sy plan vir die kerk te verander nie. Die Skrif is volledig en genoegsaam. God duld geen  byvoeging of weglating daaraan nie (Openb.22:19).

Gelowiges moet oplet vir karikature waarvan die leer nie op die Bybel gegrond is nie, maar op tekens, wonders en ervarings. Alles wat op die geestelike akker staan, is nie noodwendig koring nie. Daar is ook onkruid tussen in. Gelowiges moet verhoed dat hierdie onkruid hulle toerank en versmoor. Al word dit in die mooiste Bybelse terminologie verpak, is en bly dit onkruid. Dat God dwaalkerke nie summier uitdelg nie, is waarskynlik toe te skryf aan sekere mense wat daarin vasgevang is en nog bevry moet word!

˜™