Ds Andrè van den Berg
“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12).
Die vroeë kerk het geen probleme met Maria, die moeder van Jesus, gehad nie totdat die Roomse Kerk (RK) haar as hemelse koningin gekroon en aanbid het. Die NT sê min oor Maria. Haar laaste woorde is toe sy by ʼn troue vir knegte sê: “Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen” (Joh.2:5). Die laaste keer dat die Bybel van haar praat, verkeer sy na die hemelvaart op dieselfde geestelike vlak met medegelowiges: “Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ʼn aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus” (Hand.1:14).
Tydens die verheerliking van Jesus op die berg sê God: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het. Luister na Hom!” (Mt.17:5). God praat en voorsien slegs deur Jesus. Jesus sê self: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Joh.16:23). Die RK bid eerder tot Maria en glo dat sy beter in menslike node voorsien.
Een ding is seker - die Roomse Maria is nie die Maria van die Bybel nie, maar die Babiloniese godin Semiramis. Israel het haar in tye van geestelike verval vereer: “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg” (Jer.7:18). Al wat Rome gedoen het, was om Semiramis vanuit die een afgodsisteem na ʼn ander een oor te plaas en haar ʼn nuwe naam te gee – Maria.
Die Babiloniërs het ook geglo dat Semiramis ten hemel gevaar het en as hemelkoningin ʼn ereplek beklee. Sy word op antieke stukke as ʼn jong vrou met ʼn goue wynbeker in ʼn uitgestrekte hand uitgebeeld. Johannes sien haar duidelik in Openbaring: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ʼn goue beker gehad …” (Openb.17:4). Purper en skarlaken is nie toevallig die RK se amptelike kleure nie!
In 1825 het die RK ʼn herdenkingsmedalje laat munt wat die kerk as ʼn sittende vrou met ʼn wynbeker in ʼn uitgestrekte hand uitbeeld met die onderskrif:“Die hele wêreld is haar setel”. Wees gewaarsku - die RK gaan voor die wederkoms van Christus die wêreld beheer. Johannes skryf: “… en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openb. 17:2). Hy vergelyk haar invloed met hoerery: “… en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery”(Openb.17:2). Semiramis het ook menige koning verlei om haar mag te versterk!
Die RK vereer Maria as hemelkoningin, iets waarvan die Bybel geen kennis dra nie. Daar is nêrens enige aanduiding dat Maria tot dieselfde vlak as Jesus verhef, aanbid of verheerlik moet word nie. Sy was slegs geseënd omdat sy die Christuskind gebaar het en niks meer nie. Daarom het die vroeë kerk van geen Mariaverering geweet nie. Die 21 apostoliese briewe van die Bybel verwys nie een maal na haar nie omdat sy geen rol in die vestiging of uitbreiding van die vroeë kerk gespeel het nie.
Die gebede wat Rooms gesindes tot Maria bid, stuit gelowiges teen die bors. Hulle noem haar moeder van God.(Hail Mary, mother of God).Nee, duisend maal nee! ʼn Moeder bestaan altyd voor haar kind en daar was niemand voor God nie!
Die RK leer dat sondaars wat Jesus om sondevergifnis bid nooit van verhoring seker kan wees nie omdat Hy hom eerder met geregtigheid en oordeel besig hou en die genadebetoning aan sy moeder oorlaat. Daarom kniel lidmate voor beelde van Maria en is daar aanbiddingsplekke ingerig waar sy al aan mense verskyn het. En dis nie alles onsin nie. Kyk gerus op Internet na Mary Demon. U sal geskok wees oor die demoniese bedrywigheid wat u daar sien!
Nog ʼn ding wat Protestante teen die bors stuit, is die RK se uitbeelding van Jesus as ʼn hulpelose mens - of as ʼn baba, of dood in Maria se arms of aan ʼn kruis. So ʼn negatiewe beeld sal mense maklik aan sy middelaarskap laat twyfel. Dit wek hoogstens gevoelens van meegevoel en hartseer op maar nooit van ewige hoop of ʼn vaste vertroue nie. Geen wonder dat Roomsgesindes ʼn lewende Maria bo ʼn dooie Jesus verkies nie!
Gelowiges sal Rome se afgodiese toewyding aan die moderne Semiramis nooit begryp nie. Daarvoor moet ʼn mens met ʼn Roomse gewete gebreinspoel wees. Hulle fabelleer oor haar stem baie met die dwaalleer van die Melekieteooreen. Dit was ʼn sekte in die vierde eeu wat die kerk probeer oortuig het dat die Drie-eenheid uit God (Vader), Christus (Seun) en Maria (middelaar) bestaan.
In 1950 het pous Pius XII die grootste onsin oor Maria kwytgeraak toe hy in ʼn pouslike uitspraak gesê het dat haar liggaam drie dae na haar dood opgewek is en daarna ten hemel gevaar het om om as hemelkoningin op ʼn troon aan die regterhand van Christus te gaan sit. Dis ʼn bose parallel van Jesus se opstanding en hemelvaart waarmee die Satan Jesus na die kroon steek!
Verder glo die RK dat Maria se geboorte net soos Jesus s’n bonatuurlik was en dat sy sonder sonde was. Daarom is haar bonatuurlike koms na die aarde met ʼn bonatuurlike verlating daarvan afgesluit. Die Babiloniërs het ook geglo dat Semiramis uit die dood opgestaan en ten hemel gevaar het om ʼn ereplek as hemelkoningin te beklee.
Die grootste probleem wat Protestante met die RK het, is hul verlossersfiguur. Net soos wat die Jesus wat in die Mormoonse kerk verkondig word nie die Jesus van die Bybel is nie, is die Maria van die RK nie die Bybelse Maria nie. Die Bybelse Maria was ʼn sondaar, nederig en met ʼn behoefte aan ʼn Verlosser. “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker” (Lk.1:46,47). Net sondaars het ʼn behoefte aan ʼn Verlosser. “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom.3:23).
Augustinus skryf in die vierde eeu dat Maria in sonde gebore is en derhalwe gesterf het. Daarom moes Jesus, omdat Hy uit Maria was, ook na die vlees sterf om sonde te versoen. Sondaars kan nie verlossers wees nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand.4:12).
Let daarop dat die RK se uitbeelding van Maria glad nie Joods is nie maar Babilonies. Die RK beeld haar altyd as ʼn jong vrou met blou oë en blonde hare uit. Dit stem met afbeeldings van Semiramis uit argeologiese opgrawings ooreen. Maria word net soos Semiramis dikwels met ʼn stralekrans om die kop uitgebeeld - simbool van die songod.
Daar is al soveel fiksie en fabels aan die valse Maria toegedig, dat die ware Maria in die stortvloed van leuens verdwyn het. Desondanks bly sy die rolmodel vir Roomse vrouelidmate wat met ʼn string gebedekrale (Rosary) 52 keer tot Maria bid sonder om die naam van Jesus een maal te noem. Volgens berekening bid ʼn toegewyde lidmaat in ʼn gemiddelde leeftyd van 70 jaar meer as een miljoen keer tot Maria!
Geen mens mag ʼn mens aanbid nie: “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoet gegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ʼn mens” (Hand.10:25,26). Selfs engele mag nie aanbid word nie, net God: “En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God...” (Openb.19:10).
Roomse pouse en kerklui bid in weerwil van die Bybel onbeskaamd tot Maria en moedig mense daartoe aan. Hulle glo dat sy en die sg. heiliges na hulle dood van God die reg ontvang het om gebede aan te hoor. Nee, die Bybel sê dat gelowiges slegs vir mekaar, maar nie tot mekaar mag bid nie. Desondanks bid Roomse lidmate onbeskaamd voor beelde van Maria en heiliges. Pous Johannes Paulus 2 het die titel TotusTuam Maria (Alles vir jou Maria) gehad!
Roomse Katolisisme is in werklikheid nie ’n godsdiens nie. Dis ʼn kultus. En kultusse ontstaan waar mense buitengewone eerbetoon ontvang. Die RK keer die Bybelse orde om - die persoon wat die Heilige Gees klein wil hê (Maria), maak hulle groot en die Persoon wat Hy groot wil hê (Jesus), maak hulle klein. En daarmee pluk hulle die hart uit die Evangelie. Jesus sê: “Kom na My toe” (Mt.11:28). Om na ʼn mens vir redding te gaan, sal mense die hel laat beërwe!
Protestantse teoloë het bevind dat meer as 80% van die Roomse leer geensins met die Bybel ooreenstem nie. Die skamele 20% wat wel daarmee ooreenstem,hou miljoene mense wêreldwyd aan die RK gebonde. Paulus waarsku: “Pas op dat niemand julle as ʼn buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense en nie volgens Christus nie” (Kol.2:8).
Dank God vir Protestantisme!