Oordeel of aanvaar?
Ds. Andre van den Berg
Al hoe meer mense verwerp God se oordeel oor homoseksualisme en sien dit eerder as alternatiewe erotiek. Dit het selfs tot afsonderlike kerkvorming gelei. Hulle glo dat omdat homoseksualisme nie spesifiek in die Tien Gebooie genoem word nie, God dit nie veroordeel nie. Dis ʼn leuen! Die Bybel sê baie duidelik in beide OT en NT dat homoseksualisme ʼn gruwel in God se oog is.
Wie sy oordeel nie aanvaar nie, kan net sowel ophou om die Bybel te lees. Want as iets wat so duidelik in die Bybel staan anders verstaan moet word, kom die ganse geloofslewe op losse skroewe te staan en is die Bybel vir enige ander vertolking oop!
Die probleem lê by ontsporing - kerke wat die wêreldmening ter wille wil wees, gruwels ontsondig en lidmate dienooreenkomstig mislei. Die Bybel sê baie duidelik dat wie tot bekering kom, vir die sonde dood is:
“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? ... aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde... So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie — òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid” (Rom.6:1,2,6,11-16).Wie homoseksualisme beoefen, beantwoord allermins hieraan!
Daar is ook mense wat glo dat al is homoseksualisme sonde, gelowiges nog steeds saam met lidmate van homoseks-kerke kan aanbid soos ʼn paar jaar gelede in die NG Skuilkrans (Pretoria) met ʼn gesamentlike sangdiens vir tydens Paasfees gebeur het. Die vraag is of dit die regte ding was om te doen?
Wat moet Skrifgetroue gelowiges se houding teenoor homoseks-kerke wees? Dis vir ontspoorde kerklui skynbaar baie Christelik om verdraagsaam te wees en almal ten spyte van verskille as medebroeders te aanvaar. Dit is so dat God se genade groot is. Sondaars ontvang dit slegs indien hulle vergifnis van sonde verkry het. As lidmate van homoseks-kerke glo dat homoseksualisme nie sonde is nie, sal hulle nie om vergifnis daarvoor vra nie!
Die Bybel is duidelik oor ware liefde vir God–dis gehoorsaamheid aan Hom. “ ... Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde ...” (1 Sam.15:22,23). “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).Wie nie van sonde afsien nie, het God nie werklik lief nie.
Mag gelowiges in die lig van die Bybelse opdrag om nie te veroordeel nie, mense wat homoseksualisme beoefen veroordeel? Ja, indien die sonde veroordeel word en nie die mens nie. Mt.18 gee gelowiges die volste reg daartoe: Ons het 'n plig om die sonde te oordeel (kyk Die Bybel oor oordeel). Die Bybel gee ons 'n goeie riglyn in Matteus 18:
“En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar” (:15-17).
Jesus sê nie in vers 17 dat as hy nie na die gemeente luister, hulle hom maar moet aanvaar en die oordeel aan God oorlaat nie. Hy sê dat so ʼn persoon as 'n heiden gesien en behandel moet word. Siende dat homoseks-kerke reeds besluit het om in sonde voort te gaan, moet hulle volgens Jesus se voorskrif behandel word en nie as medegelowiges soos in ontspoorde kerke nie!
In Joh. 8 verdedig Jesus wel ʼn prostituut teen die kerklui, maar sê baie duidelik: “... Gaan heen en sondig nie meer nie” (:11). Jesus sou beslis nie daarvoor te vinde gewees het dat sy bloot aanhou hoereer nie. Jesus het nie gesterf dat mense maar kan aanhou sondig nie. Daarom durf gelowiges nie na homoseks-kerke uitreik nie.
Paulus gee raad:
“In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: Verwyder die slegte mens onder julle uit!” (1 Kor.5:913 - NV).
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis” (2 Kor.6:14).
“Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebr.10:26
God straf nie net homoseksuele mense nie, maar ook gemeenskappe wat dit duld. “...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32). Gevolglik kan gelowiges slegs na enkelinge wat homoseksualisme beoefen uitreik en 'n pad van verlossing met hulle stap, maar nie met Homoseks-kerke nie.