OUKERSAAND

Ds Andrè vd Berg

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27).

In die 1800’s is ʼn skilderfees met groot pryse in ʼn Europese stad gehou wat baie mense gelok het. Die deelnemers is nie vooraf van die tema verwittig nie en eers by die aanvang aangekondig. Die tema was vrede.

Dit het die deelnemers onkant gevang want hoe skilder ʼn mens iets abstrak soos vrede? Die meeste het rustige natuurtonele, berge, valleie en rivieroewers geskilder, met net een uitsondering; die wenner. Hy het ʼn vreesaanjaende waterval geskilder wat etlike meters na benede in ʼn kokende watermassa stort. Oor die rand het ʼn boomtak uitgesteek wat enige oomblik meegesleur kon word en op die punt daarvan ʼn voëltjie op haar nessie sonder vrees in haar oë.

Dis wat vrede is; nie mooi natuurtonele nie, maar ʼn stille berusting te midde van ʼn wêreld wat om jou kook.  Dis die vrede waarvan Jesus in die teksvers praat. Die wêreld is vreesaanjaend en stormagtigmet net een mens wat ware vrede ervaar – hy wat in Christus sielerus gevind het omdat hy glo dat Jesus alle mag in die hemel en op die aarde het. So ʼn mens is soos daardie voëltjie op die nes wat met sy dagtaak aangaan, al bars die hel aan sy voete los!

Jesus het die woorde van die teksvers ʼn paar uur voor Sy inhegtenisname uitgespreek. Hy en die dissipels was nog in die bovertrek waar hulle pas nagmaal gevier en Judas hulle verlaat het.   Jesus se dood was naby en met die woorde van die teksvers lees Hy as’t ware sy testament voor.   Hy laat vir Sy dissipels nie geld of eiendom na nie, maar iets waardevoller: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle...” Geld en eiendom kan verbeur of verlore raak, maar nie geestesvrede nie. Net Jesus kan dit gee omdat Hy die Koning van vrede is soos Jesaja sewe eeue voor Jesus se geboorte voorspel het:

Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde...” (Jes.9:5,6).

Die losbandige Hippiekultuur van die 60er jare het ten spyte van die slagspreuk PEACE geen vrede gebring nie. Die Hippies het geen vrede gevind nie omdat hulle dit by die verkeerde vors gaan soek het – dié van die duisternis. Jesus sê van hom dat hy ʼn mense moordenaar van die begin af is.   Daarom het duisende jongmense op soek na vrede destyds weens dwelm- en drankmisbruik gesterf.   Daar is een groot les hieruit te leer - daar is geen vrede buite Jesus nie.  

Dit wat vir vrede voorgehou word, lewer dikwels die teenoorgestelde resultaat. Die Verenigde Nasies, destyds VVO genoem, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Dis na die Tweede Wêreldoorlog gestig om kwansuis wêreldvrede te bewaar. Die teenoorgestelde het gebeur – hulle het gaan krap waar dit nie juk nie en rampspoed en bloedvergieting veroorsaak. Sonder Jesus; sonder vrede! Wie se hart reg is, se kop is ook reg!

Daar is twee tipes vrede in die wêreld.   Een is vals en een eg.   Die valse vrede laat mense telkens in die vaarwater beland omdat hulle glo dat hulle daarvoor moet werk. Egte vrede word nie deur mense verwerf nie, maar van Jesus geërf!

Wat ʼn wonderlike vrede! Op Kersnag kondig ʼn engelskare dit aan: “En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae..” (Luk.2:13,14).

Kersfees is ʼn vredesfees. Hoe vier ʼn mens dit reg?   Wanneer jy die vrede wat Jesus ook vir jou nagelaat het, jou eie gemaak het.   Dis so tragies om te sien hoe skarrel mense op soek na vrede rond; gewoonlik in die verkeerde rigting.

By geleentheid wil ʼn Jood in Londen per bus Trafalgar Plein toe ry en vra die kondukteur: Mister conductor, how much to Trafalgar Plain?”Two and six” antwoord die kondukteur.   Die Jood besluit dis te veel en hardloop ʼnent agter die bus aan vol vertroue dat die reisgeld goedkoper sou wees. Toe die kondukteur weer sy verskyning maak, vra die Jood uitasem: “Mister conductor, how much tot Trafalgar Plain?” waarop die kondukteur antwoord: “Three and six – you are running the wrong direction!” Die mens sonder Christus hardloop altyd in die verkeerde rigting.

Ons eens rustige land lyk vandag soos die waterval op die skildery. Die Boerevolk is soos daardie voëltjie op die tak, maar met die verskil dat daar vrees in hul oë is.   Hulle glo nie dat Jesus Christus alle mag in die hemel en op die aarde het nie. Hierdie mosie van wantroue maak dat hulle vrees. En waar vrees heers, is daar geen vrede nie.

Mag ons hierdie Kersfeeste midde van ʼn rigtinglose volk rigtingvas wees en met vrede in ons oë ʼn mosie van volle vertroue in ons Redder, Jesus Christus stel!