DIE PAALTJIES WAT ONS VASHOU

Ds Andrè van den Berg

 

“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”(Fil.4:13).

 

Jare gelede ry ek by ʼn sirkus verby en daar staan ʼn olifant met die een voorpoot aan ʼn paaltjie wat ingekap is, vasgemaak.   Hy probeer nie om los te kom nie; hy staan. ʼn Olifant kan na berekening meer as ʼn ton met sy slurp optel. ʼn Mens sien soms op TV hoeveel skade ʼn olifant kan aanrig as hy berserk raak en alles in sy pad verwoes; die sterkste dier op aarde. En daar by die sirkus staan hy aan ʼn paaltjie vasgemaak. Hy kon wegloop as hy wou!

So gaan dit met baie mense met paaltjies van slegte gewoontes wat hulle vashou en van vryheid en geesteskrag beroof.  Hulle sê vir hulself: “Ek kan nie loskom nie”. Die Satan laat hulle soos daardie sirkusolifant dmv kondisionering glo dat dit hul lot is.

God laat mense reg glo want niemand is so deur die Satan gebreinspoel dat hulle nie anders kan as om verkeerd op te tree nie. Daarvoor gee Jesus ons die nodige krag: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie” (1 Kor.6:12).

Enige mens kan met die krag van Jesus enige vorm van verslawing oorwin hetsy drank, dwelms, tabak of wat ook al. Daar is geen paaltjie in die lewe wat ons nie met sy krag kan uitpluk nie.   Mense hoef nie met ʼn tou om die voorpoot agter die Satan aan te piekel nie!

Ons lewe eenmaal op aarde. Jesus wil hê dat ons die beste van ons lewe maak.Maar daarvoor moet ons vry wees: “ ... en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Kor.3:17). Hierdie vryheid is ʼn lewenslange stryd. Satan haat dit. Daarom skryf Paulus: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie (Gal.5:1).Satan plaas jukke op mense. Wie ʼn juk dra, is sy slaaf. En daar is baie. Miljoene mense sterf jaarliks aan dwelm- en drankverslawing!

Verslawing maak die lewe hel.  Dis soos gevangenskap; jy was eers vry, maar nou is jy vasgemaak. God wil hê dat ons vry moet wees en gee ons in Jesus Christus die nodige krag daartoe:“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”. Daar is soveel van hierdie vryheidskrag beskikbaar, dat dit vir geen mens nodig is om aan ʼn paaltjie vasgemaak te staan nie!

Pasop vir die Satan; hy bind jou in ʼn oogwink:“...en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efes.4:27). Gebondenes is soos dronkaards. God wil hê dat hulle hul verslawing moet laat staan en nugter word: “...sodat hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim.2:26).

God het Jesus in die volheid van die tyd gestuur om ons van krag te voorsien om Satan teen te staan. Maar dan moet ons met die gesig na God en die rug op Satan gekeer staan: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak.4:7). Gebondenes staan anders om; met die rug na God en die gesig na die Satan toe. Dis ʼn resep vir lewensmislukking!

Paulus was voor sy bekering ook aan ʼn paaltjie vas – dié van skynheiligheid. Hy was ʼn grootmeneer met baie geleerdheid en hoë aansien. Dit was egter ʼn paaltjie. Toe dit uitgetrek is, het alles verdwyn en moes hy ter wille van sy lewe selfs in die nag uit Damaskus ontsnap om nie doodgemaak te word nie; hy wat tevore selfs gelowiges laat doodmaak het!

Jesus het hom die krag gegee om daardie paaltjie van ʼn skyn-voorbeeldige lewe uit te trek al het dit tot ongunstige lewensomstandighede gelei: “...want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly” (Fil.4:11,12).

Die paaltjies in die lewe word nie net aan teëspoed gekenmerk nie. Mense word ook maklik slawe van materialisme. In 1988 het Christina Onassis kort voor haar dood (37) haarself as die ongelukkigste mens ter wêreld beskryf en $15 biljoen nagelaat!  

Rykdom kan ʼn paaltjie wees. Dink aan Laodicea: Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openb.3:17).

Het jy miskien ʼn paaltjie in jou lewe wat jou van ware lewensvreugde beroof? Dan moet jy dit met die krag van Jesus uittrek! Nadat Paulus van die paaltjie van selfvoldaanheid losgekom het, skryf hy: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!...Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:4,6,7).

God is ʼn vader en ʼn vader is bly as dit met sy kinders goed gaan. So ook die Here. “Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap... Hy juig oor jou met gejubel” (Sefanja 3:17).

Onthou dat jy net een lewe het. Dit kan een van blydskap in die Here wees of van hartseer omdat jy aan ʼn paaltjie vasgemaak is en omdat jy nie die krag het nie, nie kan ontsnap nie.   Die teksvers het die oplossing: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”.

As ons op ons eie krag vertrou, gaan ons lelik tweede kom. God se krag kom oor die brug van genade na elke gebonde mens: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon” (2 Kor.12:9).

Hierdie genade-krag kos ons nie ʼn sent nie. God gee dit in Jesus. Ons moet net daarvoor vra: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.   Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Mt.7:7.8).

As ons nie vra nie, sal ons nie kry nie en sal ons aan daardie paaltjie vasgemaak bly reg om te loop wanneer die sirkus beweeg.  Nee, 1000 maal nee! Pluk daardie paaltjie uit want jy weet nie hoe lank jy nog gaan leef nie.

Kom ons bid soos koning Dawid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg” (Ps.139:23,24).