Ds Andrè vd Berg
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet.1: 19,20).
Is die Bybel soos wat ons dit het, die Bybel soos wat God dit wou hê of is daar miskien boeke weggelaat of bygevoeg? Hoe seker kan ons wees dat die Bybel wat ons lees eg is?
Daar was nooit ’n kerklike liggaam wat besluit het watter boeke moet in- en watter uit die Bybel gelaat moet word nie. Bybelse geskrifte is deur die eeue deur gelowiges ontvang en as geïnspireerd geëien. In Jesus se tyd was die 39 boeke van die OT alreeds goed bekend. Israel het nooit vergader om oor die inhoud van die OT te besluit nie. God het die Bybel so beskik.
Minstens 90% van die NT is onmiddellik deur gelowiges as die Woord van God erken. Oor boeke soos Jakobus en Hebreërs was daar aanvanklik twyfel. By Hebreërs ontbreek die naam van die skrywer en Jakobus lê baie klem op die doen van goeie werke wat oënskynlik Paulus se klem op genade weerspreek. Desondanks was daar by die grootste deel van die vroeë kerk ooreenstemming dat hierdie twee boeke wel in die Bybel moes wees.
Daar was destyds baie valse geskrifte in omloop waarmee dwaalleraars hul dwaalleer probeer regverdig het. Geeneen daarvan het die paal gehaal nie; ’n duidelike bewys dat God die 27 boeke vir die NT voorsien het. Daarom het die Sinodevan Kartago (397nC) finale erkenning aan al die 27 boeke van die NT gegee. Ons kan dus vir seker weet dat die kerk nie die Bybel geskep het nie, maar dat dit so van God ontvang is.
Die OT is oorspronklik in Hebreeus en die NT in Grieks geskryf. Hierdie tekste bestaan nie meer nie. Tydens die ballingskappe het die Jode van die OT gekopieer; ’n moeisame proses omdat dit met die hand oorgeskryf is. Omdat die OT nog nie afgesluit was nie, was daar geen standaard teks nie en het feitlik elke Joodse gemeenskap het ’n eie teks gehad.
In die tyd van Jesus was verskeie kopieë van die OT in gebruik. Die Jode het nie meer Hebreeus gepraat nie. Dit was ’n Bybeltaal. Desondanks is Hebreeuse manuskripte steeds gekopieer en in sinagoges gebruik. Wanneer Jesus die OT aanhaal, haal Hy nie die Hebreeuse teks aan nie, maar die Septuagint (’n Griekse vertaling van die OT) omdat daar destyds geen vasgestelde bron-teks was nie. Die oudste volledige manuskrip van die OT is die Kodeks Lenningradensis (1008nC); die grondteks van die 1933/53 Afrikaanse vertaling.
Wat die NT betref, dateer die oudste manuskripte uit die einde van die 2de eeu nC. Daar bestaan weereens geen oorspronklike Griekse teks nie, maar slegs kopieë van manuskripte. Ons is egter baie gelukkig om manuskripte te hê wat 100-150 jaar ná die oorspronklike manuskripte gekopieer is. In manuskripvorm bestaan die boeke van die NT uit losse versamelings. Die oudste volledige NT is Kodeks Sinaiticus (4de eeu) en Kodeks Vaticanus (5de eeu). Beide Kodekse bevat die minste regstellings en word, hulle ouderdom in ag geneem, as die betroubaarste tekste beskou. Gevolglik kom die Bybel wat ons vandag het van kopieë van die oorspronklikes.
Die vraag is: Hoe betroubaar is hierdie kopieë? Is daar nie dalk foute in nie? Nee, die Heilige Gees oortuig ons van die betroubaarheid. Let daarop dat die oorspronklike manuskripte van Shakespeare se werke, wat 450 jaar gelede geskryf is, ook nie meer bestaan nie. Desondanks bestudeer studente die kopieë daarvan sonder om een van Shakespeare se woorde in twyfel te trek. Hoeveel te meer moet ons dit nie met die Woord van God doen nie!
Die OT is in Hebreeus geskryf wat slegs uit medeklinkers bestaan het met geen klinkers nie. Daar was ook nie spasies tussen woorde of sinne nie; alles het aaneen geloop. Eers in 600nC het ’n groep geleerde Jode die OT teks ter hand geneem en vokale by wyse van kolletjies en strepies ingevoeg. Hulle was die Masorete genoem.
Met die ontdekking van die Dooie See-rolle (1947) is duisende fragmente van die OT uit 100vC gevind en stem feitlik letter vir letter met die Masorete-teks ooreen. Dis ’n bykans goddelike bevestiging van die akkuraatheid waarmee daar destyds gekopieer is!
Die NT boeke was teen 100nC klaar geskryf en deur gelowiges as geïnspireerde woorde van God aanvaar. Die kopiëring van die NT geskrifte was egter nie so akkuraat soos dié van die OT nie omdat dit dikwels, weens vervolging, met groot haas gekopieer moes word. Die aantal korrekte Griekse manuskripte (meer as 4500) is egter so oorweldigend eenders wat dit maklik maak om vas te stel wat die oorspronklike teks sê.
Variante lesings is wanneer tekste met mekaar vergelyk word en daar verskille voorkom. Dis die gevolg van skryffoute wat tydens die oorskryf van die teks gemaak is, of woorde wat verskil. Sommige woorde kom in een manuskrip voor en ontbreek by ’n ander. Dit verander egter nooit die betekenis van die teks nie.
Net soos wat die Masorete-teks ons basiese Hebreeuse teks is, is die TextusReceptus (1500nC) ons basiese Griekse NT manuskrip. God het in sy voorsienigheid gesorg dat sy Woord bewaar gebly het sodat ons vandag ’n hoogs betroubare Bybel het. Met die koms van die boekdrukkuns het talle uitgawes van Bybelse tekste verskyn. Die eerste volledige Bybel is van 1450- 1456 deur Johann Gutenberg in Duitsland gedruk en daarna miljoene in feitlik elke denkbare taal.
Die Bybel is al vir meer as 2000 jaar presies dieselfde. Ondanks skrywers se uiteenlopende agtergronde vorm dit, wat sy boodskap betref, ’n eenheid. Die grootste deel van die Bybel is in Israel geskryf. Dele daarvan is ook in die buiteland geskryf. Dis egter alles deur mense geskryf wat deur die Heilige Gees geïnspireer is: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet.1:21).
Een van hierdie heilige mense was Moses wat die eerste vyf Bybelboeke geskryf het. Na die slag teen Amalek lees ons: “Toe sê die Here vir Moses: Skrywe dit as ’n aandenking in ’n boek…” (Ex.17:14).
God het aan sekere mense direkte opdrag gegee om die Bybel te skryf. Dis aanvanklik op klip geskryf omdat alle inskripsies destyds op klip geskryf was. “Toe sê die Here vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en die gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig” (Ex.24:12). “En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God” (Ex.31:18).
God het sekere mense opdrag gegee om die Bybel te skryf. Luister wat sê Hy vir Jeremia: “...Skryf vir jou in ’n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het” (Jer.30:2).Vir Habakuk sê Hy:”...Skryf die gesig op en graveer dit op tafels…” (Hab.2:2).
Die Bybel is egter nie net ’n goddelike opdrag nie, maar ook ’n openbaring waarin God vir ons dinge wat buite die mens se beleweniswêreld lê, oopmaak. “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die Woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Heb.11:3).
Die Bybel vertel ons ook dat die mens voor die sondeval in ’n staat van godsaligheid geleef het waarna God Hom in sy ontfermende liefde tot die sondaar-mens neergebuig en later selfs ’n verbond met hom gesluit het. Die Bybel vertel ons ook dat God sy Seun gestuur het om die verhouding tot Hom te herstel. Die Bybel verseker ons dat Heilige Gees Jesus se werk kom voortsit het. “En dit is die getuienis; dat God ons die ewige lewe gegee het en die lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh.5:11,12).
Die Bybel sê dat alles met die wederkoms en oordeelsdag ten einde kom: “Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Pet.3:12). Al hierdie dinge is dinge buite ons normale menslike waarneming. Nogtans glo ons dit omdat die Bybel dit vir ons sê!
Die Bybel is ’n wonderboek. Dit het oor die 2000 jaar presies dieselfde gebly omdat God nooit verander nie. Hoe anders is die heidendom nie! Die oud-Grieke het later selfs met hul eie gode gespot en die Romeine hul gode met keiseraanbidding vervang. Net Israel se Godsbegrip het nooit verander nie.
Hiervoor is daar net een verklaring – die Bybel kom waarlik van God af en is deur die Gees geïnspireer. God het dit selfs beskik dat die Bybelskrywers nie deur hul bose konings of die afvallige gees van hul tyd beïnvloed is nie.
Die Heilige Gees het hulle gelei om die geskiedenis van hul tyd suiwer en goddelik neer te skryf. Gewoonlik speel mense se agtergrond ’n taamlike rol in hoe hulle dinge sien. Die Bybel vorm egter ’n eenheid ongeag die skrywers daarvan se uiteenlopende agtergronde.
Onder die skrywers was daar volksleiers soos Josua, boere soos Job en Amos, konings soos Salomo, vissers soos Petrus, wetgeleerdes soos Paulus, ’n dokter soos Lukas, ’n kroegman soos Nehemia, ’n musikant soos Dawid, ’n premier soos Daniël en nog vele ander.
Die Bybel is in verskillende wêrelddele geskryf. Groot dele daarvan is in Jerusalem geskryf. Etlike dele daarvan is buite Israel geskryf. Moses skryf in Egipte, Jona in Nineve, Daniël in Babel, die apostels in Klein-Asië en Johannes op Patmos. Ons kan maar net verwonderd oor die Bybel staan en God opnuut daarvoor dank!
“Die wet van die Here is volmaak; dit verkwik die siel; die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige” (Ps.19:8).
“Vir ewig, o Here, staan U woord vas in die hemele” (Ps.119:89).
“Hoe soet is U beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond” (Ps.119:103).