Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Kunstenaars het deur die eeue talle uitbeeldings van Jesus gemaak omdat niemand weet hoe Hy op die aarde gelyk het nie. Het Hy lang hare gehad en ʼn wit kleed gedra soos wat so baie uitgebeeld word? Het Hy ʼn baard gehad? Het Hy anders as die Jode van sy tyd gelyk? Niemand weet nie.
Een van die oudste voorstellings van Jesus is ʼn mosaïek in ʼn kerk in Rome wat uit 410nC dateer. Dit het egter eeue geneem om ʼn standaard uitbeelding te vestig. Die meeste van hierdie voorstellings verraai egter die etniese eienskappe van die kultuur waarin dit geskep is. ʼn Ethiopiese voorstelling van Jesus vertoon Hom bv. as ʼn donkerkleurige persoon.
Die voorstelling van Jesus met ʼn vol baard en lang hare het teen 300 nC vorm begin aanneem en was teen die sesde eeu ʼn redelike standaard voorstelling. Die heel oudste afbeelding van Jesus kom egter uit Sirië en dateer uit 235nC. Dit beeld Jesus weer as ʼn jong baardlose aristokratiese persoon uit.
Talle vroeë voorstellings van Jesus beeld Hom as ʼn baba in sy moeder se arms uit. Dit dui op die Roomse Kerk se Babiloniese herkoms. So ook die stralekrans bokant die kop wat die songod simboliseer.
2. Teenstand
Die Jode het geen afbeeldings van God in hul tempels en sinagoges toegelaat nie omdat die tweede gebod dit verbied het. Dit was ook vir die vroeë Christenkerk taboe totdat die Roomse Kerk die kerktoneel met duisende beelde, fresko’s en skilderye begin bestorm het.
Kerkvaders soos Irenaeus, Clemens van Alexandria en Eusebius van Cesarea het in die vroeë kerk baie sterk standpunt teen enige afbeeldings van Jesus ingeneem. Tydens die Sinode van Elvira (306nC) is daar ook besluit dat geen skilderye of beelde van watter aard ook al in kerke aangebring mag word nie.
Die Roomse Kerk was die eerste oortreders van hierdie beeldeverbod waarna afbeeldinge van Jesus oorhand toegeneem het. Daarom was die Hervorming ʼn vars bries in ʼn baie bedompige kamer en was die Protestante se teenstand teen hierdie afbeeldings ʼn regstellende optrede in kerkgeledere.
3. Jesus in die Bybel
Die Nuwe Testament sê niks oor Jesus se voorkoms nie. Voorstellings van Hom met lang hare is geensins korrek omdat die Jode van sy tyd nie lang hare gedra het nie. Paulus skryf: “Of leer ook die natuur self julle nie dat as ’n man lang hare dra, dit vir hom ’n oneer is nie” (1 Kor.11:14). Die Bybel sê dat Jesus ʼn skrynwerker van beroep was. Gevolglik sou lang hare onprakties en in die pad van so ʼn ambagsman se werk gewees het.
Jesus moes betreklik sterkgewees het omdat skrynwerk goeie liggaamskrag geverg het. Hy was beslis nie effe verfynd soos wat sommige kunstenaars Hom voorstel nie. Skrynwerkers het destyds nie net met hout gewerk nie maar ook met klip. Hulle het oor geen kraggereedskap beskik nie en alles met primitiewe handgereedkap en inspanning gedoen wat lang ure in beslag geneem het.
Die hout waarmee destyds gewerk is, was baie anders as dié van vandag. Dit was baie growwer en moes met handgereedskap in werkbare formaat opgesaag word. Dit moes ook vooraf ontbas en tydsaam afgeskuur word.
Skrynwerkers het dikwels baie meer met klip as met hout gewerk. Hierdie klippe was groot en is met beitels in die verlangde vorms afgewerk. Gevolglik het elke deel van Jesus se beroep fisiese inspanning geverg. Hy sou dit net kon doen indien Hy die nodige liggaamskrag en vermoë gehad het.
Daarbenewens het Jesus nie anders as die Jode van sy tyd gelyk nie. Die Evangelies meld dat Hy telkens tussen die skare verdwyn het en dat die kerklui wat na Hom gesoek het, Hom nie kon kry nie. Dis omdat Hy soos die mense van sy tyd gelyk het. Indien Hy lang hare en ʼn vloeiende wit kleed gedra het, sou Hy baie meer opsigtelik gewees het.
“Maar hy wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was nie; want Jesus het Hom verwyder, omdat daar ’n skare op die plek was” (Joh.5:13).
“ ...en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg ... om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan” (Luk.4:29,30).
“... toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar in die geheim. En die Jode het Hom op die fees gesoek en gesê: Waar is Hy?” (Joh.7:10,11).
“En die pasga van die Jode was naby; en baie het uit dié landstreek na Jerusalem opgegaan voor die pasga om hulle te reinig. En hulle het Jesus gesoek; en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?” (Joh.11:55,56).
Jesus het soos die meeste Jode van daardie tyd waarskynlik ʼn baard gedra. Dit het Hom allermins opsigtelik tussen ʼn skare gemaak. Jesaja profeteer dat Jesus sonder fisiese aansien sou wees.
“ ...Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” (Jes.53:2).
Die woord begeer beteken hier dat Hy nie ʼn aantreklike voorkoms sou hê wat die oog sou opval nie. Hy sou by baie van vandag se charismatiese predikers met hul glansvoorkoms afgesteek het! Hy het soos ʼn doodgewone Jood gelyk. Daarom sê die Bybel niks oor sy voorkoms nie. Dis nie belangrik nie.
4. Jesus in die hemel
Alhoewel ons nie weet hoe Jesus op die aarde gelyk het nie, weet ons wel hoe Hy in die hemel lyk. Johannes het Hom gesien en soos ʼn dooie aan sy voete neergeval:
“Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars,en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel.Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam,en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.En toe ek Hom sien, val ek soos ’n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openb.1:12-18).
Dit sluit by Paulus se beskrywing van Hom aan:
“En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ’n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor ’n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand.9:3-5).
Dit maak egter geen saak hoe Jesus op die aarde gelyk het nie. Al wat saak maak, is dat daar wel ʼn dag gaan aanbreek dat almal Hom gaan sien - òf as Verlosser òf as Regter!
“En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen... En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openb.20:11.12).