Ds Andrè van den Berg
“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het”(Hebr.4:12,13).
Jare gelede het ʼn sendeling Bybels aan almal wat sy pad gekruis het uitgedeel. So het ʼn heiden by geleentheid ook onder sy vrygewigheid deurgeloop. ʼn Tyd daarna is hy een dag met ʼn klagte na die sendeling se huis. Hy het gekla dat die Bybel drama in sy huis veroorsaak nadat sy beste jaghond dit opgeëet het.
Toe die sendeling vir hom nog ʼn Bybel wou gee, het hy botweg geweier. Hy het nie gekla dat die hond die Bybel bederf het nie, maar dat die Bybel die hond bederf het. “Daar staan mos in geskryf dat jy jou vyande moet liefhê; nou weier my hond om op jagtogte saam met my te gaan!”
Die Bybel is ʼn gevaarlike boek; as dit ʼn hond kan verander, hoeveel te meer nie ʼn mens nie! En dis waarvan die Hebreërbriefskrywer skryf: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg...”
Ongelowiges hou niks van hierdie teks nie omdat dit hard is. Mense lees die Bybel soms baie selektief; net dit wat hulle pas. Hulle hou van die groen weivelde en rustige waters waarvan die Bybel melding maak. Hebr.4:12 maak egter soos ʼn swaardwond seer.
Die beeld van God se Woord as ʼn swaard, is bekend aan die OT. By geleentheid gee God aan Jesaja die opdrag om ʼn baie harde oordeel oor Juda aan te kondig: “En Hy het my mond gemaak soos’n skerp swaard” (Jes.49:2). Dit klink so vlymskerp dat ʼn mens as’t ware bloed sien loop!
Wat gebeur as die swaard van die Woord ʼn mens tref? Jou lewe val soos ʼn boek oop; maker af! Die teksvers sê dat dit” ... dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart”.
Jy keer tevergeefs. Nog minder kan jy wegkruip - die swaard haal jou in en roep jou tot verantwoording. Selfs Adam en Eva kon nie vir God wegkruip nie maar moes verantwoording van sonde doen. Die tweede teksvers sê; “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het”.
Hierdie waarheid behoort elke mens regop te laat sit – die wete dat die God wat elke hoek en draai van sy skepping ken, van die grootste sonnestelsels tot die kleinste sandkorrel, dwarsdeur my sien!
Koning Dawid skryf in Ps.139:1-6: “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al.U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie”.
Elke mens is voor God so deursigtig soos glas. Hy beoordeel elke gedagte, optrede, dryfveer en lewensstyl. Om dit te begryp, wil sondaars soos ek laat uitroep: “Berge val op my en heuwels bedek my!”
Waar is dit, gedagtig aan God se alwetendheid, die gevaarlikste om te wees? Op straat? In jou motor? In ʼn swart woonbuurt? Nee, in die kerk want hier kom God se swaard op alles wat sondig is neer. Maar as sy swaard ons tref, is dit nie om ons seer te maak nie, maar te genees.
As sy swaard ons ware menswees blootlê, is dit om ons van sonde te bevry. As dit ons oopruk, is dit om ons siele van die hel te red en tot rus te laat kom. Daarom sê Jesus: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28).
Die sondaar beur van God af weg. Dis sy aard. Dit maak hom onrustig. Die besetene van Gadara pleit aanvanklik by Jesus om van hom af weg te gaan. En na sy bekering om altyd saam met Jesus te wees. Dis tog so sprekend van die mens – voordat die swaard van God hom tref, wil hy niks met Jesus te doen hê nie, daarna wil hy alles met Hom te doen hê. Wat ʼn genesende uitwerking het dit nie! Dis amper soos ʼn chirurg wat die kwaad moet uitsny sodat die pasiënt gesond kan word.
Die skrywer van Hebreërs skryf nie ligtelik oor God se swaard nie. Dit het hom ook getref en hy het bebloed daarvan afgekom. Nogtans doen hy ʼn merkwaardige ding – hy sing; en nie sommer ʼn ou liedjie nie, maar ʼn volbloed loflied. Die teksverse was waarskynlik ʼn ou Christenlied wat die vroeë gelowiges oor God se oordeelswaard laat gesing het.
Gelowiges doen dikwels net die teenoorgestelde as wat algemeen verwag word. Martelaars het dikwels in die aangesig van ʼn gewisse dood gesing. By geleentheid word Paulus en Silas weens hul verkondiging van Jesus in die Griekse stad Filippi in die tronk gegooi. En wat doen hulle? “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Hand.16:25).
Die skrywer van Hebreërs het waarskynlik ook die swaard van God in sy lewe gevoel – die swaard van loutering. As gelowiges die swaard van God se Woord voel, moet hulle weet dat God hulle wil louter. Paulus en Silas het vir seker geestelik sterker uit die tronk gekom.
God tref ons met sy swaard omdat Hy ons liefhet. Hy druk hierdie swaard soms baie diep in ons om van verderf te red. As die snymerke van die kruis van Jesus Christus kruis en dwars oor jou lewe lê, is dit geen aanduiding dat God jou verlaat het nie. Dis juis die teken dat Hy jou in sy liefde aanraak. As jy die skerpkant van die swaard voel, is dit God se chirurgie waarmee Hy jou siel red!
“... My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebr.12:5,6).
Dis ʼn Bybelse waarheid wat ook in die OT opgeteken is: “My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het” (Spr.3:11,12).
As ons God se swaard voel, moet ons dankie sê dat Hy ons liefhet. Net ʼn gelowige kan dit doen. Ongelowiges vind dit onsinnig. Wat meer is, is dat as God ons met sy swaard tref, dit Hom ook seermaak. Dis soos ʼn ouer wat seerkry as hy sy kind ʼn pak slae gee.
Wanneer God se swaard ons tref om ons van sonde te bevry, moet ons weet dat ons sonde ook sy Seun getref het. Kyk na Golgota waar Jesus stukkend aan ʼn kruis hang en bloed tot ons redding loop. So, as jy die swaard van God voel en na jou wonde kyk, weet dat dit in werklikheid Jesus se bloed is omdat God jou so liefhet dat Hy sy enigste Seun vir jou sondes laat sterf het!