HOE KOM ʼn MENS IN DIE HEMEL? (6)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Hoe kom mens in die hemel?

“Menere, wat moet ek doen om gered te word? Glo in die Here Jesus en jy sal gered word”. (Hand.16:30)

Almal wil graag na die dood in die hemel kom. Kan ʼn mens moontlik iets doen om dit te verdien? Nee, jy kan nie want die kaartjie na die hemel is gratis. Verlossing kos nie een sent nie. In Hand.16 val die tronkbewaarder van Filippi bewend voor Paulus en Silas neer: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hy was ’n Griek en Grieke het ʼn magdom van gode vereer. Om in hierdie gode se goeie boekies te bly, moes daar altyd iets vir hulle gedoen word.       

Jare gelede het ʼn Britse sendeling in Indië ʼn ou man wat op sy hande en knieë gekruip het langs die pad opgemerk. Daar was nie meer velle aan nie; net bloed. Toe hy hom na die rede vir sy self marteling vra, het die man geantwoord dat hy na Delhi kruip (140 km daarvandaan). “Waarom doen jy dit?” het die sendeling gevra. “Om in die hemel te kan kom” het hy geantwoord en geglo dat hy sodoende ʼn plek in die hemel kon verdien.

Die tronkbewaarder van Filippi vra wat hy moes doen om gered te word. Paulus se antwoord was eenvoudig: Hy moes hom tot Jesus bekeer en niks verder nie. Miskien is dit wat die Christendom vir heidene moeilik maak. Heidene voel dat hulle iets fisies moet doen. Nie Christene nie want Jesus het reeds alles gedoen wat vir verlossing nodig is. Desondanks probeer baie mense met ʼn voorbeeldige lewe en goeie werke steeds hul eie verlossing bewerkstellig.  God beloon egter wel diegene wat Jesus as Verlosser aanneem. Dis egter alles genade-loon.

Die Bybel praat van vyf krone wat verlostes ontvang.

  1. Die kroon van die lewe: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).
  2. Die oorwinnaarskroon: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop so dat julle dit sekerlik kan behaal” (1 Kor.9:24).
  3. (iii)Die kroon van blydskap: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? “ (1 Thess.2:19).  
  4. (iv)Die kroon van heerlikheid: “En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. (1 Pet 5:1) en
  5. (v) die kroon van geregtigheid: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here , die regverdige Regter, my in dié dag sal gee…” (2 Tim.4:8).

Gelowiges durf nie onverskillig teenoor verlorenes staan nie en Kain se houding inneem dat ons niemand se oppasser is nie. Want ons is! Ons moet soveel as moontlik mense saam met ons hemeltoe vat. Ons getuienis moet ʼn oproep hemeltoe wees.

God roep ons op om onverskilliges oor die komende oordeel te waarsku sodat hulle hul kan bekeer en saam hemel toe kan gaan. Eseg.33 handel oor ons verantwoordelikheid teenoor sulke mense. ʼn Getuie is soos ʼn wag op ʼn stadsmuur wat op ʼn ramshoring blaas as hy gevaar bemerk.  

Daar is geen verskoning waarom ʼn mens nie gered kan word nie.  Niemand is ʼn te groot sondaar nie. Geen sonde maak Jesus kragteloos nie. Bose geeste het dan selfs voor Hom gevlug! In Mark 5:7 sê ʼn bose gees vir Jesus: “…. Wat het ek met U te doen, Jesus Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie” Vers 12 lui: “...en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar”. Niemand is te sleg om gered te word nie!

Sommige mense sê dat hulle nie gered voel nie. Een ding moet ons weet; Jesus red ons nie as ons daarna voel nie. Gevoelens maak nie saak nie. God sê vir Juda: “Wend julle tot My en laat julle red” (Jes.45:22). Kom na God toe, Hy doen die res. Paulus skryf: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe” (Rom.5:6)

‘n Flou verskoning wat dikwels aangevoer word, is: Daar is baie beter mense om te red as ek! Is dit so?!   Jesus red juis mense wat min of geen aansien in die lewe het nie. Let op sy visserman-dissipels, Levi die tollenaar en die besetene van Gadara; eenvoudige mense wat gered is.

As mense glo dat daar niks goeds in hulle is nie, is dit selfs goed want Christus het juis vir slegte mense aan ʼn kruis gesterf. Toe Hy op aarde was, was die eertydse kerklui dikwels ontsteld omdat Hy in slegte mense se geselskap verkeer het. Jesus het dit doelbewus gedoen om sy taak te kon uitvoer: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10).  

Moet nooit glo dat jy te veel sonde het om gered te word nie. Jesus se bloed is baie meer as al jou sonde, meer as genoegsaam om dubbeld soveel sondes as wat jy tans het te bedek! En as jy glo dat jy ʼn baie groot sondaar is, het ek baie goeie nuus – Jesus is ʼn groot Redder!

Daar is ook mense wat agter hul ouderdom wil wegkruip en sê: “Ek is al te oud om gered te word”. Dis juis vir hulle wat Jesus die wedergeboorte wil skenk. In Joh.3 lees ons van so ʼn man - Nikodemus wat deur die Gees van God wederbaar is.

Nog ʼn verskoning wat mense soms aanvoer, is: “Jesus kan my nie red nie want ek het Hom al soveel keer verwerp”.   Troos jou daaraan dat Hy jou nooit verwerp nie! Miskien sê jy vir jouself: “Ek is die laaste persoon op aarde wat gered behoort te word”. En jy is vir ʼn slag reg, want dis waar Jesus dikwels begin – by die laaste persoon!

As mense wil wag totdat al hulle probleme opgelos is alvorens hulle na Jesus gaan, sal niemand gered word nie. Hoe groter jou probleme en ernstiger jou besware, hoe nodiger het jy die saligmakende verlossing! Alle probleme word nietig wanneer Jesus se bloed daaroor gaan.