Ds Andrè van den Berg
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol.3:2)
Wat is die slegste ding wat ʼn volk kan tref? Bannelingskap of slawerny; veral as hulle aan gunstige omstandighede gewoond was en toe deur vyandige magte onderwerp en tot slawerny gedwing is. Dit was die lot van die Israeliete in Egipte ná Josef se dood. Hulle was eers begunstigdes en het in ʼn vrugbare landstreek gewoon. Toe die Egiptiese koningshuis later omver gewerp is, was dit die einde van hul guns en het 400 jaar van slawerny aangebreek; langer as ons eie volksgeskiedenis tot op hede!
God het die Israeliete op sy bestemde tyd vrygemaak en na Kanaän, wat Hy met ʼn eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, laat trek. Dit was nie baie ver van Egipte af nie; ongeveer drie maande te voet. Tog het dit hulle 40 jaar geneem - langer as om reg-om die wêreld te loop!
Waarom so lank? Daar was drie redes hiervoor. God wou hulle leer om 100% van Hom afhanklik te wees en Hom met hul toekoms te vertrou. Hulle was vir lank in Egipte en is met die heidendom besoedel. Dit kon slegs deur ervaring en beproewing skoongewas word. Let op die invloed van die heidendom aan die voet van Horeb toe die goue kalf gemaak is. Waarom ʼn kalf? Dit was een van Egipte se afgode en getuig van die heidense invloed op die Israeliete.
Die tweede rede waarom hulle so lank moes rondswerf, was omdat hulle God se toorn ontketen het. Toe Hy hulle aansê om Kanaän binne te trek, het 10 van die 12 verspieders met ʼn negatiewe verslag die volk in hul spore laat vassteek en daarmee ʼn mosie van wantroue in God se leiding gehuldig. God het hulle gestraf deur hulle langer in die woestyn te laat rondtrek!
Ons staan egter by die derde rede vir hul lang swerftog stil – hul verkeerde lewensingesteldheid – ʼn woestyndenkwyse. Almal was opgewonde oor die uittog uit Egipte en die vooruitsig van Kanaän. Toe dit te lank neem, het hul gesindheid verander en het hulle begin dink soos wat hul omstandighede gelyk het –dof en vaal soos die woestynsand.
Dis ʼn probleem in baie mense se lewens, veral as dit met hulle sleg gaan. Dan neem hul gedagtegang die kleur van hul omstandighede aan. Dan sien jy net negatiewe dinge raak en bly dit deur jou gedagtes maal. Jy kan later aan niks anders dink nie! Dit neem sulke mense soms lank om oorwinning oor slegte sake te kry terwyl dit in ʼn kort tyd opgelos kon word. Woestyndenkwyses laat mense in hul eie klein wêreld vasval en in ʼn groef beland.
Kol.3:2 leer ons wat om met hul gedagtewêreld te doen – anker dit aan die dinge van God. Bedink dit wat ewigheidwaarde het en God behaag. Ons het ʼn goddelike belofte:
“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?... want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6).
Dink reg; leef reg! In Ps.73:25 sê Asaf:
“Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie”.
In Spr,15:24 sê Salomo:
”Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk”.
Die beste raad kom uit die mond van Christus self:
“...maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel...” (Mt.6:20).
Drie verse later waarsku Hy teen dit wat die Israeliete in die woestyn gepootjie het – woestyndenke:
”Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees” (:23)
Paulus brei hierop uit:
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie”(Kol.3:2)
ʼn Verkeerde gedagtegang belemmer die gees en maak mense sielkundig siek. Jesaja het dieselfde probleem met sy volk gehad – hulle was so negatief dat hulle God se seëninge nie meer raakgesien het nie:
“Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie” (Jes.44:18).
Paulus skryf aan die Efesiërs:
“Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig” (Efes.5:8).
ʼn Woestyndenkwyse is nie uitsluitlik aan negatiewe lewensomstandighede te wyte nie. Daar is mense met wie dit op stoflike gebied goed gaan - hulle het ʼn gerieflike huis, goeie werk, luukshede, geen skuld ens. maar hulle geniet nie die lewe nie omdat hul kop vol woestynsand is – hulle het ʼn negatiewe gees.
Dit word vertel van ʼn man met ʼn baie negatiewe buurman. Toe hy eendag ʼn ou motor by die huis bring om te restoureer, sê sy buurman: “Jy gaan hierdie ding nooit aan die gang kry nie!” ʼn Tyd later roep hy die buurman om na die pragtig gerestoureerde motor te kom kyk en skakel die masjien aan. “Jy sal dit nooit afgeskakel kry nie!” sê die buurman.
Niks verlam die menslike gees soos ʼn negatiewe lewensingesteldheid nie. So ʼn mens word ʼn gevangene van homself; sy eie tronkbewaarder. En dit gebeur as mense toelaat dat omstandighede die tamboer in hul lewe slaan. Hulle bereik nooit hul geestelike potensiaal nie en kom geestelik nooit by Kanaän uit nie.
Die Israeliete het gedurig oor hul lewensomstandighede gekla. Hul gemoedere het dieselfde kleur as hul omgewing aangeneem; woestynvaal. Dit het hul gedagtewêreld so dood soos die wêreld waarin hulle hul bevind het, gemaak.
En dis waarteen ons moet wal gooi. Moenie dat negatiewe omstandighede jou gedagtewêreld inkleur nie. Jy gaan nie by jou geestelike Kanaän uitkom nie!
God het Israel uit die slawerny verlos om hulle in die beloofde land in te lei. ʼn Land van geen tekorte nie, maar oorvloed. God doen dit vandag nog met sy kinders. Hy verlos jou UIT iets negatiefs en plaas jou IN iets positiefs. Hy roep ons uit die duisternis en plaas ons in die lig. Dis ʼn uit-en-in handeling.
Die meeste wat uit Egipte getrek het, het die beloofde land nooit bereik nie en in die woestyn gesterf omdat hulle God nie met hul toekoms vertrou het nie. Hulle het teen die woestyn bly vaskyk. Dis hartseer om so ʼn wonderlike toesegging te hê en dit deur jou eie toedoen te verongeluk.
Soveel gelowiges is oppad na die Beloofde Land (hemel) maar geniet nie die rit nie. Hulle gedagtewêreld het iewers in die woestyn van die lewe vasgeval. Dit verhoed die blydskap wat God vir sy kinders bestem en waartoe Hy ons oproep: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele...” (Mt.5:12).
Ons volk verkeer tans in ʼn baie lelike woestyn. Dit wat gister verkeerd was, is vandag reg. Kerke praat gruwels goed soos daggagebruik wat gewettig is. Waarheen gaan ons dierbare vaderland?!
Nou moet ons versigtig wees en nie dieselfde fout as die ou Israeliete maak deur ons gedagtes dieselfde kleur as die landsomstandighede te laat aanneem nie. Ons lees in Gen.5 van Henog wat onder die moeilikste omstandighede steeds met God gewandel het. En dis wat ons ook moet doen – vasbyt en glo dat God sal red.
Doemprofete voorspel dat al wat van ons volk gaan oorbly, kurkdroë doodbeendere in die woestyn van vernietiging gaan wees. Nee, solank as wat ek aan Jesus Christus glo, sal ek dit nooit glo nie! God het ʼn doel met ons huidige ideologiese woestynswerftog - om sy lig in hierdie heidense duisternis aan die suidpunt van Afrika te laat skyn.
Let op die gelese gedeelte uit Kolossense waar die gelowiges opgeroep word om anders as die wêreld van hulle tyd te dink. Ongelowiges kyk teen hul omstandighede vas. Gelowiges kyk na Jesus, hul Leidsman.
Die gelowiges in Kolosse het dit moeilik gehad. Hul omstandighede was baie ongunstig. Afgodery was ʼn gevestigde praktyk en die pad van die geloof het deur ʼn ongenaakbare geestelike woestyn gegaan. Daarom die vermaninge:
“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is... waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het” (3:5,7). Dink en leef anders.
Hoe kry ʼn mens dit reg? Volg die raad van ons teksvers en bedink die dinge wat daarbo is.
Ons volk is wel in die woestyn, maar ons gaan, soos die Israeliete, nie vir ewig hier wees nie. Ons is op pad na die beloofde land. Ja, God het oom Niklaas van Rensburg getoon dat ons ʼn volmaakte republiek uit sy hand gaan ontvang. Dit gaan wonderlik wees. Maar veel heerliker is die Nuwe Jerusalem waarheen al God se kinders oppad is. Kom ons kry die woestynsand uit ons koppe!