MOENIE KLEINGELOWIG WEES NIE

Ds Andrè vd Berg

“En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (Mt.14:31).                                    

Wat ʼn aangrypende verhaal! Een nag terwyl die dissipels vis gevang het, het Jesus op die water na hulle aangekom en hulle het gedink dat dit ʼn spook was. Toe Jesus hul gerusstel het dat dit Hy was, het Petrus gevra of hy op die water na Hom toe kon kom? “En Hy sê: Kom!...” (:29). Daarop het Petrus uit die skuit geklim en na Jesus geloop; op die water – ʼn wonderbeskikking!

Mt.14 leer ons egter hoe ware geloof lyk; iets wat ons almal meer van wil hê om sinvol te leef en veral om die storms van die lewe te trotseer. God help ons hiermee en gee in die Bybel die nodige lig om enduit met Hom te wandel.   Die besonderhede van hierdie verhaal leer ons hoe ware geloof lyk; geloof wat jou selfs op water kan loop. En dis die geloofsgehalte ons in ons ontwrigte land en onder ons ontspoorde volksgenote moet beoefen.

In Petrus se wonder-ervaring is daar ʼn paar sleutelelemente wat aandag verdien.

(i) Die eerste element is dat Petrus gevra het. Hy vra dat Jesus hom moet roep. Daarna het hy op sy antwoord gewag en toe, gehoorsaam daaraan, uit die skuit geklim en op die water na Hom gestap.

Waarom het Jesus vir Petrus geroep om na Hom te kom terwyl daar ook ander dissipels in die skuit was, insluitende Johannes, sy lieflingdissipel? Waarom juis vir Petrus? Omdat hy gevra het. Mt.14 gee vir ons geen ander rede as dat Petrus gevra het nie. Jesus het die dissipels dikwels versoek om God te vra: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop en vir julle sal oopgemaak word” (Mt.7:7).

In Mt.15 verkry ʼn Kanaänitiese vrou antwoord op haar gebede nadat sy aanhoudend gevra het. In Luk.18 het die weduwee se aanhoudende vra die onregverdige regter op haar versoek laat reageer en dit toegestaan het. En dis wat die Bybel ons leer – volhard in gebed.

Petrus het gevra; die ander dissipels nie. Daarom het Jesus hulle nie na Hom genooi nie. Dit bring ons by die kern-element van geloof – kinders van God moet vra!   Ons moenie bang wees om te vra nie. God neem nie aanstoot nie. Hy sal op sy tyd antwoord. Miskien nie met die antwoord wat ons graag wou hê nie, maar Hy antwoord.   Geloof wat op water loop, is geloof wat aanhou vra.        

Dit bring ons by die tweede kern-element van geloof.

(ii) God se wil. Wat vra Petrus? Jesus se woord/wil. “Here, as dit u is...” (:28). Hy soek God se wil voordat hy uit die skuit klim.   En dis wat geloof doen; dit soek God se wil. Geloof is nie ʼn instrument waarmee ʼn eie agenda bevorder word nie. Geloof wat op water loop, soek God se wil en nie die mens s’n nie.

(iii) Die derde kern-element van geloof is om op God te wag. Petrus spring nie onmiddellik uit die skuit nie, maar wag op die Here. Geloof wat op die water loop, wag op die Here totdat Hy antwoord. Die mens hou van opwinding en om geloofsspronge te maak. Die wag-aspek word dikwels buite rekening gelaat.   Petrus klim nie uit die skuit voordat hy van Jesus gehoor het nie. En dis waar baie gelowiges hulle rieme in die geloofslewe vasloop. Hulle spring sonder om op God se antwoord te wag en beland dan in die moeilikheid!

By geleentheid het Satan Jesus probeer versoek om ʼn verkeerde geloofssprong te maak. Hy neem Hom bo-op die dak van die tempel en daag Hom uit om af te spring omdat Ps.91 sê dat God gelowiges beskerm. Jesus het hom met Deut. 6:16 geantwoord - God mag nie versoek word nie. Jy mag jouself nooit in ʼn situasie plaas, dat Hy jou moet kom red ten einde Homself te bewys nie. Dis wat op Golgota gebeur het toe een van die misdadigers Jesus uitgedaag het om Homself en gevolglik hulleself te verlos.  

Gelowiges durf nooit op grond van Bybeltekste waaghalsig raak nie want dit lei altyd tot ontnugtering.  Ons moet altyd op die hele raadsbestel van God let en Jesus se voorbeeld volg. Hy het na die hele Skrif gekyk en nooit ʼn besluit op grond van een enkele teks gemaak nie. Petrus doen die regte ding; hy wag op Jesus. Geloof wat op water stap, wag op die Here totdat Hy antwoord.

(iv) ʼn Vierde geloofs-element in Mt.14 is vertroue. Toe Jesus vir Petrus sê om te kom, het hy dadelik uit die skuit geklim. Hy het nie toegelaat dat vrees vir verdrinking hom keer nie. Ware geloof word altyd aan vertroue in die Here gekenmerk en ongeloof aan wantroue. Petrus het al sy vertroue in Jesus se woord geplaas en nie in sy eie vermoë om te kon oorleef indien iets oppad na Jesus skeefloop nie. Jesus het ook nie van Petrus verwag om iets van sy kant te doen nie. Hy sou toesien dat Petrus by Hom uitkom. Hy sou alles doen. “....want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:5). Petrus se vertroue was geheel en al op Jesus se woord gerig en nie op eie vermoë nie.

Vertroue in God stel ons in staat om enigiets te kan doen wat God van ons vra. Petrus het geen natuurlike aanleg gehad het om op water te loop nie. Nogtans het Hy dit vermag.  Ja, God dompel ons soms in situasies buite ons natuurlike vermoë beland om ons geloof te toets en te versterk.   Al wat Hy van ons vra, is vertroue en derhalwe gehoorsaamheid.   Baie gelowiges het hul al uitgebrand deur met dinge besig te wees wat God hul nooit beveel het nie. En dan is hulle teleurgesteld in die Here. Maar Hy het hulle geen opdrag gegee nie!

Toe Petrus in die skuit was, was daar geen sigbare pad na Jesus nie. Jesus het nie Petrus sy aandag op ʼn vlak rif net onderkant die oppervlak gevestig om op te loop nie. Die groot les wat ons hieruit leer, is dat God vir ons die nodige pad maak soos wat ons na Hom toe beweeg.   Toe Petrus uit die skuit klim, het God die water hard onder sy voete gemaak. Hy het op bevel van Jesus uitgeklim en 100% geglo dat hy Jesus sou bereik. Geloof wat op water loop, vertrou op God alleen en nie op eie vermoë nie.

(v) ʼn Vyfde geloofselement is geloofsywer. Toe Jesus Petrus roep, het Petrus hy nie getalm nie. Hy het hom nie tweemaal laat nooi of stilgestaan of Jesus vir waarborge gevra nie. Dit was ook nie vir die ander dissipels nodig om hom oorboord te stoot nie. Hy was gehoorsaam en uitgeklim. Ja, die geloof wat op water kan loop, is ʼn ywerige geloof, slaggereed om te doen wat Jesus vra.

Opgesom: Petrus het die vyf kern-elemente van ware geloof gehad

  1. Hy het gevra
  2. Hy het God se wil gesoek
  3. Hy het gewag totdat die Here antwoord
  4. Hy het op die Here vertrou
  5. Hy het geloofsywer gehad.

As die verhaal hier geëindig het, sou daar ʼn dawerende applous vanuit die skuit opgeklink het. Bravo, broeder, bravo! Ongelukkig eindig die verhaal nie hier nie. Petrus het goed begin. Toe hy op pad na Jesus die oog van Jesus wegneem en die gevaartekens bemerk, het hy onmiddellik begin sink. Toe doen hy die regte ding – hy het na Jesus geroep en is gered: “En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (teks).  

Baie gelowiges het al in die geloof uit die skuit geklim en spoedig begin sink weens ʼn gebrek aan geloof of ʼn sonde wat begaan is. As hulle dan die hande na Jesus uitsteek, red en versterk Hy hulle geloof.

In Mt.14 het Jesus nie vir Petrus opgetel en na die skuit teruggedra nie. Petrus het sy ongeloof bely waarna die water onder hom weer hard geword het sodat hy langs Jesus na die skuit teruggeloop het.

Om op die geloofswater te kan loop, moet hierdie vyf geloofselemente ook in ons lewe teenwoordig wees – ons moet vra, God se wil soek, wag totdat Hy antwoord, Hom 100% vertrou en geloofsywer aan die dag lê. Dis die geloof wat vrede in harte bring, ʼn vrede wat ons nie net help om die storms van die lewe te trotseer nie, maar ook verseker dat Jesus ons sal optel wanneer ons moed ons begewe en ons begin sink.