ʼn Kanker in baie kerke
Ds. A.E van den Berg
“Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (2 Kor.4:2).
Kwaksalwers word makliker in die Evangeliebediening as in enige ander beroep geduld. Mense spandeer eerder tyd om bevoegde medici te vind om na hul gesondheid om te sien as om leraars te vind wat hul sieleheilversterk. Baie mense glo dat iemand op ʼn kansel ʼn geroepene van God is. Sulke naïwiteit maak van mense maklike prooi van kanselmanipulasie.
Kanselmanipulasie is een van die hoofredes waarom so baie van die hoofstroomkerke in ʼn dilemma verkeer. Groot kerke met swak oordeel, duld leraars op hul kansels wat nie aan die vereistes vir suiwere Evangeliebediening voldoen nie.
As die Woord van God nie suiwer bedien word nie, vier leuens hoogty en verloor kansels hul doel en waardigheid. Kerke moet juis die leuen beveg ten einde getrou aan Jesus se opdrag te wees:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”(Mt.28:19).
1. Die kansel
- 1.1Die eerste kansel
Die eerste kansel vir Woordbediening is in die tyd van Esra opgerig:
“En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring ..... En hy het daaruit voorgelees voor die plein wat voor die Waterpoort was.... En Esra, die skrifgeleerde, het op ’n houtverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het...” (Esra 8:3,5).
Nadat die Jode uit die ballingskap na Jerusalem teruggekeer het, is daar by geleentheid vir Esra ʼn kansel gemaak vanwaar hy die Wet voorgelees en die uitleg verduidelik het. Omdat die Woord van God daarvandaan verkondig is, het die Jode dit heilig eerbiedig.
1.2 Prediking
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie....” (Rom.10:14,15).
God roep deur die prediking van sy Woord ongelowiges tot die bekering en gelowiges tot heiligmaking op. Omdat dit die ewige lewe of ewige dood vir mense kan beteken, moet leraars baie erns daarmee maak. Kansels is nie die plek vir eie menings, teorieë, sekulêre gedagtes of vrysinnige debatte nie. Versuikerde prediking hou mense wel by kerke. Hulle kom egter nooit by Jesus uitnie!
1.3 Bekwaamheid
Prediking vereis ʼn sekere bekwaamheid soos van Esra getuig word:
“Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10).
Hy was goed voorberei alvorens hy op die kansel gepreek het; diep bewus dat hy namens God met sy volksgenote gepraat het. En dis die hoofdoel van prediking – leraars praat namens God met mense.
Dit plaas uiteraard ʼn dure verpligting op leraars om die Woord van God na deeglike teksuitleg in eenvoudige verstaanbare taal te verduidelik. Dit bring mense nader aan God. Daarenteen stoot kanselmanipuleerders nie net ongelowiges verder van die redding in Christus af weg nie, maar verwar ook gelowiges.
2. Die leraar
2.1 Volle vertroue
Gemeentes moet hul kansels kan vertrou. ʼn Leraar moet goed voorberei wees, die waarheid preek, teen sielegevaar waarsku en hom waardig gedra. Hy is ʼn dienskneg van God en nie ʼn nar nie!
“ ... In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik ....” (Lev.10:3).
Prediking is ten diepste ʼn aanbidding van God en nie ʼn moreel opbouende praatjie nie. Deur die prediking laat ʼn leraar die heerskappy van God ingang in mense se siele vind. Dis die geestelike bestuiwing wat siele vir Jesus laat blom.
Die prediker weet dat hy niks in eie krag kan verrig nie al spandeer hy ure aan voorbereiding. Niks is sy eie werk nie. Hy is slegs ʼn saaier. God laat die saad opkom of verdor.
“...so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes.55:11).
2.2 Skrifgetrou
Prediking moet Skrifgetrou wees anderste is dit dwaalleer:
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).
Leraars is nie geroepe om nuwe leerstellings bekend te stel nie, maar om die Woord van God onvervals te bedien. Daarom moet hulle ligloop vir dwaalleer. Dwaalleer maak leraars die voorwerp van aanbidding en nie God nie. Mense daag op met die verwagting dat alles wat vanaf die kansel verkondig word die volle waarheid is. Om vrysinnighede soos ʼn valskerm op mense te laat neerdaal, is bewustelike manipulasie en laakbaar!
Leraars moet egter nie skroom om kwelvrae in die prediking aan te spreek nie. Dit moet egter altyd met die Skrif ooreenstem. Leraars preek uiteraard nie net oor Jesus se liefde en genade nie, maar ook oor sy oordeel en straf al maak dit mense baie ongemaklik.
Wie net sekere dele van die Bybel preek en die ander dele verwerp, durf nie ʼn kansel bedien nie. Dan is hy soos ʼn loods wat geen vertroue in sy vliegtuig het nie maar sy passasiers nogtans ʼn aangename vlug toewens!
“Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Hand.20:26-28).
2.3 Waardig
ʼn Kansel is ʼn heilige plek en nie ʼn vermaaklikheidsverhoog nie. Daarom is eerbiedwaardige kanselgedrag onontbeerlik vir alle prediking. Esra het hom waardig op die kansel gedra omdat hy geweet het dat hy eerstens voor God en tweedens voor sy uitverkore volk gestaan het.
Baie kerke gaan aan waardigheid mank. Leraars se onheilige, soetsappige boodskappe en optrede dra daartoe by. Desondanks is sommige van hulle gewild, maar is die aanhang niks anders as ʼn slaafse navolging van mense wat baie min van die Woord van God weet en derhalwe verstaan. Hulle vertrou die kanselmanipuleerders blindelings en word telkens deur die stormwind van hul eie onkunde weggewaai:
“Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword” (2 Pet.2:19).
Kanselmanipuleerders dring dikwels op ruim bydraes aan om ʼn leefstyl te voer wat nie by gelowiges pas nie:
“En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Mensekind, profeteer teen die herders van Israel..... So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie” (Eseg.34:1-3).
2.4 Die volle raad
Prediking wat nie aan die volle raad van God beantwoord nie, mis die doel. Baie leraars vind dit moeilik om die Woord van God in polities verhitte omstandighede te laat hoor en swyg dan eerder oor sonde wat aangespreek moet word.
Jeremia het die Woord van God ongeag die politiek van sy dag duidelik laat hoor. En dis wat leraars ook moet doen en die teks volg waarheen dit ook al mag lei. Hulle is uiteraard geroepe om soos die profete en apostels van ouds leiding aan hul gemeentes gee. Paulus getuig daarvan:
“...hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise” (Hand.20:21).
Slot
Die waarheid moet altyd vanaf kansels seëvier:
” ...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:2,3).
Daarom moet gelowiges vir hul leraars bid om die waarheid vreesloos te spreek want ʼn prediker wat nie na God luister nie, het in werklikheid niks om vir sy mense te sê nie!