Ds Andrè vd Berg
“Want daar is een God en Middelaar tussen God en die mens, die mens Christus Jesus” (1 Tim.2:5).
Die wêreld het talle mense opgelewer wat groot naam gemaak het - sommige beroemd en ander berug. In sekere gevalle beide! Napoleon was so ʼn mens. Hy is in 1821 op 52 jarige ouderdom in krygsgevangenskap op St. Helena oorlede. Ek het in 2001 die eiland en die huis waar hy gebly het, besoek.
Napoleon was oppad om die algehele heerser van Europa te word totdat hy in 1812 ʼn reuse fout begaan het deur nie met die seisoene rekening te hou nie. Hy het in daardie jaar Rusland met ʼn groot troepemag in die laat herfs binnegeval waarna die strawwe winter hulle oorval het. Toe hy sy fout agterkom en terugval, het hy tot sy skok gevind dat die Russe die enigste brug oor die Njeperrivier vernietig en hul roete huiswaarts afgesny het.
Meer as 100,000 soldate het van koue omgekom alvorens ʼn tydelike brug gebou is. Dit word vertel van soldate wat so koud gekry het, dat hulle perde geslag en binne-in die karkasse vir ʼn bietjie warmte geklim het! Die vernietiging van hierdie lewensnoodsaaklike brug het baie lewens geëis.
Die Bybel praat ook van ʼn brug wat vernietig is en wat miljoene lewens geëis het – die brug tussen God en mens. Die 1812 gebeure is ʼn treurige verhaal. Gen.3 is treuriger! 1812 se lewensverlies was eenmalig. Gen.3 s’n gaan nog steeds aan - duisende lewens elke dag!
Die Russe het in 1812 die brug oor die rivier vernietig Sonde het eeue voor dit dié tussen God en mens vernietig. Die Russiese brug is later herstel, maar nie dié tussen God en mens nie. Die mens en ʼn gewisse dood was aan die een kant en God met die lewe aan die ander kant.
Na Gen.3 het God ʼn tydelike brug daar gestel. Dit was egter wankelbaar, min gebruik en is die Tien Gebooie genoem. Om by God aan die ander kant te kom, moes mense oor die brug van die onderhouding van hierdie Tien Gebooie loop. Min mense het by God uitgekom. As dit vandag nog steeds die enigste brug tussen God en mens was, wonder ek hoeveel van ons gered sou wees?
God het egter in die volheid van die tyd ingegryp en ʼn nuwe brug gebou. Die opening van hierdie brug is een nag deur ʼn engel aan Joodse skaapwagters aangekondig: ” Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees ....” (Luk.2). Die woord volk beteken die hele mensdom.
Jesus Christus is die nuwe brug tussen God en mens. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). En soos alle brûe het hierdie brug ook ʼn naam – MIDDELAAR.
Soos wat die Russiese brug tussen die Franse soldate en die lewe gestaan het, staan hierdie goddelike brug tussen ons en die ewige lewe. As ons nie oor hierdie brug loop nie, sterf ons vir ewig. As ons daaroor gaan, leef ons vir ewig.
Die kerk van Christus bely deur die eeue die middelaarskap van Christus. Hy is die enigste brug. Dis een van die belangrikste leerstukke van die Bybel. Daarsonder is die Christendom soos ʼn rugbywedstryd sonder ʼn bal!
Daar is egter wel ʼn kerk wat die wedstryd sonder ʼn bal speel – die Roomse Kerk (RK). Hulle bely nie die middelaarskap van Jesus nie. Hulle het ʼn mens as middelaar – Maria, Jesus se aardse moeder. Die Heidelbergse Kategismus (HK) leer dat een sondaar nie ʼn ander sondaar kan verlos nie. Sondag 15 vra die vraag hoe ʼn verlosser moet wees? Die Kategismus antwoord: hy moet waarlik God en waarlik menswees. Net Christus voldoen hieraan.
Gevolglik is ʼn Kerk wat leer dat ʼn ander mens jou kan red, uit die bose! “Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees” (Gal.1:8). Dis presies waarmee die RK haar al eeue lank besig hou. Dis afgodery wat as Christendom verdoesel word. En dis waarteen die groot Hervormers soos Luther en Calvyn in opstand gekom en die kerk begin suiwer het.
Satan het meesterlik daarin geslaag om die vroeë kerk binne te dring en die hart van die Evangelie, dat Jesus as die enigste Verlosser is, uit te ruk en Hom met Maria vervang. Met die Roomse gebedekrale word daar 52 keer tot Maria gebid sonder om die naam van Jesus eenmaal te noem!
Een van die grootste lasteraars van alle tye was ʼn Roomse kardinaal Alphonso Liguori. Hy bid in een van sy boeke as volg tot Maria:
“ O, vlekkelose maagd, ons wat onder u beskerming staan, het vrymoedigheid om u te versoek om u Seun, Jesus Christus, te verhoed dat Hy, geïrriteerd deur ons sondes, ons verlaat en aan die duiwel oorgee. U, heilige Maria, is ons enigste hoop, Moeder in die hemel, en ons het maar net een voorspraak en dis uself. U alleen is liefdevol en bekommerd oor ons saligheid. U is ons koningin en middelaar tesame met u Seun, tot wie ons nie durf nader nie”
Dis onbeskaamde menseverering en lasterlik! Nogtans is hy nooit van dwaalleer aangekla nie, maar later selfs gekanoniseer en tot ʼn heilige verklaar!
Die RK trek ʼn streep deur Christus se middelaarskap. Kan ʼn persoon wat die middelaarskap van Christus ontken in die hemel kom? Nee, 1000 maal nee! Hy wil oor ʼn brug wat nie bestaan nie! Wat ʼn oordeel wag daar nie op hom nie!
Die vroeë kerk het geen rol aan Maria toegeken nie. Namate die Satan die kerk egter binnegedring het, het die dwaalleer van die middelaarskap van Maria veld begin wen. In die vierde eeu het die Melekiete-sekte Maria as een van die Drie-eenheid vereer – Vader, Seun en Maria.
Soos wat die leer van die RK gegroei het, was daar altyd van ware gelowiges teenstand. Sommige is uit die kerk geban terwyl ander hul lewens op grusame wyses verloor het. Geen kerk het meer bloed aan haar hande as die RK nie.
Die teenstand teen die Roomse dwaalleer het op Sondag 31 Okt.1517 ʼn klimaks bereik toe ʼn jong priester, Martin Luther, sy opspraakwekkende 95 stellings teen sy kerkdeur in die Duitse stad Wittenberg vasgespyker het. Dit was die begin van die Hervorming. God het hierdie waarheidsbeweging geseën en in getalle laat toeneem waarna die een Protestantse kerk na die ander tot stand gekom het. Ons eie kerk deel in hierdie geestelike erfenis; Afrikaanse Protestantse Kerk.
In ons teksvers bemoedig Paulus ʼn jong Timotheüs wat die wind van sterk van voor gekry het. Nie van heidene nie, maar van mense wat onder die vaandel van Christenskap gevaar, maar, net soos die RKgeleer het dat goeie werke jou kan red. Nee, hoe wil jy ʼn rivier kruis waaroor daar geen brug is nie? Jy gaan met jou lewe boet!
Napoleon se soldate was bly toe die brug oor die rivier herstel is en hulle huis toe kon gaan. So moet elke mens bly wees dat die brug tussen hom en God deur Christus se sterwe herstel is en dat ons ná ons aardse stryd ook eendag huis toe kan gaan. Jesus het alreeds vir ons plek berei.
Brûe word gebou om te gebruik. Het jy die een na God al gebruik? Baie mense stap tot by die oewer en glo dat God hulle sal raaksien en vir hul moeite beloon, maar hulle loop nie oor nie. Of jy een meter of ʼn kilometer van daardie brug staan, is jy nog nie oor nie!
Dis soos die vyf dwase maagde wat aan die deur van die feesmaal klop en soebat om ingelaat te word en die bruidegom wat weier en sê dat hy hulle nie ken nie.Waar staan jy ? Op die oewer of is jy al oor die brug? Dis ʼn geval van lewe of dood, en dis vir ewig!