Die rooi ligte brand!
Ds. A.E van den Berg
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en .....leringe van duiwels sal aanhang....” (1 Tim 4:1,2).
Inleiding
1 Tim.4 is ʼn profetiese skrywe wat oor die eindtyd handel. Dit vertel van ʼn grootskaalse verval van die ware geloof in Christus en leringe van duiwels wat in kerke gevestig raak. Hierdie leringe is nie deur mense bedink is nie maar deur die Satan self ten einde die heidendom in die kerk te vestig. Daarvoor maak die Satan van dienaars en Bybelterminologie gebruik.
“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:3,4).
Sondaars het ʼn natuurlike afkeur in die waarheid. Die Heidelbergse Kategismus sê tereg dat dit in die aard van die mens is om God en sy medemens te haat. Paulus skryf in sy laaste brief aan Timotheüs:
“Jy weet dit dat almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het ..... “ (2 Tim 1:15).
As mense hul destyds al van die waarheid van die Evangelie afgekeer het, hoeveel te meer nie vandag nie! Talle kerke wat hul met leringe van duiwels ophou, verkondig dit so geesdriftig dat miljoene mense hulle glo. Die vroeë kerk het ook iets hiervan ervaar:
“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring” (2 Pet.2:1).
Hierdie valse profete was huigelaars wat met die mond Christus bely maar met dieselfde asem die Bybelse waarhede ontken het. Hulle het met ʼn glimlag ’n dolk onder hul togas versteek!
1. Alles het verander
Die lewe het drasties verander en niks is meer dieselfde nie. Veral nie kerke nie. Waar kerke altyd die sout van die aarde was, het baie daarvan so laf geword dat dit uitgedien geraak het. Kerke wat hul rug op die waarheid draai, word deur die Satan op ʼn syspoor gerangeer.
Hy is nie ʼn bose mag van die verbeeldingsoos vrysinnige teoloë verkondig nie, maar ʼn werklikheid wat graag agter ʼn kruis skuil. Sy haat vir God en sy skepping is onuitblusbaar. Daarom probeer hy die kerk (liggaam van Christus) op elke denkbare wyse te skaad. Daarvoor het hy sy uitverkorenes op kansels; valse leraars wat die basiese waarhede van die Skrif verwring en mense mislei.
“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15).
2. Wat sê die Woord?
Dit wat in die tuin van Eden gebeur het, gebeur nog steeds. Satan het vir Eva gevra: “Het God so gesê?” en daarna sy woord teengestaan. Dit gebeur vandag in kerke! Mense glo alles wat hulle vanaf kansels hoor sonder om seker te maak dat dit met die waarheid van God se Woord ooreenstem. Kerke het al so verwater, dat die waarheid na die leuen en die leuen na die waarheid klink!
Al hierdie dinge moet gebeur voordat Jesus weer kom. Dis deel van God se uitdunproses – die smal en breë pad waarvan Jesus in die Bergrede praat. God het dit so bestem:
“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess.2:11,12).
Mense dwaal omdat hulle die Bybel nie ken nie en met tweedehandse inligting tevrede is. Hulle lees eerder boeke oor die geloofslewe as om die Bybel self te bestudeer. En dis waarop dwaalleraars teer en floreer! Gebrekkige Bybelkennis lei baie maklik tot ʼn ontsondiging van sondes en laat baie kerke in die dryfsand van hul eie dwaasheid versink.
Die ontsondiging van homoseksualisme in baie kerke spreek boekdele van hierdie voorsiende verval. Die Bybel sê in geen onduidelike taal dat dit ʼn gruwel in God se oog is wat die doodstraf verdien. Ontspoorde kerke sê dis ʼn leuen – homoseksualisme is alternatiewe vorm van erotiese liefde. Klink dit nie baie na die Satan se woorde in die tuin van Eden nie?
ʼn Kerk wat die waarheid van God se Woord nie meer beskerm nie, het geen bestaansreg nie en verdien God se misnoeë en straf:
“...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).
3. Die verskil
Alle dwaalleer is nie noodwendig leringe van duiwels nie. Daar is leerstellings waarin foute voorkom, maar nie om gelowiges te mislei nie. Die kerk het deur die eeue baie veranderings in eie geledere aangebring en foute van die verlede reggestel. Soms is daar ook nuwe foute in die proses gemaak. Om foute te maak in die poging om God se waarheid te probeer ontdek, is nie sonde nie. Dis menslik om foute te maak. Gelowiges maak dit later reg.
Daarenteen maak duiwels (demone) foute nie reg nie, maar borduur daarop voort. Hulle sal bly lieg om die leuen te laat seëvier en in die eindtyd uitsonderlike sukses behaal:
“Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
4. Omsigtigheid
Om ʼn leuen te eien, moet die waarheid baie duidelik herken word anders klink ʼn leuen soos die waarheid. Kerkgangers moet soos die gelowiges van Berea kanselbedienaars krities beoordeel:
“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Paulus het aan Timotheüs opdrag gegee om gemeentes te stig en toe te sien dat die regte mense in die ampte verkies word omdat dwaalgeeste kerke ingesluip het (1 Tim.4:1). Timotheüs moes selfs verhoed dat vroue kerk-ampte beklee.
5. God se bystand
Paulus skryf aan die Korintiërs oor die gevaar van ʼn eiewillige godsdiens:
“Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ʼn psalm of ʼn lering of ʼn taal of ʼn openbaring of ʼn uitlegging ....” (1 Kor.14:26).
In hoofstuk 12 maak hy van ʼn gawe melding waarmee die Heilige Gees sekere gelowiges seën ten einde dwaalleer te herken en mense te waarsku:
“...aan ’n ander onderskeiding van die geeste.....” (:10).
Wie die gawe van die onderskeiding van geeste ontvang, is bewus van watter gees in sekere kerkkringe werksaam is:
“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” (1 Joh.4:1).
Hierdie gawe het niks met enige menslike vermoë te doen nie. Dis direk van die Heilige Gees.
Slot
Leringe van duiwels is sterk aan die toeneem – veral in hoofstroomkerke. Dit wat Paulus voorspel het, gebeur sienderoë. Daarom moet gelowiges op hul hoede wees en slegs leraars wat die waarheid liefhet en baie sterk in die Woord van God staan, op hul kansels toelaat:
“Daarom aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie. Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (2 Kor.4:1,2).