ʼn Dodelike misleiding
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Kerke wat die Bybelse waarhede minag of verdraai, ontspoor en ʼn eiesinnige teologie wat sonde nie veroordeel en die behoefte aan ʼn Verlosser nie verkondig nie, is ʼn pad na die hel. ʼn Kerk wat vrye lewenskeuses voorstaan, is nie op die Woord van God geskoei nie, maar die produk van die mens se eie sondige wil. Die Jesus wat hulle verkondig, is nie die Jesus van die Bybel nie maar ʼn tipe van Kersvader wat goeie mense beloon en slegtes in liefde oorsien.
ʼn Kerk wat die menslike rede en wil bo Bybelse waarhede verhef, maak die deur vir huigelary en kettery oop. Die kerk het vir baie eeue lank gepreek dat daar vir bekeerdes ʼn ewige geluksaligheid en op ongelowiges ʼn ongekende ewige verdoemenis wag. Dit gebeur nie meer nie. Leraars preek nie meer oor die hel nie. Gevolglik weet kerkgangers bitter min daarvan - teen ʼn duur prys!
Die kettery van Universalisme vind vandag aanklank by talle ontspoorde kerke. Dit leer dat Jesus se soenoffer so genoegsaam is, dat alle mense, ongeag die omvang van hul sonde, sonder die saligmakende geloof in Christus hemel toe sal gaan.
Universalisme se vertrekpunt stem met die Bybelse waarheid ooreen dat Jesus die dood vir almal gesmaak het. Dit maak egter die onbybelse afleiding dat almal derhalwe gered sal word. Wie nie op die uitnodiging van die Evangelie om tot bekering te kom reageer nie is dus, tegnies gesproke, onvoorwaardelik Christene. Dis ʼn leuen en ʼn noodlottige sielemisleiding!
In 1963 het die Wêreldraad van Kerke (WRK) Universalisme met ʼn publikasie ondersteun en gesê dat die wêreld alreeds in Jesus versoen is en dat almal, ongeag hul lewenswyse of geloof, erfgename van sy verlossing is.
1. Twee soorte universalisme
Daar word twee soorte Universalisme verkondig. Die eerste glo dat alle mense alreeds gered is en die tweede dat alle mense mettertyd gered sal word. Onbekeerdes sal wel vir hul sonde gestraf word, maar nie vir ewig nie. Hulle sal in die hiernamaals gerehabiliteer word en daarna hemeltoe gaan - ʼn tipe van Protestantse vagevuur. Hulle beskou God as ʼn hemelse psigiater wat pasiënte help om van die hindernisse wat hul in die lewe van God vervreem het, ontslae te raak. Dit strook met die nadoodse bekeringwat die Jehovasgetuies leer en is geheel en al onbybels.
Daar is ook ʼn splintergroep wat aan voorwaardelike onsterflikheid glo. Mense wat nooit van die verlossing in Jesus Christus gehoor het nie en sterf, hou net op om te bestaan. Hulle ervaar geen ewige skeiding van God nie. Dis onbybels:
“.... wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (2 Thess.1:7-9).
2. Die wortels van universalisme
Die wortels van Universalisme lê in die tuin van Eden toe Satan vir Eva oortuig het om haar rug op God se waarskuwing oor die ewige dood te draai:
“.....En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? .....Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie. (Gen.3:1,4).
In sy Stad van God skryf die kerkvader Augustinus dat mense wat met sinnelose redenasies God se ewige oordeel probeer uitskakel, dit moet staak en eerder sy gebooie gehoorsaam terwyl hulle nog tyd het.
Alhoewel die kettery van Universalisme in talle Sinodes ʼn besprekingspunt was, is dit nog altyd afgewys. Dwaalgeeste het dit dikwels as ʼn teenvoeter vir stoere Calvinisme probeer gebruik, maar nie daarin geslaag nie. Ten spyte daarvan klink universalisme vanaf talle Protestantse kansels op.
Universalisme is die herlewing van ʼn baie ou kettery. Die enigste verskil is dat die oorspronklike universalisme ʼn ooroptimistiese klem op die mens laat val het terwyl die meer moderne universalisme ʼn oordrewe klem op genade laat val.
3. Hel-prediking
God het nog nooit leraars geroep om die Skrif te wysig nie, maar om dit te verduidelik. Ook oor wat die Bybel oor die hel sê. Jesus het bv. baie meer oor die hel as oor die hemel gepraat.
“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mt.7:13).
Die hel is nie ʼn plek van rus nie:
“En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie....” (Openb.14:11).
Stemme uit die OT bevestig dit:
“Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by ’n verterende vuur, wie van ons kan woon by ’n ewige gloed?” (Jes.33:14).
Die hel is nie ʼn gewilde onderwerp vir prediking nie. Nogtans vereis God se liefde dit. Dit moet mense genoegsaam hinder om hul sonde te versaak. Ongelukkig beskou talle “moderne” leraars dit te negatief en dus onvanpas om ongelowiges te waarsku dat ʼn ewige hel op hulle wag. Dit durf nie gelaat word nie. Leraars is geroepe om die hele raad van God te verkondig, insluitende die ewige oordeel, al word hulle as dwepers gebrandmerk.
4. Wat is op die spel?
Wie Universalisme onderskryf, bevind hom op die gladde pad van teologiese vrysinnigheid. So ʼn leraar verloor vertroue in die Bybel wat die eiesoortigheid van die Evangelie laat verdamp. Universalisme bied mense in werklikheid niks nie want wat wen ʼn ongelowige dan deur ʼngelowige te word? Niks wat hy nie vantevore gehad het nie. Daarbenewens sal alle sending- en evangelisasie-werk tevergeefs wees!
ʼn Gemoderniseerde weergawe van universalisme verkondig bv. dat slegs diegene wat die Evangelie gehoor het, verantwoording voor God se regterstoel sal doen. Die logiese gevolgtrekking is dat hulle wat die Evangelie nie gehoor het nie, geen verantwoording sal doen nie.
As dit waar is, sal alle sendingstasies moet sluit en sendelinge verhoed word om verder te arbei. Indien nie, sal hulle die heidene die grootste onreg aandoen en vir hul verlorenheid aanspreeklik gehou wees. Dis ondenkbaar en lynreg teenoor Jesus se laaste opdrag:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).
Dra die getuienis van afgodsdienaars wat tot bekering gekom het dan geen gewig nie? As evangelisasiewerk gestaak word, sal miljoene in hul sonde sterf en kerke tot niet gaan. Universalisme onteer die Evangelie en bots met die oorweldigende getuienis van die Woord:
“Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh.3:18,36).
Universalisme minag God se oordeel oor sonde. Sondaars weet in hul harte dat daar ʼn dag van afrekening voor ʼn regverdige God kom. Die Bybel is baie duidelik daaroor:
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Universalisme skaad die uniekheid van die verlossingsboodskap. Die verlossing in Jesus Christus is juis die as waarom die hele Evangeliebediening draai. Universalisme lieg deur mense te leer dat Jesus nie die enige pad na die hemel is nie. Jesus praat anders:
“ ... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
5. Valse verdraagsaamheid
Buitelandse teoloë skryf gereeld boeke ter ondersteuning van universalisme en saai daarmee bose saad. Sommige NG teoloë skryf selfs van hierdie boeke aan studente voor sonder om hulle teen die gevaar van universalisme te waarsku. En so word katedertaal kanseltaal.
Kerklui se geneentheid tot universalisme is die gevolg van ʼn verdraagsaamheid jeens boosheid wat in talle kerke hoogty vier. Dis alles aan ʼn doofheid vir die stem van God te wyte.
“Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet.3:15).
6. Luister na die Woord
Kerklui luister nie meer na die Woord van God nie. Jesus het bekering en geloof baie duidelik as voorwaardes vir redding gestel:
“... Maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal omkom” (Luk.13:3)
“Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark.1:15).
Die water van die lewe word aan almal aangebied maar nie almal wil dit hê nie:
“ ... En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openb.22:17).
Die Bybel leer dat daar ʼn oordeel na die dood is:
“En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebr.9:27).
Wie nie tot bekering kom nie, sal ʼn oordeel ontvang - die tweede (ewige) dood:
“Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelike en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openb.21:8).
Jesus het dikwels van ʼn vreesagtige plek buite sy koninkryksgebied gepraat:
“...die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mt.13:41,42).
Die Bybel leer dat daar ʼn onophoudelike, ewige oordeel op diegene wat God nie ken en op die oproep tot bekering nie reageer nie, wag:
“...en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (2 Thess.1:7-9).
Jesus beklemtoon die wedergeboorte as ʼn noodsaaklikheid om die koninkryk van God te kan betree:
“ ...Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).
Jesus het geen aanduiding gegee dat daar ander paaie na die hemel is nie:
“..... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Slot
Protestantse kerke wat via die ekumene gemene sake met die Roomse Kerk het, beweeg sterk na die leer van universalisme. Die Pous maak duidelike uitsprake ten gunste van universalisme. Hy skryf in The Joy of Love dat niemand vir ewig verdoem is nie omdat dit glo nie met die logika van die Evangelie rym nie.
Wat ʼn oordeel wag daar nie op leraars wat weet dat daar ‘n hel op verlorenes wag, maar hulle nie betyds waarsku nie! Hoe gaan hulle in die oordeel voor God staan – as belydende universaliste of gehoorsame diensknegte ?
“ .... As Ek die swaard oor ’n land bring, en die mense van die land neem ’n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense —as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg — dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis” (Eseg.33:2-6).