MOENIE HALFPAD OPHOU NIE

Ds Andrè vd Berg

“…En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon” (Gen.11:31).

Daar is min dinge in die lewe so droewig as drome wat versaak word; dinge wat gesterf het omdat dit net by drome gebly het.   Drome is spotgoedkoop maar mense wat werk daarvan maak, is egter baie skaars.   Die meeste mense het ideale en drome maar doen niks daaraan nie; veral nie geestelike drome nie.

Daar is niks so treurig as mense wat lewenslank droom, maar niks daaraan doen nie. Tera, die vader van Abraham is ’n waarskuwing hiervan. Satan weet van al die moontlikhede wat gelowiges het om iets vir die koninkryk van God te beteken. Daarom wil hy ons ideale met ’n sekere plofstof saboteer - versuim.   Versuim is een van die sterkste plofstowwe waarmee Satan lewens skaad.

Tara het goeie voornemens gehad; ’n brandende begeerte na Kanaän te verhuis, die land wat God vir hom bestem het.   En dit het nie net by voornemens gebly nie! Tera het hom van sy ou lewe losgeskeur, sy besittings bymekaar gemaak en na ’n plek sonder vaste adres verhuis.  Hoe sterk was Tera se geloof nie in ’n tyd van geweldige beslissings!

Daar kom ook sulke tye in ons lewe:

  1. Jy kom tot bekering en wil voluit vir Jesus lewe. 2 Kor.3:2 sê dat jy ’n brief van Christus aan ’n verlore wêreld is.   En jy wil dit wees. Mense moet dit sien! Om vir Jesus uit te staan, gee sin aan jou lewe.
  2. Met belydenisaflegging maak jy ’n nuwe begin en neem jou voor om werklik aktief in die kerk se werksaamhede te wees.
  3. Met die aanbreek van ’n nuwe jaar neem jy jou voordat die jaar iets baie spesiaal gaan wees waarin jy geestelik gaan sterk word.

Ons wil almal iets van ons lewens maak!

Die hemel leen aan ons ʼn siel, maar die aarde net ʼn graf.   Daarom wil ons die geestelike Kanaän in ons leeftyd bereik. Ons wil deel van Jesus se volgelinge wees en met nuwe krag na ’n lewe van oorwinning in Christus soek.  

  1. Ons wil sterker getuies wees, die kerk meer gereeld besoek, die gemeenskap van die gelowiges ervaar en ons Bybelstudie en gebedslewe opknap.
  2. Ons wil die Heilige Gees volle beheer oor ons lewe gee.
  3. Ons wil deur ons getuienis die louheid in ons gemeente teenwerk.
  4. Ons wil Jesus se eer teenoor onverskillige mense verdedig.
  5. Ons wil ’n lewende advertensie vir Jesus wees.

Ek wil my tentpenne uittrek en soos Tera na ’n aardse Kanaän vertrek het, na my geestelike Kanaän verhuis - pragtige voornemens!

Maar wat het toe van die oukêrel geword? Het hy wat so goed begin het in Kanaän aangekom? Nee, hy het net halfpad met sy wonderlike voornemens gekom en toe nie verder beweeg nie. Amper raak, is steeds mis.   Tera het gemis. Een woord som dit op – VERSUIM.  

Wat het gebeur? Tera het halfpad na Kanaän in Haran gaan woon. Waarom? Was die pad te moeilik? Gelowiges kom dikwels in die hitte van die stryd voor ’n beslissende keuse te staan – vorentoe of bly waar jy is. Gelowiges se pad is immers nie maneskyn en rose nie, maar stryd.   Dis waarom baie uitsak en die rus van die bekende verkies.

Om die geestelike Kanaän te bereik, kos volharding. Dis ’n uiters vermoeiende pad en baie dinge wat jou aandag wil aflei. Satan probeer jou selfs met stoflike dinge weglok net om by die gebarste drinkbakke van die wêreld te verpoos. En so verloor ons dikwels ons geestelike rigting en begin Haran nie na ’n slegte plek te lyk nie.   Soos ’n Demas van oud kry ons die teenwoordige wêreld lief sonder dat ons dit altyd agterkom.  Haran gaan lê in ons klere!

Wanneer die jaar ver gevorder het behoort jy jouself te vra:   Wat het van die mooi voorneme geword? Waar is jy vandag?   In Kanaän soos jy jou voorgeneem het, of soos ‘n Tera van ouds halfpad by Haran en gemaak tevrede?

Tera was so ’n ent van Ur van die Chaldeërs af weg, maar nog vêr van Kanaän.   Is jy ’n halfpad-gelowige; net tot by Haran?   Gaan die woord VERSUIM eendag op jou lewensboek geskryf staan?

Waarom het Tera besluit om in Haran agter te bly? Miskien het hy te geheg aan sy besittings of nuwe vriende geraak   Miskien het hy besluit dat die lewe in Haran nie te sleg was nie, maar homself belowe om eendag wel Kanaän toe te gaan – eendag op ’n reëndag!   Het jy al goeie voornemens deur jou versuim tereggestel?  

Die probleem wat Tera nie voorsien het nie, was dat tyd vinniger loop as wat ons besef!   Tera was agterlosig en belangrike dinge agter gelos.   Benewens ’n voorneme om wel eendag by sy ideaal uit te kom het Tera in werklikheid niks meer voor hom gehad nie. Dinge wat voor moes wees, het Tera agter geplaas; geestelike agterlosigheid!

Soos Tera vorder baie gelowiges net halfpad met hul goeie voornemens en stel daarna uit vir eendag. Daardie eendag breek egter nooit aan nie; die voorneme laat hulle egter goed voel.   Paulus is ’n beter voorbeeld: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voleindig, ek het die geloof behou” (2 Tim.4:7).

Waar is jy vandag?   Op pad na Kanaän of vertoef jy maar rustig in Haran? Tera het ’n teleurstellende einde gehad; hy het in Ur begin en ’n groot deel van die pad na Kanaän voltooi, maar in Haran gesterf. Al sy mooi voornemens en pynlike opofferings het tot niks gekom omdat sy lus vir Kanaän lank voor sy eie dood gesterf het.   Tera het met die tweede beste in die lewe tevrede geraak!

So gaan dit met baie gelowiges – hulle ywer verflou, geesdrif verdwyn en ’n winterse doodsheid kenmerk hul geestelike lewe. Kerkbywoning verflou, kerklike meelewendheid kwyn, bydraes en barmhartigheid neem af, Bybel word sporadies gelees, daar bestaan geen gebedslewe nie en hy vind met alles en almal in die kerk fout; goed begin, maar sleg geëindig.

Om te sterf is alreeds sleg, maar om met goeie voornemens te sterf is tragies!   Byna daar en tog ook nie – byna gered, maar tog ook nie. Wat was Tera se probleem?   Hy het te lank in Haran gewoon. ’n Mens kan nie halfpad trek en hoop dat jy een oggend met ’n wonderwerk in Kanaän gaan wakker word nie!   Dit verg opoffering.   Jy is of op pad na Kanaän of op ’n syspoor genaamd Haran. Jy is of gered of verlore; of reg vir hemel of reg vir die hel.

Moenie met ’n sterwende geloofslewe tevrede wees nie. Haran se huise is almal substandaard. Kanaän s’n is luuks.   Laat die Heilige Gees jou aan die brand steek, jou ideale laat opvlam en jou geestelike lewe gestalte laat verkry. Luister wat sê ’n man wat by sy geestelike Kanaän uitgekom het:

“Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek; dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Ps.27:4).

Wat is jou doel op aarde?   ʼn Doel is ʼn droom met ʼn plan van optrede.   Wat gaan jy in belang van die koninkryk van God doen? In Haran bly en daar sterf of gaan jy enduit koershou Kanaän toe waar God jou wil gebruik?