GELOOF, MOED EN VERSET TOT OORWINNING

Ds Andrè vd Berg

“Verlos ons dan nou tog uit sy hand, Here onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, alleen God is” (2 Kon.19:19).

Wyle Ronnie Belcher skryf in een van sy gedigte: “Die lewe is soos ʼn een ster hotel, kry nie altyd wat jy bestel”. Elke mens ervaar dit. Soms skyn die son in jou lewe en dan word dit ewe skielik donker. Soms is daar rus en vrede in jou lewe en eensklaps word dit versteur en jy wonder of die lig ooit weer in jou lewe gaan skyn? Is dit die einde? Juda het by geleentheid ook gewonder of dit dalk klaar is met kees!

Die gelese gedeelte speel teen ongeveer 700vC in Juda af. Die volk is in so ʼn benarde situasie, dat hulle algehele uitwissing in die gesig staar. Koning Agas is dood. Met sy diplomasie het daarin geslaag om in vrede met Assirië te leef al was dit teen ʼn duur prys. Assirië was sterk en magtig en het oor swakker lande gestoomroller, van hul vasaal-state gemaak en onmenslike belastings op hulle afgedwing. Na Agas se dood was Juda bang om gestoomroller en tot volle onderdanig aan die Assiriese koning gedwing te word.

Juda het op daardie tydstip nog die vasaal-dwingelandy vrygespring omdat Agas vrede met Assirië onderhandel hetwat teen ʼn verfoeilike prys bekom is. In ruil daarvoor is ʼn ligter belasting op die land gehef. Die ergste van alles was dat Juda die Assiriese godsdiens moes onderskryf en in die land toelaat.

Agas het toegegee en selfs van sy eie kinders as brandoffer aan Molog geoffer net om sy inskiklikheid met die vyand te betuig. Daarvoor het die vyand hom toegejuig en die gelowiges hom verag!

Toe Agas sterf, het sy seun Hiskia koning geword. Hy was geheel anders as sy pa en godvresend.  Slegte ouers het gewoonlik slegte kinders, maar nie anders om nie. Hiskia was ʼn reuse uitsondering op hierdie reël. Toe hy onmiddellik met die Assiriese godsdiens breek en weier om belasting te betaal, was die gort gaar en het Sanherib, die koning van Assirië, 185,000 krygers na Jerusalem gestuur om dit te beleer en spoedig in te neem.

Waarom het Hiskia sy volk se toekoms onverskrokke op die spel geplaas? Was hy dwaas of dapper? Vers 15 antwoord: “En Hiskia het voor die aangesig van die Here gebid en gesê: Here, God van Israel.... U is alleen die God van al die koninkryke van die aarde ...”

Sanherib het homself as koning van die aarde geag; onaantasbaar, onoorwinlik. Assiriese beeldhouers het hom dan ook as ʼn man met teuels in sy hande en ringe deur die neuse van onderdaniges voorgestel; die beeld van uitsonderlike mag en uiterse vernedering.

Juda was nie teen so ʼn mag opgewasse nie. Sanherib was op daardie tydstip die sterkste koning op aarde. Daarom doen Hiskia die regte ding as hy die sterkste Koning in die heelal om hulp nader. En dié Koning het ʼn woord vir Sanherib: “Omdat jy teen my raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het” (:28).

Hierdie godspraak het Hiskia bemoedig, ook toe boodskappers van die 185,000 krygers vertel het wat om die stad saamgetrek het. Hy het God vir verlossing vertrou, veral na ʼn tweede godspraak: “Daarom, so sê die Here aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie” (:32).

Waarom sou God Juda red? Omdat sy koning ʼn gelowige was en baie van sy volksgenote hulle voor God verootmoedig het.   Hulle het God geken toe die son in hul lewens geskyn het, daarom kon hulle op Hom reken toe dit donker in hul volkslewe geword het.

Die nag voor die beplande inval kon niemand slaap nie. ʼn Somber atmosfeer het soos ʼn swaar kombers op Jerusalem gelê. Mense het die dood in die gesig gestaar. Was dit hul laaste dag op aarde?   Hulle het geweet dat die vyand vir die eerste lig gewag het om aan te val. Net God kon hulle van die dood red!

Dan breek die dag. Juda was gewoond aan die dae lange krygsrumoer rondom Jerusalem. Dit was deel van die vyand se bangmaak-taktiek. Maar daardie oggend is alles stil. Verspieders loer versigtig oor die muur. Benewens die afwesigheid van krygsrumoer is geen slagordes opgestel of ʼn mens in sig nie.  Waar is die Assiriërs?   Is hulle weg? Voetjie vir voetjie gaan hulle nader. Dan snak hulle na hul asems; al 185,000 Assiriërs is nog daar, MAAR hulle is dood! Wat het gebeur? “En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd -vyf-en-tagtigduisend verslaan....” (:35).

God het ingegryp en Juda van die dood gered. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Alle mag in hemel en op die aarde behoort immers aan Hom. Hierdie wondergebeure het die ore van die mense van die Ou Nabye Ooste bereik en hul sprakeloos gelaat. Daarna het Assirië ʼn onbenullige volk geword.

God red elkeen wat Hom vrees. Ook die Boerevolk by Bloedrivier. Met God aan jou sy, is jy ʼn meerderheid. Cilliers en sy 406 krygsmanne kan dit beaam!

Hulle het die nag van 15 Desember 1838 iets soortgelyk as Juda ervaar toe hulle teen ʼn oormag van minstens 40 teen 1 in die spervuur van die Satan beland het. God alleen kon hulle red.   Die Zoeloes was soos die Assiriërs wreed, sonder God en Sy gebod.

Die Voortrekkers het op daardie tydstip alreeds ʼn nare ondervindings met hulle barbaarsheid gehad. Van geloof, medemenslikheid of beskawing was daar geen sprake nie. Wat kon hulle nie alles met hul geliefdes doen nie? Net die gedagte daaraan het rillings langs hul ruggraat afgestuur!

Hulle het God vertrou en vir sewe dae lank ʼn gelofte wat in Cilliers se hart opgekom het, saans herhaal. Toe Sondag 16 Desember aanbreek, het die Zoeloes met eerste lig aangeval. God het ingegryp en soos in die dae van Gideon met die Mideaniete ook ʼn gees van verskrikking onder die Zoeloes gestuur wat hulle laat vlug het.  

Hoe wonderlik is die geloofsvertroue van God se kinders in hul hemelse Vader nie! Hulle roep na Hom en Hy luister na hulle. Die opskrif van Ps.34 lui: “Die Here beskerm die gelowige”. Vers 18 sê: “Hulle roep en die Here hoor en red hulle uit al hul benoudhede”.

Ons verwonder ons vandag opnuut aan ons grote God. Die dapper Voortrekkers is bysaak. Ons genadige God is hoofsaak. Wat Hy vir ons volk by Bloedrivier gedoen het, was niks nuuts nie. Hy het dit al tevore gedoen en gaan dit binnekort weer doen. Siener van Rensburg, ons geliefde Boereprofeet, sien dat daar in die hitte van ons bevrydingstryd ʼn tweede gelofte gemaak gaan word met ʼn soortgelyke uitslag asook ʼn wêreld wat verstom gaan staan.

Skep moed en stry die goeie stryd. Onthou: Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar die verset en oorwinning daaroor. Moenie dat korrupte politici en verraderlike kerklui jou mismoedig maak nie. God is met jou.   Hy laat vaar nie die werk van sy hande nie, maar bevestig dit eerder!