DIE 911 POLIS

Ds A E vd Berg

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige (Ps.91:1).

Wanneer ʼn mens aan terrorisme dink, onthou jy 11 Sept. 2001 toe terroriste twee wolkekrabbers in New York met vliegtuie in puin gelê het.   Die beeldmateriaal daarvan sal ʼn mens altyd bybly. Suid-Afrika ken ook terrorisme. Die ANC se Kerkstraat-bomontploffing in die 80er jare is een voorbeeld. Wat goed is vir ʼn terroris, is altyd baie sleg vir ʼn land!

Waar kom terrorisme vandaan? Van die Satan. Daarmee verwoes hy lewens, gesinne, kerke, gemeenskappe en lande. Kyk wat ná April 1994 in Suid-Afrika gebeur het toe die Christelike bestel m.b.v. kerke afgebreek is om aan Satan beheer te gee. Suid-Afrika het die gevaarlikste land ter wêreld geword. Dit gebeur as mag aan die grootste terroris oorhandig word –Satan! Jesus sê van hom:

“...Hy was ʼn mense moordenaar van die begin af....” (Joh.8:44).

Wat kan gelowiges teen hierdie terroris doen? ʼn Beskermingsplan uitneem; die 911 beskermingsplan (Ps.91:1).

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige”.

Vernag beteken beskerm. Gelowige sal die Almagtige se beskerming verkry. Ons durf nie sonder hierdie geestelike dekkingsplan leef nie; dis te gevaarlik! Wanneer Satan, die geestelike terroris, ons aanval, maak ons die Bybel by Ps.91:1 oop – ons eie 911 polis met drie wonderlike voordele. Kyk daarna :

  1. (i)Ons kan na God hardloop.
  2. (ii)Persoonlike verhouding.
  3. (iii)Vertrou op God se beloftes .

  1. (i)Ons kan na God hardloop.

Nood laat ʼn mens hardloop; òf na òf weg van God. In die teksvers doen die skrywer die regte ding en hardloop na God toe. Ps.91:1 is nie vir almal nie; dis slegs vir hulle wat God deur die bekering tot Jesus leer ken het.   Dis vir die kinders van God wat in die Vaderhuis bly, bedoel.   Hierdie polis maak nie vir mense wat so af en toe kom kuier voorsiening nie; dis alleenlik vir permanente inwoners bedoel en nie vir die gaste nie!

Dawid praat ook van hierdie geestelike verblyf in die Vaderhuis:

“Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek, dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here...” (Ps.27:4).

Watter voordeel het hierdie vaderhuis vir God se kinders?   Die teksvers sê dat dit ʼn skuilplek is – ʼn plek van heilige en veilige verkeer met die Vader.

Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak” (:9).

Salomo sê:

“Die Naam van die Here is ʼn sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskerm” (Spr.18:10).

Hierdie vaderhuis is ʼn geestelike fort.

Luther skryf die woorde van ons Ges.265:

ʼn Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom, die sterke...”

ʼn Burg is ʼn ondeurdringbare verdedigingsvesting. So is God vir sy kinders. Niemand is teen Hom bestand nie, selfs nie Satan nie.

Hoe lyk hierdie sterke God? In die Bybelse tyd het ʼn naam ʼn karakter beskryf So ook God s’n. Ps. 91 gebruik vier name vir Hom wat sê waarom gelowiges in ons nood na Hom kan hardloop. Verse 1 en 9 noem Hom die ALLERHOOGSTE (El Eljon); die hoogste God is in beheer van alles daarom hardloop sy kinders na Hom vir beskerming.

Verder noem vers 1 Hom die ALMAGTIGE (El Shaddai). Hierdie benaming is van ʼn woord afgelei wat berg beteken en dui op God se beskermende genoegsaamheid.

Verse 2 en 9 noem Hom HERE (Jahwe) wat beteken om te wees. God sê aan Moses: “EK IS WAT EK IS” (Ex.3:14) en beskryf daarmee sy onveranderlike karakter. In ʼn wêreld van veranderlikes is God die enigste vasstaande Onveranderlike. Daarom soek gelowiges beskerming by Hom.

Vers 2 praat ook van Hom as God (Elohim). Dit beteken dat Hy bo alle ander sg. gode verhewe is. Hy is die sterk Een, die magtige Leier en die hoogste God waarheen gelowiges kan hardloop!

Jare gelede het ʼn reuse veldbrand in die Yellowstone Nasionale Park (VSA) gewoed. Nadat dit geblus is, het ʼn veldwagter by ʼn boomstam ʼn voël gevind wat byna tot kaiing verbrand het.   Toe hy met ʼn stok aan haar krap, het drie kuikens onder haar dooie moeder se vlerke uitgedop. Sy het geweet wat kom, haar kuikens uit die nes geneem en op die grond met haar vlerke toegemaak. Sy kon hulle gelos en na veiligheid gevlieg het.   Sy het nie haar kinders verlaat nie en gewillig gewees om te sterf sodat hulle onder haar vlerke kon bly lewe.

Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil....” (Ps.91:4).

Elke mens hardloop in tye van nood hetsy fisies of psigies; niks fout daarmee nie, solank as wat hy in die regte rigting hardloop. Moet nooit van God af weghardloop nie; hardloop eerder na Hom toe en gebruik die beskerming wat Hy voorsien. God is bo ons benarde situasies verhewe met alle mag in die hemel en op die aarde. Woorde soos skuilplek, toevlug en bergvesting spreek van behoud. God wil jou nie verdelg nie, maar eerder bewaar!

(ii) Persoonlike verhouding

Dit bring ons by die tweede voordeel van die 911 polis. Die eerste voordeel is dat ek na God toe kan hardloop. Die tweede is dat dit ons in ʼn PERSOONLIKE VERHOUDING MET GOD bring. Vers 2:

Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou” .

Drie maal hoor ons die woord my. Dit spreek van ʼn persoonlike verhouding. Ek ken God en Hy vir my.  

Watter voordeel het hierdie persoonlike verhouding vir gelowiges?   Vers 3 antwoord: God red hulle uit die net van die voëlvanger en van die verderflike pes. Voëlvanger dui op gevaar wat ons van buite bedreig en die verderflike pes van gevaar wat ons van binne bedreig. God bewaar ons onder alle omstandighede:

“U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my” (Ps.139:5).

Ps.91 praat van baie bedreigings - skrik, pyle, peste, boosheid ens. Ja, dit voel soms asof die lewe so buite beheer raak, dat ons slagoffers van ons omstandighede geword het. Ons beantwoord dikwels ʼn groet met: Dit gaan goed onder omstandighede”. Waarom onder? Wat doen ons onder ons omstandighede?   Die lewe is soos ʼn matras; as ons bo-op is, slaap ons rustig. As ons onder dit beland, versmoor ons! God wil dat ons bo-op ons omstandighede kom en daar bly. Die 911 polis maak daarvoor voorsiening.

(iii) Vertrou op God se beloftes  

Dit bring ons by die derde voordeel van die 911 polis: DIT LEER ONS OM OP GOD SE BELOFTES TE VERTROU.

Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. Met lente van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien” (:14-16).

Wat sê dit vir my as gelowige? Dat God in beheer is al gaan dit ook hoe rof met my. In vers 11 sê die Psalmdigter dat God selfs sy engele opdrag gee om ons te beskerm! In Ps.91 sê God sewe maal Ek sal.

  1. (i)Ek sal hom red.
  2. (ii)Ek sal hom beskerm.
  3. (iii)Ek sal hom verhoor.
  4. (iv)Ek sal by hom wees.
  5. (v)Ek sal hom uitred.
  6. (vi)Ek sal hom versadig.
  7. (vii)Ek sal hom My heil laat sien.  

Wat het ons meer as dit nodig? Die ramp van 9 Sept. 2001 was ʼn groot tragedie.   Die grootste tragedie is en bly egter mense wat die 911 polis van God nie wil hê nie!