HOU VAS WAT JY HET
Ds AE vd Berg
“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom” (Openb.2:25)
Vyf eeue voor die geboorte van Christus het die Perse die Babiloniërs verslaan en die nuwe wêreldheersers geword. Baie van die Babiloniese priesters het na Pergamus gevlug om hul afgodery daar voort te sit. Soos wat Jerusalem God se setel op die aarde was, het Pergamus dié van Satan geword. Hierdie priesters het ongekende mag oor hul onderdane verkry. Pergamus was ʼn Satans-hool met die stank van afgodsoffers in elke afgodstempel en op straat: “Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is...”(Openb.2:13).
Toe die Romeinse ryk begin kwyn en hul reënboognasie-onderdane opstandig raak, het die keiser die afgodspriesters in Pergamus gaan besoek om by hulle te leer hoe om mense te beheer. Hierdie priesters het iets met mense reggekry wat die keiser nie kon nie. Pergamus was ʼn provinsie van die Romeinse ryk.
Die keiser het geglo dat dit wat in godsdiens werk, ook in die politiek kon werk. Politiek kan met godsdiens beheer word. Dis hoe die Roomse Kerk ontstaan het; ʼn karikatuur van die ware kerk wat vir meer as 1,200 jaar mag oor die mensdom gevoer en miljoene andersdenkendes laat folter en vermoor het.
Thiatire wat naby aan Pergamus was, het ook in die spervuur van Satan beland. Dit was ’n sterk gemeente wat ongelukkig meer op getalle as op gehalte ingestel was. Desondanks begin God met ’n aanprysing: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof….” (:19). Hy kla hulle egter aan dat hulle dwaalleer geduld het: “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei…” (:20).
Dié Isebel was nie ’n werklike vrou nie, maar die simbool van die bose invloed wat dwaalleer op die gemeente gehad het. Dit herinner aan die bose Isebel wat haar man, koning Agab, die Baal-godsdiens in Israel laat wettig het, ’n tempel vir Baal in Jerusalem opgerig en priesters uit die staatskas besoldig het.
Agab se huwelik met hierdie heiden was doodsake vir Israel. Die Hollanders sê: “Twee geloven op een kussing, daar slaap de duiwel tussen!” En hoe was Satan nie tuis op die koning se bed nie! Baie Israeliete was gegrief maar te bang om te praat. Isebel kon hulle laat doodmaak het – godsdiens tirannie!
Isebel het geweet dat Israel se godsdiens nie sonder meer met afgode bestorm kon word nie. Sy het ’n ander taktiek gebruik om hul geesteswaardes af te breek – sy het die kerk met heiden-elemente begin besoedel. En dit het gewerk.
Dit wat destyds in Israel gebeur het, het later ook in Thiatire kop uitgesteek; die kerk is met heidendom besoedel. Mense het met die “dieptes van die Satan” (:24) kennis gemaak. Met dwaalleer spot die Satan met God en die waarheid. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie…” (Gal.6:7).
Dwaalleer het in Thiatire vastrapplek gevind toe die kerkleiers van destyds die kerk vir heidene meer aanvaarbaar probeer maak het. Kerk en wêreld moes mekaar op eie terrein ontmoet om mekaar beter te verstaan. En so het die gemeente uit haar nate gebars en die kerk byderwets en gewild geword het.
Hierdie blink muntstuk het egter ʼn dowwe keersy gehad. Toe die heining opgelig is, het klein jakkalse binnegestroom, die wingerd verniel en God se heilige akker onteer. Thiatire was nie soos haar beginselvaste buurgemeente Smirna wat nie van haar beproefde geestelike waardes afgewyk het nie.
Christus praat baie hard met die gemeente en noem enige gemeenskap tussen kerk en wêreld hoerery: “En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer en sy het haar nie bekeer nie” (:21). Die kerk is die bruid van Christus en moet haar derhalwe van alle onheilige gemeenskap onthou!
Thiatire het as kerk misluk. Die kerk het nie die wêreld geheilig nie, maar die wêreld toegelaat om haar te besoedel. Die kerk is geroep om vir Christus afgesonder te wees. Sodra sy haar beginsels vir nouer samewerking met die wêreld laat vaar, beland sy in die spoelsloot van die lewe. Dan voer die god-vyandige wêreld haar net waarheen dit wil. Dit wat destyds in Thiatire gebeur het, het ook aan die suidpunt van Afrika met talle hoofstroomkerke gebeur!
Christus laat vaar egter nie die werk van sy hande nie. As dit lyk asof die kerk tot niet gaan, voorsien Hy gelowiges wat vasstaan: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”. Waaraan moes hulle vashou? Aan die waarheid. Dis per slot van rekening waaroor alles gaan. Gelowiges is in ’n stryd met die leuen gewikkel. Baie mense weet wat die waarheid is, maar is nie lief daarvoor nie; die leuen is baie lekkerder!
Wie die waarheid praat, is nooit gewild nie en ervaar sterk teenstand want in tye van misleiding is die verkondiging van die waarheid ʼn rewolusionêre daad: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:10-13).
Om die waarheid te praat, kan lewensgevaarlik wees, maar mag nie nagelaat word nie. Vir gelowiges durf die stryd om die waarheid nooit te veel word nie want niks onderskei gelowiges soos ’n liefde vir die waarheid nie.
Gelowiges het die opdrag om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Geen kerk mag haar in ’n tipe van kloosterlewe van die wêreld onttrek nie. Sy moet egter voortdurend waak dat sy nie in die wêreld verdwyn nie! Die kerk van Christus beteken die meeste vir die wêreld as dit die minste daarna lyk. Ongelukkig het kerke die wêreld omhels i.p.v. die dwaasheid daarvan aan die lig te bring. Daarom woed afvalligheid orkaansterkte in baie kerke.
Dis hartseer om te sien hoe oppervlakkig die kerklike lewe geword het. Ja, die kerklike wêreld het hol geword van al die oppervlakkige vermaak. Kerke wat ʼn denkwyse in pas met die wêreldmening huldig, bars vandag uit hul nate. En dit gaan alles oor leuens wat verkondig en geglo word!
Gelowiges sal baie sterker vir die waarheid moet stry en die Bybel beter moet leer ken. As ons nie by mekaar gaan staan en die waarheid verdedig nie, kan God sy guns van ons onttrek en ons lig afskakel. Hoor wat sê Hy vir Efese: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openb.2:5).
Baie kerke sit vandag sonder krag. Hulle ligte werk nie meer nie. En dis nie die weens beurtkrag nie maar teologiese onverskilligheid – hulle het die hoofskakelaar self afgesit – baie lekkerder in die donker!
Ons kerk se leuse is: LIG IN DUISTERNIS. Hierdie lig kan net brand as ons die duisternis uit ons kerk hou. En dis net moontlik as ons liefde vir God en die waarheid nommer een is en bly totdat Jesus weer kom. Jesus se raad aan Thiatire is ook vir ons: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”