TERUG NA JESUS

Ds Andrè vd Berg

“....en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het... En hy het in trane uitgebars” (Mark.14:72)                                    

Daar was eenmaal ʼn wilde eend wat elke jaar wanneer die lente aangebreek het saam met ander wilde eende noordwaarts oor Europa gevlieg en in die herfs weer teruggevlieg het.   Een jaar het hy baie uitgeput vir ʼn wyle op ʼn Deense plaas tussen mak eende gaan sit. Hy was baie honger en het besluit om vir ʼn dag daar te vertoef voordat hy verder sou vlieg. Die dag het ʼn week en die week het ʼn maand geword. So het hy die hele somer daar vertoef.  

Toe dit herfs word en die swerms wilde eende op hul tog suidwaarts oor die plaas vlieg, het hy opgewonde sy vlerke geklap om by hulle aan te sluit.

Maar hy was te swaar en kon niks hoër as die skuur se dak vlieg nie. Toe het hy maar besluit om daar te bly – dit was veilig en die kos volop. Maar elke lente en herfs as die swerms wilde eende oor die plaas gevlieg het, was sy hart by hulle. Dan het sy oë geglinster en het hy met sy vlerke geklap asof hy nog by hulle kon aansluit. Hierdie verlange het stelselmatig getaan totdat hy geen aandag meer aan die swerms gegee het nie. Hy was tevrede met sy gemaksone.

Hierdie verhaal skets die prentjie van ʼn mens wat sy hoë geestelike ideale en waardes verlaat en met minderwaardige dinge in die lewe tevrede raak. Is jy miskien een van hulle? Was daar dalk ʼn tyd in jou lewe wat jy op baie hoër geestelike grond beweeg het as tans?   Ons beweeg soos die Verlore Seun weg van die Vader en dink dat ons nie te sleg doen nie. Maar diep in jou is jy ontevrede want jy ploeter terwyl God jou geskep het om hoog te kan vlieg!

In Mark.14 lees ons van ʼn man wat ʼn landingsplek in so ʼn gemaksone gevind het: Simon Petrus. Hy is op die verkeerde plek, tussen die verkeerde mense en hy doen die verkeerde dinge; die vernietigende drie V’s – verkeerde plek, verkeerde mense, verkeerde dinge. Maar hoe het Petrus hier beland? Hy het verval. En dit was nie in ʼn oomblik van swakheid nie. Geestelike verval is ʼn geleidelike proses - eers die een gebied, dan ʼn volgende en so hou dit aan totdat jy hoogstens vlerke klap, maar nie meer geestelik kan vlieg nie!

Ps.1:1 skets hierdie agteruitgang. “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie” Let op die werkwoorde: wandel, staan en sit. Die een volg op die ander. Hierdie wilde eend was op die Deense plaas tussen eende wat nie geweet het hoe om te vlieg en ook nie belang gestel het om uit te vind nie. Hulle was met hul gemaksonde tevrede – die ondermaanse!

Miskien is daar iemand wat soos Simon Petrus toegelaat het dat sy hart koud word en, eerlik met homself, erken dat sy aanvanklike ywer vir Jesus afgeneem het.   Miskien wonder jy hoe dit gebeur het en of herstel moontlik is? Die voorbeeld van Simon Petrus leer gelowiges wat geestelik op die bodem beland het om op te staan en selfs groter hoogtes as tevore te bereik. Volg saam met my die gebeure wat tot Petrus se val en opstaan gelei het.

Petrus was ʼn gelowige en het Jesus as sy Verlosser geken. “En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt.16:16). Hy het geglo dat Jesus die enigste Verlosser is: “En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Joh.6:68).   Sy naam staan eerste op die lys van Jesus se dissipels in Mt.10. In Joh.18 verdedig hy selfs Jesus se lewe met sy swaard.  

Petrus was beslis gered. Sy naam staan in die boek van die lewe. Desondanks beland hy in die verkeerde plek, tussen verkeerde mense en doen die verkeerde dinge; die vernietigende drie V’s – verkeerde plek, verkeerde mense, verkeerde dinge.  

Ons leer hieruit ʼn baie belangrike les: Jou sieleheil eindig nie die dag van jou bekering nie; dit begin daar! Jy word net eenmaal saligmakend gered. Hierdie redding plaas jou in ʼn verhouding met Jesus waarna die verhouding gevoed moet word. Dis presies dieselfde met die huwelik – jy trou een maal waarna die huwelik gevoed moet word anders slaag dit nie.

Dis sinneloos om te sê dat jy in Jesus glo, maar nie dienooreenkomstig optree nie.   Die liefde vir Christus is opsigtelik en wys aan ʼn mens: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken” (Hand.4:13). Mense kon sien dat hulle ʼn verhouding met Jesus gehad het. Die teenoorgestelde is ook waar: As jy nie aan hierdie verhouding werk nie, wys dit ook – jy verval!   Gevolglik is geestelike verval die resultaat van ʼn verhouding met Jesus waaraan daar nie gewerk is nie

Hoe het Petrus ten spyte van sy redding in so ʼn plek tussen heidene beland? Die Evangelies werp lig op hierdie vraag. Petrus het in drie lewensareas gestruikel – in sy woorde, lewenswandel en optrede. By geleentheid het hy Jesus probeer teregwys en gestruikel hy: “Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie” (Mt.16:22).   Petrus het ook Jesus se woorde geminag toe Jesus vir die dissipels gesê het dat hulle almal aanstoot aan Hom sou neem: ” Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie...” (Mt.26:35).    

In beide gevalle het hy Jesus se woorde afgemaak en sy eie siening gehad.   Toe hy sy mond oopmaak, het sy opstandigheid die bo-toon gevoer.   Aan ʼn mens se praat kom jy gou agter as sy lewe met Jesus nie reg is nie!   Petrus het derdens ook in sy lewenswandel gestruikel. In die tuin van Getsemane was Jesus baie teleurgestel om Petrus en die ander dissipels aan die slaap te vind: “... So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” (Mt.26:40).

Toe die poppe begin dans en Jesus gevange geneem word, het Petrus ʼn veilige afstand tussen hom en Jesus geskep: “En Petrus het Hom van ver af gevolg...” (Mt.26:58). Daarna het die droewige episode van die verloëning gevolg. Petrus het saam met die volksvyand, die Romeine, by ʼn vuur gaan sit en die Jesus wat sy siel van die hel gered het driemaal verloën.  

Daarna het dieselfde ding telkens weer gebeur – mense wat in die gees saam met Jesus geloop het en vir wie die Woord kosbaar en rigtinggewend was het dit op ʼn dag gemakliker gevind om te slaap as om te bid, om op Sondae eerder tuis te bly as om kerktoe te gaan, om eerder TV te kyk as om Bybel te lees ens. Kortom: Hulle het Jesus anders begin beleef.   Hy is nie meer so werklik soos tevore nie.   Voel jy miskien so? Wat het gebeur? Kyk mooi; bevind jy jou nie dalk by verkeerde vure nie? Geniet jy die geselskap van verkeerde mense?   Verkwis jy jou tyd met verkeerde dinge? Weereens die vernietigende drie V’s – verkeerde plek, verkeerde mense en verkeerde dinge. Sulke dinge maak jou koud teenoor Jesus. Miskien wonder jy hoe het dit gebeur dat jy wat op eens so vuur en vlam vir die saak van die Here was so teruggegly het?  

Die geestelike verval het in Petrus se lewe ʼn punt bereik waar hy vir ʼn wyle met sy ou lewe aangegaan het.   Hy het sy geestelike wagpos verlaat asof dit die maklikste ding was om te doen.   Ja, die mag van sonde laat mense dink dat hul verkeerde optrede reg is!   Medegelowiges sien dit egter raak. Jy was miskien ʼn ouderling of diaken en het verantwoordelikheid geneem en toe uit die amp neergelê.   Dit wat in jou bedankingsbrief staan, is nie die volle waarheid nie. Jy het moeg geraak vir die saak van die Here. Jy het soos die wilde eend heel tevrede in ʼn gemaksone beland. Wat van jou gebedslewe? Jy bid nie meer so gereeld soos tevore nie, jy gee geen ware dankoffer nie, jou kerkgang verswak. Kortom: Jou hart is nie reg nie!

Dis ʼn bitter moeilike ding om te erken, maar alvorens dit nie gebeur nie, kan geen herstel plaasvind nie.   Jy moet eerlik met jouself wees en dinge sien soos wat dit werklik is. Eers dan kan jy soos ʼn Petrus van ouds na Jesus terugkeer.

Dis goed dat die verhaal van Petrus nie by ʼn Romeinse vuur eindig nie. Sy terugkeer het die selfde nag nog begin “... en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het... En hy het in trane uitgebars”.

Berou is die pyn van sonde en hierdie pyn is so pynlik soos die pik van ’n adder! Laat ons eerlik wees: Niemand maak jou seerder as jyself nie. Petrus het dit besef. Hy kon niemand anders as homself die skuld vir sy struikeling gee nie!   Gelukkig dwing berou sondaars tot selfondersoek.   Petrus het homself ondersoek en besef dat hy sake met die Here moes regmaak en gedoen wat die verlore seun gedoen het – na die vaderhuis terugkeer en die verhouding herstel.

In Joh.21 ontmoet Jesus een oggend vir Petrus op die strand, herinner hom aan sy liefde vir Hom en herstel sy roeping. Jesus het Petrus se mislukking vir altyd agter Hom geplaas en hom in ere herstel. Dis wat God vandag nog in Jesus Christus doen: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9).

Net na Jesus se hemelvaart gebruik Hy vir Petrus kragtig toe hy op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul is, in die tempel opstaan en preek waarna 3000 mense tot bekering kom.   Daarna het hy reusagtige baanbrekerswerk in die eerste Christelike gemeentes gedoen. Wat het dit moontlik gemaak? Drie dinge; hy was eerlik met homself, hy het na Jesus terugkeer en is met die Heilige Gees vervul.  

As jy vandag eerlik erken dat jy geestelik koud geword het, moet jy terugkeer en nie toelaat dat sonde verder in jou lewe heers nie. Die altaar van God se genade in Jesus Christus is 24 uur per dag oop!   Petrus het gestruikel en die pad na Jesus teruggevind. Jy kan ook!