NEEM JOU KRUIS OP

Ds Andrè vd Berg

“... As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24).                                      

Omdat Jesus lief was vir sy dissipels het Hy dikwels ernstig met hulle gepraat. Hulle moes nie onder die wanindruk verkeer dat die geloofslewe maneskyn en rose is nie en moes weet wat vir hulle voorgelê het - vervolging.  In Mt.16 sê Hy vir hulle dat ʼn gelowige skouer aan die kruis moet sit.

Ons ken die uitdrukking om skouer aan die wiel te sit- jy moet ywer om sukses in die lewe te bereik. Dis ook van die geestelike lewe waar. Om Jesus te volg, moet jy skouer aan die kruis sit en vra van gelowiges ʼn beslissing sowel as volle toewydingtot die dood toe. As alwetende God het Jesus geweet dat met die uitsondering van Johannes, elkeen van sy dissipels ʼn martelaarsdood sou sterf.

 

Die dissipels het geweet waarvan Jesus praat, toe Hy na die opneem van ʼn kruis gepraat het. Die Romeinse owerheid het kruisiging as ʼn teregstellingsmetode gebruik om opstand teen hul gesag te ontmoedig. Ter doodveroordeeldes moes selfs hul eie kruise na die plek van teregstelling dra. Dit was dus nie ongewoon dat Jesus op daardie Vrydagoggend sy kruis moes dra nie.

Wanneer Jesus in Mt.16 van kruis-dra praat, is dit figuurlike taal - om ter wille van die geloof in Hom as die Messias die dood tegemoet te stap. En baie het. In Openbaring sien Johannes hulle: En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openb.6:9).

Die Jode het in die tyd van Christus op aarde gehoop dat Hy as ʼn politieke bevryder die plaaslike Romeinse owerheid om ver sou werp en die Dawid-koninkryk in ere herstel. Van sy volgelinge het selfs tot op die dag van die hemelvaart nog so gehoop: Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6).

Nee, Jesus was geen politieke verlosser nie. Hy het aarde toe gekom om sy dissipels vir ʼn kruisdra voor te berei omdat die pad van die koninkryk die pad van die kruis is.   Daar is geen ander pad nie. Wie die kruis van Christus nie op sy skouer voel druk nie, dra dit gevolglik nie!

Jy sien dikwels tweedehandse motors wat geadverteer word met ekstras. Dis nie standaardtoerusting nie maar bykomstighede. Die voertuig kan net so goed daarsonder funksioneer. Die ekstras laat die motor net mooier vertoon. Die kruis van Christus is egter nie ʼn ekstra op ons skouer om ons godsdiens mooier te laat lyk nie, maar standaardtoerusting!

Jesus plaas hierdie kruis op kerkmense se skouers om die kaf van die koring te skei omdat baie se godsdiens oppervlakkig is. Hy sê vir die Fariseërs van sy tyd: “Wee julle, skrifgeleerdes...... want julle is soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid” (Mt.23:27).

Baie mense is erg godsdienstig totdat hulle die kruis op hul skouer voel druk en verlaat dan die geloof. Paulus skryf aan Timoteus van so ʼn geval - Demas. Die Hebreër-brief skrywer waarsku godsdienstige mense om nie om te spring nie: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het ... en afvallig geword het – om dié weer tot bekering te vernuwe...” (Heb.6:4-6).  

Om skouer aan die kruis te sit, moet gelowiges eiesinnige strewes ontslae raak.  Die dissipels was bevoorreg om vir drie jaar van Jesus te leer. Daarna moes hulle van alle eiesinnigheid ontslae raak. En dit was nie maklik nie. Hulle was lief om onderling te vergelyk en te wedywer.   “En daar het ʼn redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was” (Luk.9:46).  

Nie een van hulle sou kon raai watter kruis Jesus vir hulle bestem het nie. So ook nie een van ons nie. Ons kies nie hoe lig of hoe swaar ons kruis moet wees nie.   God hang soms swaar gewigte aan dun draadjies. Die kind van God aanvaar elke kruis wat hom bestem is. “So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ʼn ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra?” (Rom.7:4).

In Mt.16:25 sê Jesus dat hy wat sy lewe wil behou, dit sal verloor. Dit beteken dat as jy in tye van vervolging jou geloof afsweer, jy die ewige lewe verloor! Jesus verwag nie van gelowiges om na vervolging uit te sien nie. Hy bestem ook aardse vreugde vir sy kinders.   Desondanks al hierdie dinge moet gelowiges net soos Jesus altyd God se wil in alles soek. Dis nie altyd maklik nie!   Jesus het dit self beleef as Hy in Getsemané bid: “... My Vader, as hierdie beker nie by my kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied” (Mt.26:42).  

Sekere gelowiges se krag kwyn in die uur van beproewing terwyl ander s’n opleef. Let op Stefanus, die eerste Christen martelaar. Hy het Jesus se teenwoordigheid in sy sterwensuur ervaar: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Hand.7:56).  

Een ding moet ons weet: Dat gelowiges in tye van vervolging deur ʼn God van liefde vasgehou word en niks sonder sy wil gebeur nie. Gelowiges se beproewing vergelyk geensins met die vreugde wat op hulle in die hemel wag nie. Al maak swaarkry selfs die liggaam swak, maak dit die gees sterk en tree God se sterkste soldate in die uur van vervolging duidelik na vore!

Let op die eerste Christengemeentes wat buite Jerusalem weens die Romeins-Joodse vervolging van gelowiges ontstaan het. Dit het hoofsaaklik uit mense bestaan wat alles agterlaat en vir hul lewens gevlug het.   En hoe het vervolging hulle nie geestelik ryp gemaak nie! Dit het die gehalte van hul geloof verhoog en baie heidene so aangegryp dat hulle tot bekering gekom het.

Christenvervolging is nie iets van die verlede nie. Die nuusmedia is vol berigte daarvan. Dit neem baie ernstig toe en is ʼn teken van die naderende wederkoms.Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam...Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:9, 21,22).

Om Jesus enduit te volg, kan jou besmoontlik jou lewe kos. Jesus sê vir die vervolgde gelowiges in Smirna: “ ... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).   Hoe lyk die kruis op jou skouer – is dit ʼn ekstra of is dit standaardtoerusting?