GOD MAAK NOOIT FOUTE NIE

Ds AE vd Berg

“ ... En hulle het Josef na Egipte gebring”(Gen.37:28).

Dit word vertel van ʼn koning wat nie in die goedheid van God geglo het nie. Sy lyfbediende was egter ʼn Christen en het dikwels vir hom gesê het dat God nooit foute maak nie. Omdat die koning baie lief vir jag was, het hy graag hierdie bediende as wapendraer saamgeneem.

Tydens ʼn jagtog het ʼn wildehond die koning aangeval en een van sy vingers afgebyt voordat dit van kant gemaak kon word.  Die koning was ontsteld: “Is God nog steeds goed? As Hy werklik goed was, sou ek nie ʼn vinger verloor het nie!” het die koning die bediende woedend toegesnou. “My heer, ten spyte van dit wat gebeur het, glo ek nog steeds dat God goed is en alles met ʼn doel laat gebeur”, het die gelowige bediende geantwoord. Terug by die paleis het die koning die bediende vir nalatige waaksaamheid onbepaald laat opsluit.

Toe die koning later weer gaan jag het, is hy deur inboorlinge gevang en as ʼn mense-offer op ʼn altaar vasgebind.   Toe die ritueelpriester sy taak wou uitvoer en bemerk dat die koning nie al sy vingers gehad het nie, het hy hom vrygelaat omdat ʼn offerande sonder gebrek moes wees.

By sy terugkeer het die koning die bediende vrygespreek en gesê: “Nou glo ek dat God goed is, want was dit nie vir ʼn af vinger nie, was ek nou dood! Tog het ek ʼn vraag: As God goed is, waarom het Hy toegelaat dat ek jou laat opsluit het?” Die bediende het geglimlag en gesê: “As ek saam met u gegaan het, sou ek in u plek geoffer gewees het omdat ek al my vingers het!”

Ps.18:31 sê: Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil”. God is nooit verkeerd nie al sien ons dit nie dadelik raak nie. Niks gebeur toevallig nie.

Let op Josef se lewe. Hy was ʼn dromer. Daar is twee soorte drome – dag en nag drome. Beide kan egter in nagmerries verander! Dagdrome is selfs goed omdat ons daarmee ons lewens rig. Wie nie dagdrome het nie, is arm! Het jy nog drome vir die lewe? Is dit Godgegewe drome? ʼn Gelowige sonder sulke drome is soos ʼn skip wat gebou is om oseane te trotseer maar in ʼn dam rondvaar! Hy het geen verre hawe om te bereik of ʼn waardevolle vrag om af te lewer nie. Sy lewe bestaan uit met eentonige roetes met ligte dek vragte. Salomo sê: “Alles tevergeefs”. Die Engelse sê: Nothing ventured, nothing gained”.

Mense met ʼn Godgegewe lewensdroom, leef anders. Let op die geloofshelde in die Bybel – almal het ʼn Godgegewe droom gehad.   Josef staan hier uit. Die droom wat Hy as jongman gehad het, was rigtinggewend – God het ʼn plan met hom gehad. Josef het nie geweet waarheen dit hom sou voer nie. Hy het God bly vertrou want Hy het geweet hoe om hom in sy diens te gebruik. God se plan met Josef begin letterlik in ʼn put met die toppunt 13 jaar later as onderkoning!

God het die bal in Josef se merkwaardige lewe aan die rol gesit toe sy broers hom as slaaf verkoop het. Die Here loop nie altyd gelyke paaie met gelowiges nie, maar soms ook rowwe paaie.  Josef het egter volhard omdat sy lewe deur ʼn Godgegewe droom gedryf is. En al het hy sy penarie nie verstaan nie, het hy nooit moed verloor nie maar vas bly glo dat God hom op sy tyd sou verlos.

Sy lewensdroom het gesinsprobleme gebring. Nadat hy verkoop is, was sy broers bly om vir goed van hom ontslae te wees; altans so het hulle gedink! Die slawehandelaars het Josef uit die put opgetrek en na ʼn vreemde land geneem. Wat ʼn ontwrigting was dit nie in ʼn jongman se beskermde lewe nie!   Die Engelse het ʼn beskrywende woord uprooted. Josef is uit sy bedding verwyder.

Daar in die vreemde het Josef altyd sy oë op God gehou. Dit word selfs aan die name van sy twee seuns gesien wat hy by ʼn Egiptiese vrou gehad het. Manasse beteken: God het my die hartseer laat vergeet. Efraim beteken: God het my vrugbaar in die land van droefheid gemaak.

Toe daar in hierdie tyd hongersnood in Israel kom, het uitwissing nie net die volk nie, maar ook Josef se familie in die gesig gestaar. God het as’t ware vir Josef vooruit gestuur om dit te voorkom; ʼn aangrypende verhaal!

Josef se Godgegewe droom het hom onder alle omstandighede op God se sorg laat vertrou. Hy het nie toegelaat dat omstandighede hom oorweldig nie. Of hy in Potifar se huis of in die tronk was, hy het altyd gevra: “Here, wat kan ek vir U hier doen?” Hy het God se wil in die sonskyn en onweer van sy lewe gesoek.

Josef se positiewe gesindheid het verhoed dat hy in die storm van die lewe sink. Let op die teksvers: “ ... En hulle het Josef na Egipte gebring”, ver van sy huis en geliefdes. Maar selfs dit het Josef nie van sy droom laat afsien nie. Hy het geweet dat God ʼn doel met hom het – hy moes God se lig in die donker wêreld van afgodery laat skyn. Die heidene het kennis daarvan geneem: En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak, het Josef guns in sy oë gevind ...” (Gen.39:3).Hoe sou Potifar iets van God te wete gekom het as hy nie van Hom getuig het nie?

Selfs toe Josef in die tronk beland, het hy homself nie sit en bejammer nie, maar geblom waar hy geplant is al was dit in skynbaar onvrugbare grond. Sy geloof het hom selfs in tye van versoeking soos met Potifar se vrou, deurgedra.

Wat Josef so merkwaardig maak, is dat hy nooit sy oë van God af weggeneem het nie. Hy het geweet dat God ʼn doel met sy moeilike omstandighede gehad het en dat hy, as hy sy oë van die Here sou wegneem, hy die slaaf van sy bittere omstandighede sou word. En dan het die Satan hom net waar hy hom wil hê!

Josef het hom nie deur omstandighede laat knak nie en selfs medegevangenes gehelp. ʼn Mens is soos ʼn termometer of ʼn termostaat. ʼn Termometer dui temperatuur aan. ʼn Termostaat beheer temperatuur. Josef was ʼn termostaat; hy het warmte in mense se troostelose koue lewens gebring. Toe sy broers jare later voor hom buig, is die droom wat hy as jongman gehad het bewaarheid.

Wat van jou? Leef jy met ʼn doel? In die vroeë 1960’s het JF Kennedy daarvan gedroom om iemand op die maan te plaas; iets wat as onmoontlik beskou is. Sy droom het sy volk egter in beweging gebring en vir die dryfkrag gesorg wat in 1969 tot die eerste maanlanding gelei het.

Wie die onsigbare sien, kan die onmoontlike vermag soos wat Josef se lewe van getuig. Toe hy na Egipte gebring is, moes dit, soos Satan gehoop het, die einde van hom gewees het. Hy was immer uit sy land en vader se oog, maar nie uit God s’n nie. Toe sy broers hom afskryf, het God hom aangeteken! Hy het sy oog op Hom gehou en op die ou einde oorwin. Net hy wat God voor oë het, kan die skynbaar onmoontlike vermag.

Hoe lyk jou omstandighede? Verkeer jy miskien in ʼn baie ongunstige situasie? Hou jou oë op Jesus. Leer van Josef wat Dawid later in Ps.103:13 van skryf: “Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees”. Jesus sê self: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid” (Mt.7:11).