IN SAND GESKRYF

Ds AE vd Berg

“... En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (:11).

Wat het Jesus in die sand geskryf? Die Bybel brei nie daarop uit nie. Dis nie belangrik nie. Johannes is die enigste Evangelie-skrywer wat oor hierdie voorval skryf, dog belangrik omdat Jesus mense ʼn belangrike les wou leer.

Waarom het die kerklui hierdie vrou na Jesus gebring? Hulle het mos nie sy toestemming vir ʼn vonnisvoltrekking nodig gehad nie, maar die volmag gehad om haar te stenig. Hulle het nie raad gesoek nie, maar ʼn aanklag teen Hom probeer kry om Hom in ʼn hoek te probeer dryf. Die kerklui wou hê dat Hy teen die wet van Moses moes praat wat steniging voorgeskryf het en Hom aankla.

Dit was nie hul eerste poging nie. Hulle het Jesus telkens probeer uitlok omdat hulle Hom hartstogtelik gehaat het.

By geleentheid vra hulle Hom wat die grootste gebod in die Wet is. Jesus sien dwarsdeur hulle en skroom nie om hulle geveinsdes, addergeslag en witgepleisterde grafte te noem nie!

Wat was Jesus se probleem met die kerklui? Hulle het soos engele gepraat, maar soos duiwels geleef - godsdienstig ja, godsvrugtig nee. En dan durf hulle ʼn sedelose vrou na Hom te bring om haar te veroordeel. Dit sou polities-godsdienstig die regte ding wees om te doen. Sy is immers op heterdaad betrap.

As Jesus haar veroordeel het, sou die kerklui tevrede gewees het, maar Hy doen dit nie en skryf eerder iets in die sand. Ons kan maar net wonder wat Jesus geskryf het? Miskien: “Wie is julle om te praat?” Miskien het party van die kerklui wat daar was ook maar die kat in die donker geknyp! Onthou dat Jesus as God alwetend dwarsdeur mense sien: Dawid skryf:“ Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend” (Ps.139:1-3).

Jesus gebruik die geleentheid om ʼn groot waarheid te leer – sonde is eerstens nie ʼn oortreding van mens teenoor mens nie maar die mens teenoor God. Hy skei sonde en die daad.   Die daad kon gestraf word, sonde kan vergewe word.   Die beste voorbeeld hiervan is die misdadiger wat aan die kruis tot bekering gekom het. Sy daad is gestraf, maar sy sonde vergewe.   Jesus haal hom nie van die kruis af nie, maar wel sy naam van die boeke van die oordeel af waarvan Openbaring 20 praat. En die les? Misdaad word gestraf; sonde word vergewe!

Jesus kon geskryf het: “Moenie bekommerd wees nie, jy voel alreeds sleg genoeg oor jou oortreding; Ek sal jou maar vergewe”. Dit sou vergifnis goedkoop maak en makliker om weer te sondig. Jesus kon miskien iets soos: “Dis alles in orde; niemand kan in elk geval sondeloos leef nie!”geskryf het, Maar Hy het nie. Die verhaal eindig met die woorde: “ Gaan heen en sondig nie meer nie” (:11). Vergifnis eis ʼn skoon lewe.

As Jesus haar oortreding sonder enige oproep tot ʼn heilige lewe afgeskryf het, dan sou sy kruisdood onnodig wees want dan het ons nie genade benodig nie en sou almal voor die voet vryspraak ontvang en gered word. Nee, ons leef juis deur genade; skuldig, maar deur die bekering vergewe!

Met sy kruisdood het Jesus juis ons onvolmaaktheid met volmaaktheid vervang. En eers dan verstaan ons sy woorde in Mt.5:48: ”Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is”. Sonde kan ʼn gerieflike bos wees om agter te skuil: “Ek is maar so gemaak en so gelaat staan”. Wat dan van die oproep tot heiligmaking as deel van die vrug van die bekering?

Jesus sê: Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie” (Mt.7:16-18).

Wat leer ons uit die verhaal in Joh.8? Jesus skryf ook ons oortredinge in die sand. As dit op rots was, sou dit vir altyd wees en ons sondeskuld geen perke ken nie. Maar in die sand waai die wind dit toe asof dit nooit was nie. Ek glo dat Jesus hierdie vrou se oortreding in sand geskryf het. Hy het dit so geskryf dat dit toegewaai sou word.

En dis wat vryspraak is – in opregte berou, skryf Jesus ons sonde in die sand en laat dit toewaai. ʼn Kwaliteit wat los sand nie het nie, is dat dit nie vir lank vorm behou nie. Wind en water maak dit gelyk. En so werk dit ook met vergifnis. Die Wet van Moses was op klaptafels geskryf en dit was reg want dis riglyne vir die lewe. Wie tot bekering kom, ongeag hoe groot sy sonde was, se oortredings word op sand geskryf sodat Jesus dit kan toe vee.

Nou bly daar een groot vraag oor: Waarop skryf ek mense wat teenoor my oortree se oortreding neer? Op klip of op die sand? Op sand kan ek dit uitvee.“Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe” (Mt.18:21,22).

Om dit te demonstreer, vertel Jesus aan de einde van die hoofstuk die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser en die onderdaan wie se reuse skuld hy afskryf. Die man loop ʼn ander een raak wat hom min geskuld het en dreig hom: “Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het. En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie” (Mt.18:29-35).

Ons sukkel soms om oortreders se oortredinge op sand te skryf; eerder op klip. Nogtans verwag ons dat Jesus al ons oortredinge op sand moet skryf! Dit werk nie so nie!   Ons moet met oortredinge maak soos Jesus ons geleer het- om diegene wat teenoor ons oortree, se sonde op dieselfde manier te vergewe as wat ons van God verwag om ons s’n te vergewe. Dis immers die ooreenkoms in die Onse Vader. As ons nie kan vergewe nie, moet God ons ook nie vergewe nie!

Wat het toe met die vrou in Joh.8 gebeur? “En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het.En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh.8:9-11).

Om te vergewe beteken nie om verkeerde gedrag goed te keur nie, maar om die oortreder tot bekering aan te moedig soos ek glo met die vrou in Joh.8 gebeur het. Daarna het die kerklui druipstert en baie vies huiswaarts gekeer.

Kyk ʼn bietjie terug op jou lewenspad. Wat sien jy? Skoongeveë sand? Of staan daar iewers iets op klip uitgekrap? As daar regtig niks is nie, is God se genade groot oor jou. As daar tog iets is, moet jy dit onverwyld verwyder. Jy is niks beter as Jesus nie. Om te vergeef, is soos om ʼn gevangene vry te laat net om te ontdek dat hierdie gevangene jyself was!