Ds AE vd Berg
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf”(Rom.13:3,4)
Suid-Afrika steier onder ʼn vlaag van vreemdelingehaat. Mense neem die reg van geweld met barbaarse gevolge in eie hande. Hoe moet gelowiges teenoor vreemdelinge optree? God eis om goedgesind teenoor hulle te wees: “En as ʼn vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ʼn kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland.” (Lev.19:33,34). In sy Profetiese Rede sê Jesus: “... Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My herberg gegee” (Mt.25:35).
Gelowiges het geen probleem met vreemdelinge as sulks nie, maar wel met onwettiges. Die vreemdelinge waarvan die Bybel praat, is nie onwettiges nie. Hierdie onderskeid moet baie duidelik getrek word! Gelowiges mag nie anders teenoor wettige vreemdelinge as teenoor eie volksgenote optree nie. As hulle wettig daar is, moet hulle billik behandel word. Daarenteen moet onwettiges na hul eie lande terugkeer al moet die wet hard op hulle neerkom!
In Rom.13:1-7 eis God van gelowiges om hul landswette te gehoorsaam. Dis die grondslag vir vreedsame naasbestaan. Onwettiges verbreek die wet en is dus aan misdaad skuldig. Daarom gee God in Rom.13:1-7 aan die staat die reg om wetsoortreders te straf; ook met die doodstraf (swaardmag) waar nodig.
Om ʼn land onwettig te betree, is wetsverbreking en derhalwe sonde, ongeag hoe oortreders hulself probeer regverdig. Toe Paulus Rom.13 geskryf het, was hy ʼn Romeinse burger en aan die Ryk onderhorig met Nero as die keiser. Baie van die wette was boos. Nogtans eis Paulus van gelowiges om hul vir ʼn vreedsame samelewingsorde aan hul owerhede te onderwerp al stem hulle nie met alles saam nie. God is immers ʼn God van orde (1 Kor.14:40).
Alle ontwikkelde lande het immigrasiewette omdat onwettige immigrasie baie probleme veroorsaak. Onwettiges kom lande in om kwansuis ʼn beter lewe te voer; ander om beter vir hul gesinne te sorg of van armoede te ontsnap. Al klink die dryfvere goed, is en bly dit nie reg om ʼn land se wette daarvoor te verbreek nie.
Landsgrense is belangrik: “Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die Here jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie” (Deut.19:14). “Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê, en die hele volk moet sê: Amen” (Deut.27:17). “Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie” Spr.22:28).
Die Bybel verwys 169 keer na grense. God het dit ingestel omdat dit vir Hom belangrik is: “Toe die Allerhoogste aan die nasies ʼn erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel” (Deutr.32:8). Oral waar grense in die Bybel ter sprake kom, staan dit in die teken van ordelike gemeenskapslewe wat nie sonder duidelik grenslyne haalbaar is nie. Goeie grense maak goeie bure!
Gen.11 vertel die verhaal van hoe God verhoed het dat mense met die bou van ʼn toring in ʼn wêreld-koninkryk verenig het. Wat destyds in Babel verkeerd was, is nog steeds verkeerd. Nimrod was die eerste koning wat ʼn een-wêreldregering wou oprig. God het hul drome met ʼn spraakverwarring gefnuik.
Wie oop grense en onwettige immigrasie voorstaan, beywer hul vir Nimrod se een-wêreldregering. Daarvoor moet volksgevoelens afgebreek word; net wat Satan wil hê. Wat wil God hê? Afsonderlike volke en nasies. Die geskiedenis getuig herhaaldelik daarvan. Paulus praat by geleentheid met die mense van Athene wat op daardie stadium die grootste kosmopolitiese stad ter wêreld was: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy die voorafbepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek....” (Hand.17:26,27).
Die Bybel roep gelowiges op om na armes, weduwees en wese om te sien. Dis ook elke regering se heilige plig. Daarom word wetgewing in plek gestel om toe te sien dat dit geskied. Niemand het die reg om wette te verbreek nie. Wie na ʼn ander land verhuis, moet die immigrasiewette van daardie land eerbiedig al is dit ʼn lang proses. ʼn Frustrerende wet bly steeds beter as geen wet nie!
Vreemdelinge wat in oud-Israel was, moes die plaaslike wette gehoorsaam. Hulle was tydelik daar en het na verloop van tyd na hul eie lande teruggekeer. Die boek Rut vertel van Naomi wat met haar gesin weens hongersnood na Moab vertrek en later net met haar skoondogter teruggekeer het.
Lev.19:33 eis van gelowiges om vreemdelinge soos volksgenote te behandel. Dit geld beslis nie vir onwettiges nie! Let op Israel se verblyf in Egipte. Hulle was nie onwettiges nie, maar vreemdelinge wat genooi is om hulle daar te vestig en is eers later deur vyandige koningshuise onderdruk.
Wettige vreemdelinge kon later burgers word indien hulle die wette gehoorsaam en hul met Israel se doen en late vereenselwiging het. Die wette was op alle vreemdelinge van toepassing en amnestie nie voor die voet verleen nie.
Onwettige vreemdelinge is oral ter wêreld in onguns. In Deutr.28 waarsku God Israel teen geestelike afvalligheid en waarsku dat Hy vreemdelinge as tugroede teen hul gaan gebruik: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër teen jou opklim; en jy sal laer en laer afsak; hy sal die kop en jy die stert wees”(:43,44).
Onwettige verblyf het altyd ongunstige gevolge – werkloosheid neem toe, wettige burgers word beter inkomste ontneem omdat onwettiges vir laer lone werk. Daarbenewens plaas hulle ook druk op natuurlike hulpbronne.
Onwettiges laat misdaad toeneem. In Amerika is 25% van die tronkbevolking onwettiges. In ons land het die misdaadsyfer in die vyf jaar van Mandela se regeringmet 717 % gestyg, grootliks weens die invloei van onwettiges!
Dis ons Christelike plig om onwettige instroming te keer. God het vir ons ʼn land gegee om op te pas. As Suid-Afrika nie ʼn einde aan instroming gaan maak nie, maak instroming dit ʼn einde aan die land!
Wetgewing wat op die Bybel geskoei is, maak dit vir gelowige burgers maklik om die regte dinge te doen, maar nie vir onwettiges nie. Dade wat in stryd met die Bybel is, kan nooit goed wees nie.
Onwettiges is nie soos oud-Israel genooi nie en derhalwe nie gaste nie. Hulle is nie bloot vreemdelinge nie maar betreders (trespassers) en moet na hul eie land ``te kom. Onwettiges wil egter nie in die ry staan nie; hulle spring bo oor. En daaroor het die Bybel geen goeie woord nie!
Voorregte waarvoor hard gewerk is, kan nie met mense gedeel word wat geen voordeel vir die land inhou nie. Dis verfynde roof! Dink aan die Gelykenis van die Talente. Net parasiete het deel aan iets waarvoor hul nie gewerk het nie.
Dis tragies om die son oor ons eens voorspoedige land te sien sak. Daar is egter `niks met Suid-Afrika verkeerd wat nie met dit wat reg is gesond gemaak kan word nie. Mag God in genade op ons neersien en die lug in ons ontwrigte land so skoon maak dat al wat booswig is, nie langer daarin sal kan asem haal nie!
`